Verbruikersake: Verstaan jou mediese fonds se chroniese siektevoordeel

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

As jy aan ʼn chroniese siekte ly en gelukkig genoeg is om aan ʼn mediese fonds te behoort, maak dit die lewe seker ʼn bietjie makliker? ʼn Mens hoop so, maar een van ons lesers het laat weet dat hy heeltemal deurmekaar is met die wyse waarop sy fonds die behandeling vir sy chroniese siekte bestuur. Ina Opperman het gaan kyk wat die Raad op Mediese Skemas (RMS) se bepalings daaroor is.

Mediese behandeling is ʼn ingewikkelde wetenskap en die behandeling van chroniese toestande kan ook baie ingewikkeld wees. Die feit dat een leser kla dat hy nie verstaan nie, beteken daar is nog talle ander verbruikers wat maar van maand tot maand swoeg en sweet om hul mediese rekeninge betaal te kry.

Volgens die raad vir mediese fondse moet jou mediese fonds tans dekking verskaf vir sekere chroniese toestande bykomend tot jou bestaande voordele. Die Wet op Mediese Skemas verplig jou fonds om sekere siektetoestande te dek en is by die wet gevoeg om seker te maak dat lede se voordele nie opraak en hulle dan gedwing word om na staatshospitale te gaan nie.

Voorgeskrewe Minimum Voordele

Volgens die wet moet jou mediese fonds dekking verskaf vir sekere mediese toestande, wat Voorgeskrewe Minimum Voordele (VMV) genoem word.

VMV is by die wet ingesluit om te verseker dat lede van mediese fondse se voordele vir sekere siektetoestande nie opraak nie. Dit dek amper 300 toestande, soos meningitis, verskillende soorte kanker, menopouse, hartsiektes en baie ander, insluitende mediese noodgevalle.

Mediese skemas het aanvanklik minimum voordele verskaf, maar dit het al hoe minder geraak totdat die Wet op Mediese Skemas in 1998 ingestel is om groter beskerming vir verbruikers te bied.

Hierdie voordeel word hoofsaaklik in hospitale verskaf of waar jou fonds reëlings getref het om jou te behandel. Die meeste fondse betaal vir behandeling in private hospitale, maar hulle behoort reëlings te tref met hospitale of hospitaalgroepe om hul lede te behandel en dit moet aangedui word in die fondsreëls en daarom is dit belangrik om te weet wat die reëls dek.

Die lys van VMV is ook uitgebrei om dekking te verleen vir 25 algemene toestande. Jou mediese fonds moet voordele bied wat dekking verleen vir die diagnose en behandeling van hierdie 25 toestande, maar hoef nie te betaal vir die diagnostiese toetse en behandeling om te bepaal dat jou siekte nie een van die 25 chroniese siektes is nie.

Die 25 toestande is gelys as VMV en mediese fondse word verplig om daarvoor te betaal om te keer dat fondse lede takseer op die finansiële risiko wat hulle gesondheid inhou. Die toestande wat gedek word is:

  • Asma
  • Addison-siekte
  • Brongiëktase
  • Bipolêre gemoedsversteurings
  • Chroniese obstruktiewe longsiekte (emfiseem)
  • Chroniese niersiekte
  • Crohn-siekte
  • Hartversaking
  • Kardiomiopatie
  • Kroonslagaarsiekte
  • Diabetes 1
  • Diabetes 2
  • Disritmie (onreëlmatige hartklop)
  • Epilepsie
  • Gloukoom
  • Hemofilie
  • Hipertensie (hoë bloeddruk)
  • Hiperlipidemie (hoë cholesterol)
  • MIV en VIGS
  • Hipotiroïdisme
  • Veelvuldige sklerose
  • Parkinson-siekte
  • Rumatoïede artritis
  • Skisofrenie
  • Sistemiese lupus eritematose
  • Ulseratiewe kolitis.

Hierdie lys is saamgestel om die mees algemene siektes te dek wat dood kan veroorsaak en waarvoor behandeling jou lewensgehalte kan verbeter.

Ander reëls oor VMV

Wanneer dit kom by VMV, kan jou mediese fonds:

  • Net betaal vir behandeling volgens die geskikte protokol.
  • Net betaal vir medisyne wat gelys is vir jou toestand.
  • ʼn Maksimum bedrag vasstel vir medisyne vir jou chroniese toestand, maar as jou medisyne die bedrag oorskry, moet die fonds aanhou betaal.

Maar jou mediese fonds mag nie:

  • Jou mediese spaarrekening gebruik om vir VMV te betaal nie.
  • Van jou vereis om ʼn bybetaling te maak op VMV nie.

Kla hier:

Jy kan kla oor jou mediese fonds by die Raad op Mediese Skemas. Besoek die webtuiste by www.medicalschemes.co.za om ʼn klagte in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.