Verbruikersake: Vloede en jou versekering

ʼn Lugfoto van die ʼn woonstelblok by Umdloti se noordelike strand wat op 14 April tydens die vloede in KwaZulu-Natal vernietig is. Honderde mense is dood toe die swaarste reënval in dekades huise weggevee het en infrastruktuur in KwaZulu-Natal vernietig het. (Foto: Marco Longari / AFP)

Verbruikers het die afgelope week met skok toegekyk hoeveel skade storms in KwaZulu-Natal aangerig het. Dit het baie mense laat wonder oor hul huiseienaarsversekering en as jou kombuis halflyf vol modder is, sal jy beslis agterkom hoe belangrik dit is om hierdie soort versekering uit te neem. Ina Opperman verduidelik hoe huiseienaarsversekering werk en wanneer jy ook spesiale huiseienaarsversekering moet oorweeg.

Suid-Afrika het nog nooit so ʼn groot vloedramp beleef nie, hoewel ons ʼn paar jaar gelede gesien het wat vuur kan doen toe ʼn brand ʼn groot deel van Knysna verswelg het. Rampe kan jou binne ʼn oogwink van alles ontneem waarvoor jy jare lank gewerk het en indien jy nie huiseienaarsversekering uitgeneem het nie, gaan jy nooit die skade oorkom nie.

Versekering teen vloedskade

Volgens die versekeringswebwerf Hippo is daar ook spesiale soorte versekering wat jy moet oorweeg en vloede is een daarvan. Vloede kan onverwags gebeur, veral as jy in ʼn gebied bly wat maklik onder blitsvloede gebuk gaan. Dit is dus baie belangrik om te sorg dat jou huiseienaarsversekering wel vloedskade dek.

Indien jou polis nie vloedskade dek nie, moet jy met jou versekeraar praat om seker te maak dit word ingesluit. Vloede word beskou as ʼn natuurramp en indien jy verseker is, kan jy dus eis vir alles wat in ʼn vloed beskadig word.

Versekering teen brandskade vir grasdakhuise

Baie huiseienaarsversekeringspolisse maak ook nie voorsiening vir brandskade aan grasdakhuise nie en sommige versekeraars bied dit aan teen bykomende koste, aangesien ʼn grasdak as ʼn hoë risiko beskou word.

Grasdakke is dalk meer organies, maar dit kan baie maklik vlam vat en die vuur kan vinnig versprei. As jy ʼn grasdakhuis het, is dit dus belangrik om te sorg dat brandskade gedek word.

Versekering vir jou onbewoonde huis

Nog ʼn spesiale soort versekering is vir huise waarin niemand vir ʼn tyd lank bly nie. Dit is deesdae veral belangrik met verbruikers wat van die huis af werk en dus verkies om vir ʼn ruk elders te gaan bly.

In so ʼn geval is dit belangrik dat jou versekeraar weet dat jy vir lang tye nie in jou huis bly nie. Vra vir hoeveel dae jy jou huis onbewoon kan laat voordat jy spesiale versekering daarvoor moet uitneem. Doen jy dit nie, kan jou versekeraar weier om skade te dek wat gebeur het toe jy nie tuis was nie.

Versekering vir jou vakansiehuis

Dieselfde geld vir jou vakansiehuis, soos baie mense nou gedurende die vloede gesien het op plekke waar 60% van die huise vakansiehuise is en nie voltyds bewoon word nie. Dit dek ten minste die struktuur van die huis en as jou huis wegspoel of afbrand, is jy minstens vir hierdie skade gedek.

Volgens Hippo kan jy jou vakansiehuis by jou woonhuis se polis insluit, maar skade aan die inhoud word nie gedek nie en jy sal die inhoud apart moet verseker.

Huiseienaarsversekering

As jy huiseienaarsversekering het en jou huis word in ʼn storm beskadig, word herstelwerk gouer gedoen en jy hoef nie eers die geld bymekaar te skraap om daarvoor te betaal nie. Sorg ook dat jy nooddekkingsversekering het sodat die versekeraar noodherstelwerk kan doen om te verseker jou huis word nie verder beskadig nie.

Indien jy jou huis moet ontruim omdat dit onbewoonbaar is weens storm‑ of brandskade, betaal jou versekering vir ander blyplek totdat jou huis herstel is.

Wenke om huiseienaarsversekering te kies

  • Besluit vooraf wat jy alles gedek wil hê.
  • Vra ʼn paar versekeraars vir ʼn kwotasie voordat jy besluit, maar maak seker jy vergelyk appels met appels – al die kwotasies moet dieselfde voordele vir dieselfde risiko bied.
  • Onthou ook dat vervangingskoste van huis tot huis verskil. As jy ʼn duur kombuis laat inbou het, moet jy seker maak dit is so op jou polis aangedui. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jou versekering voldoende is.

Wat word gedek?

  • Brande, ontploffings en aardbewings.
  • Natuurrampe, byvoorbeeld skade veroorsaak deur wind, donderweer, weerlig, storms, hael, vloede of sneeu.
  • Waterpype wat bars.
  • Diefstal
  • Kragstuwings
  • Iets wat in jou huis vasry of daarop val en skade veroorsaak.
  • Skade wat per ongeluk veroorsaak word.
  • Veranderings en verbeterings.
  • Heffings vir die brandweer om ʼn brand te blus.
  • Tydelike verblyf.
  • Aanspreeklikheid teenoor ander partye.

Uitsluitings

Wees ook baie versigtig vir alles wat in die polis uitgesluit word, byvoorbeeld:

  • Skade veroorsaak deur swak onderhoud.
  • Enige skade wat nie skielik en onvoorsien gebeur nie.
  • Skade wat deur jou troeteldiere veroorsaak word, soos krapmerke.
  • Skade wat veroorsaak word deur plantegroei, soos boomwortels wat die plaveisel oplig.

Waar kan mens kla oor huiseienaarsversekering?

Kla oor korttermynverskering by die ombudsman vir korttermynversekering. Besoek die webtuiste by www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.