Verbruikersake: Vinnig geld maak of vinnig geld verloor?

geld-munte-in-bottel

Foto: Michael Longmire/Unsplash.com

In moeilike ekonomiese tye soos wat ons tans beleef, wil mense graag hul inkomste aanvul en daarom val hulle maklik vir allerhande geldmaakskemas wat eerstens onwettig is en tweedens geskep is om hulle van hul swaarverdiende geld te beroof. Verbruikers loop hulle altyd vas in allerhande skelmstreke, van sogenaamde beleggings tot die nuutste gier, stokvelle wat op WhatsApp lede werf. Ina Opperman gee raad oor hoe om hierdie duur slaggate te vermy.

Almal van ons wil graag ons neseier of besteebare inkomste vinniger laat groei en die skelms weet dit. Dit is egter uiters belangrik om nie vir hierdie skelmstreke te val nie en die “tongtippietoets” is gewoonlik die antwoorde op hierdie vrae:

  • Word jy genooi om te belê in ’n produk wat deur ’n geregistreerde maatskappy aangebied word?
  • Dra hierdie produk die goedkeuring van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Gofs) weg of het Gofs verbruikers al gewaarsku daarteen?
  • Word die produk deur ’n geregistreerde makelaar verkoop?
  • Word die produk aangebied deur iemand op Facebook of WhatsApp?
  • Word al jou vrae oor die produk bevredigend beantwoord?
  • Het die verkoper ’n probleem daarmee dat jy eers met jou bankbestuurder of enige ander kundiges wil praat?

Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko Inligtingsentrum (Sabric) is die Reserwebank voortdurend besig om ondersoek in te stel na geldmaakskemas, wat bewys hoe maklik mense vir hierdie skemas se beloftes van vinnige groei en rykdom val.

Dis hoe die lokaas lyk

Beleggers word gelok met waarborge van groot winste en geen of min finansiële risiko. Min inligting is egter (gewoonlik) beskikbaar oor waar presies jou swaarverdiende spaargeld belê gaan word, maar soms klink die geleentheid heel eg. Wanneer jy egter begin navraag doen oor die beleggingsgeleentheid of produk, praat die verkoper jou dood met stories oor hoeveel geld jy kan maak.

Aan die begin geskied die uitbetaling van jou rente of stokvel klokslag, maar die betalings raak minder totdat dit heeltemal stop. Die aanvanklike uitbetalings is net daarop gerig om jou aan te moedig om vir almal wat jy ken van die goeie beleggingsgeleentheid te vertel sodat hulle ook kan inspring.

Oppas!

Enige van die volgende moet die rooi ligte laat flikker voordat jy jou swaarverdiende geld oorbetaal:

  • Die produk is nie geregistreer nie;
  • Die produk word aangebied deur iemand wat nie ’n geregistreerde verskaffer van finansiële dienste is nie;
  • Jy kan nie verstaan hoe die rente verdien word nie;
  • Die belegger belowe dubbelsyferwinste;
  • Die belegging word verkoop as “die kans van ’n leeftyd”;
  • Jy kan meer rente verdien as jy nog mense werf om te belê; of
  • As jy nie dadelik belê nie, gaan jy jou kans verloor om goeie rente te verdien.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Volgens artikel 42 en 43 van die Wet, wat handel oor bedrieglike skemas en aanbiedinge en piramide- en soortgelyke skemas, mag niemand hierdie skemas bedryf nie en is dit dus onwettig.

Artikel 42

Artikel 42 bepaal dat niemand ’n bedrieglike skema mag begin, borg, bevorder of wetend aan die verspreiding van inligting daaroor deelneem nie. Mense mag nie direk of indirek ’n bedrieglike geldeenheidskema, bedrieglike finansiële transaksie, bedrieglike oordrag van eiendom of wettige regte, of enige ander skema wat die minister van handel en nywerheid as sodanig verklaar het, bevorder, of wetend daarby aansluit, inskryf of daaraan deelneem nie, of iemand anders aanmoedig om dit doen nie.

Niemand mag ook voorgee om geld te “maak” of te vermeerder deur papier in iets te was of te doop of dit aan ’n elektriese stroom bloot te stel nie. Mense mag ook nie voorgee dat hulle geld kan vermeerder deur middel van toordery nie. ’n Ooreenkoms, praktyk of skema is bedrieglik indien dit verband hou met enige opbrengs van ’n gespesifiseerde onwettige aktiwiteit of bedoel is om iemand anders te bedrieg.

Artikel 43

Volgens artikel 43, wat verskeie bepalings oor piramide- en soortgelyke skemas vervat, mag niemand ’n vermenigvuldigingskema, piramideskema, kettingbriefskema of enige ander skema wat die minister as sodanig verklaar, bedryf nie.

’n Vermenigvuldigingskema is ’n skema wat jaarlikse rente van minstens 20% bo die repokoers bied.

’n Piramideskema is ’n reëling, ooreenkoms, praktyk of skema waar deelnemers vergoeding ontvang wat hoofsaaklik kom van mense wat hulle gewerf het om deel te neem eerder as die verkoop van goedere of dienste.

’n Kettingbriefskema het verskeie vlakke van deelname en bestaande deelnemers soek en werf nuwe deelnemers, wat by aansluiting ’n bedrag moet betaal wat onder een of meer van die bestaande deelnemers verdeel word, terwyl bestaande deelnemers na ’n hoër vlak beweeg.

Onthou

  • As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik.
  • Vra ’n geregistreerde finansiële adviseur om die beleggingsgeleentheid na te gaan en te kyk of dit ’n wettige skema is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Daar is nie n vinnige manier om geld te maak nie, almal sou dit dan doen, onthou altyd hoe groter die opbrengs, hoe groter die risiko, Indien opbrengs baie hoer is as handelsbanke se gemiddelde beleggings koerse moet die gevaarligte onmiddelik begin flikker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.