Verbruikersake: Waarskuwings oor te veel geld uitgee op Swart Vrydag

(Foto: Artem Beliaikin/Unsplash)

Die bemarkingsmasjiene vir Swart Vrydag is nou omtrent gerat vir Swart Vrydag. Waar jy ook al gaan, word mens oorval met advertensies vir Swart Vrydag-winskopies. Al word verbruikers dikwels gewaarsku om nie te veel geld uit te gee op Swart Vrydag nie, wys navorsing wat deur Debt Rescue gedoen is, dat verbruikers hulle maar doof hou vir hierdie waarskuwings. Ina Opperman verduidelik waarom Swart Vrydag en jou geldgedrag so belangrik is.

Volgens dié navorsing het byna 70% van die deelnemers aan die opname aangedui dat hulle planne het om geld uit te gee op Swart Vrydag se winskopies, al het 66% van hulle aangedui dat hulle afgelê is of moes sien hoe hul salarisse weens Covid-19 gesny word. Net 18% het verklaar hulle gaan beslis nie deelneem aan Swart Vrydag nie en het geen planne om deel te neem nie, terwyl 25% nog nie daaroor besluit het nie.

Swart Vrydag kon nie op ’n slegter tyd vir verbruikers, wat alreeds verdrink in skuld, gekom het nie, met 85% van die deelnemers wat sê hul geldsake is direk geraak deur Covid-19.

Die Covid-pandemie het ’n baie negatiewe invloed op verbruikers se inkomste gehad. Die harde werklikheid is dat ’n groot aantal huishoudings amper tien maande ná verminderde ekonomiese aktiwiteit in al die ekonomiese sektore hul spaargeld opgebruik het en nou ’n groot skuldlas moet dra.

Die sielkundige uitwerking van Covid-19 beteken egter dat verbruikers nou op soek is na iets om hulle op te beur en wat is dan nou beter as bietjie koopterapie? Ons bestedingsgeskiedenis wys ook dat die meeste Suid-Afrikaners hou van koopterapie, selfs wanneer hulle nie daarvoor kan betaal nie.

Wat gaan hulle koop op Swart Vrydag?

’n Hele 22,9% van diegene wat gesê het hulle sal geld uitgee op Swart Vrydag, dink hulle gaan huishoudelike dinge koop, soos toiletware, stapelvoedsel en skoonmaakprodukte, gevolg deur klere, en toestelle (19% elk), terwyl 11% elektroniese toestelle soos ’n TV, skootrekenaar of tablet wil koop.

Is Swart Vrydag net ’n foefie?

Baie van die winskopies is niks meer as sogenaamde bait-and-switch geleenthede as wat dit werklike goedkoop winskopies is. Kleinhandelaars bied korting op ’n handjievol goed om die indruk te skep dat alles teen die laagste moontlike pryse verkoop word, maar die feite wys iets heeltemal anders.

Het Suid-Afrikaanse verbruikers baie skuld?

Ja. Dit is kommerwekkend dat die Nasionale Kredietreguleerder aandui dat byna die helfte van alle verbruikers agter geraak het met hul betalings vir drie of meer maande, veral omdat hulle nie hul krediet- of winkelkaarte betaal het nie. Persoonlike lenings is kort op die hakke van kaartskuld.

Dit help ook nie dat Covid-19 nog ’n aansporing vir bemarkers geskep het wat al klaar met stadige ekonomiese groei sukkel nie. Hulle werp nou alles in die stryd om verbruikers te lok hierdie feesseisoen. Debt Sure se opname wys ook dat verbruikers selfs nou sal kyk of hulle nog krediet kan kry.

Oppas

As jy werkloos is of afhanklik is van ’n verminderde inkomste, of moet leen om te bestee, is die kanse groot dat jy later dubbel en dwars hiervoor gaan betaal. Volgens Roets het 23% meer verbruikers as verlede jaar aansoek gedoen vir skuldberading.

Waaraan moet jy dink wanneer jy op Swart Vrydag inkopies doen?

Vra jouself die volgende vrae voordat jy Vrydag die winkels stormloop om te koop:

  • Kan ek dit bekostig?
  • Het ek dit nodig?
  • Gee ek geld uit wat ek nie het nie?
  • Het ek pryse vergelyk voordat ek koop?
  • Kon ek hierdie geld gebruik het om skuld af te betaal?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AndréS ·

Hierdie is net nog ñ manier om verbruikers te melk. Baie min goedere is werklik goedkoper
Ek bly vêr weg vd doodtrap malligheid

Annelize ·

Presies. Daar is maar bitter min wat werklik goedkoop is. Verbruikers moet hulle oe begin oopmaak en hulle verstand begin gebruik.

Goedere se pryse word stelselmatig opgesit in aanloop tot Black Friday. Kom Black Friday dink mense hulle slaan vreeslike “bargains”, maar as jy gaan kyk is die enigste ene wat munt slaan, die handelaar.

Ek het nog nooit, en ek sal ook nooit winkels besoek tydens Black Friday nie. Die gierige ongeskiktheid van mense is ‘n skande, en sal maak dat ek iets onverantwoordelik kwytraak of doen.

Androclus ·

Ja nee wat as jy reg die pryse uitwerk dan kom op +- dieselfde prys uit dis ek steur my nie daaraan nie.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Soms moet jy iets koop op ‘n dag soos die. Ek stuur my gestremde vrou in, want ek het nie geduld nie. Sy kry voorkeur of sy sit ‘n keel op… Dis nou ‘n eend van ‘n ander kleur!

Jan ·

Mense is skape….. Ek boikot al black friday vanaf sy begin. Dis ingevoerde twak van amerika om hulle consumerism agenda te bevorder en mense meer slawe van skuld en die sisteem te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.