Verbruikersake: Vrot diens steek verbruikers dwars in die krop

verkope-diens-aankope

Foto: Square/Unsplash.com

Suid-Afrikaanse verbruikers was nog nooit heeltemal tevrede met die diens wat hulle ontvang wanneer hulle hul swaarverdiende rande uitgee nie. Ten spyte van beter regulering van verbruikerstransaksies, is diens steeds die aspek van koop wat verbruikers die meeste dwars in die krop steek. Ina Opperman het gaan hoor wat die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste sê oor klagtes oor swak diens.

Die ombudsman se kantoor het ook agtergekom dat verbruikers omtrent die meeste kla oor swak diens, ook wanneer hulle oor ander kwessies kla. Dit is ook duidelik as mens kyk na die aantal klagtes wat die kantoor in die eerste kwartaal van 2019 ontvang het. Die kantoor het in hierdie tydperk 2 191 klagtes ontvang, wat 47% meer is as die 1 495 in dieselfde tydperk verlede jaar. Klagtes oor die gehalte van diens was boaan die lys met 32%.

Die klagtes het hoofsaaklik gehandel oor diens wat nie op peil was nie of wat nie betyds of soos beloof gelewer is nie, boetes wat gehef is vir kansellasie, bedrae wat te veel betaal is en weiering om klagtes op te los of geld terug te betaal.

Dit was veral die bedrywe wat verband hou met troues, motorhuur, begrafnisse, opknapping, trek, vervoer, verblyf, aanlynbestellings en skoonheidsbehandelings wat vir die klagtes gesorg het.

Die Ombudsman vir die Motorbedryf het ook tydens die bekendstelling van sy jaarverslag daarop gewys dat die meeste klagtes in sy bedryf ontstaan weens swak diens. In 2018 het 27,76% van die klagtes wat hy ontvang het, te doen gehad met swak diens.

Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 54 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat verbruikers, wat ’n kontrak sluit met ’n diensverskaffer, geregtig is op:

  • Dienste wat betyds gelewer en voltooi word;
  • Genoeg vooraf-waarskuwing indien daar vertragings gaan wees om die diens te lewer;
  • Diens van hoë gehalte wat verbruikers kan verwag; en
  • Gebruik, aflewering of installering van goedere wat geen defekte het nie, van ’n gehalte wat mens oor die algemeen kan verwag, indien dit nodig is om die diens te lewer.

Verskaffers wat nie dienste kan lewer soos artikel 54 bepaal nie, moet enige defekte in die gehalte van die goedere of dienste wat gelewer is, regstel, of die verbruiker se geld teruggee.

“Artikel 54 gee ’n goeie aanduiding vir diensverskaffers oor hoe om ’n goeie verhouding met klante en goeie diens te handhaaf. Dit word basies van verskaffers verwag om hul beloftes na te kom en hul klante te laat weet as die diens nie gelewer kan word soos hulle belowe het nie.

“Hulle moet ook sorg dat verbruikers weet wat die voorwaardes en bepalings oor kansellasies is en die boetes wat daarmee verband hou, wanneer terugbetalings gedoen sal word en watter prosedures verbruikers hieroor moet volg en binne watter tydperk. Verbruikers moet al hierdie inligting kry in ’n taal wat hulle verstaan, sonder enige kleinskrif of regsterme,” sê Magauta Mphahlele, die ombudsman.

Sy raai verbruikers aan om op hul hoede te wees wanneer hulle dienskontrakte teken. Haar raad is:

  • Kyk na die tyd wat jy het om die kontrak te kanselleer, of jy ’n boete sal moet betaal vir kansellasie, wanneer aflewering geskied en wat die prosedure is wat jy moet volg indien jy iets wil teruggee of omruil; en
  • Maak seker dat jy die diensverskaffer kan vertrou voordat jy ’n deposito betaal. Kyk na die verskaffer se agtergrond en betaal liewer wanneer fases van die diens voltooi word as om die hele bedrag vooraf te betaal.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by www.cgso.org.za, of jy kan die oproepsentrum bel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KrokodilBotha ·

Ek kry swak diens van die musipaliteit, nee wag dis eintlik enige staat instansie is die diens ……… watse diens?

Andreas ·

Diens is ook nou al oral getransformeer, ‘alle diens, selle diens’.

Neewat ·

En verder kerm en kla Suid-Afrikaners baie keer oor belaglike goed. Stel hemelhoë eise, wil alles verniet hê, en vir niks betaal nie! Wanneer die werk voltooi is en volgens standaarde, dan weier hulle om jou klaar te betaal. Moeg om altyd te hoor van die kerm kla verbruikers, wat baie keer jy en jou werkers as klein besigheid se lewe hel maak. Dalk moet daar ook ‘n helloconsumer gestig word, waar klante wat onredelik is, jou vloek, fisies dreig en jou dan nie betaal nie, se name ook aan die groot klok gehang word. Suid-Afrikaanse verbruikers is beslis nie onskuldig nie, en is van die slegste betalers wat ek al kon kry. Daar is altyd meer aan ‘n storie.

sweis ·

Diens het baie agteruitgegaan maar dit hang af wie in beheer is die 24 ste laan Total in Pretoria moot het puik diens en altyd netjies want die persoon in beheer glo nog aan kliënte diens en tevredenheid en dit is die grootste rede waarom ek hulle ondersteun.

Pedro Breetzke ·

Ek is n Suid Afrikaanse verbruiker en betaal sodra werk afgehandel is. Wees meer spesifiek en noem name van die wat nie wil betaal nie. Begin om name aan die groot klok te hang.Moet nie almal oor dieselde kam skeer nie. Gee sommer jou besigheid se naam asook jou van. Groete

Lina du toit ·

Vrot diens maak dat ek my goeie opvoeding met n glimlag vergeet….

Wielspore ·

Uit eie ervaring en raad wat Ina Opperman al vir baie jare deel met verbruikers het ek gevind dat ‘n redelike versoek gewoonlik nie geweier word en ‘n ingeligte verbruiker nie toelaat dat daar op sy tone getrap word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.