Verbruikersake: Wanneer bouwerk brouwerk word

huis-bou-bouwerk

Foto: Judemac/Pixabay.com

Huisverbeterings kan benewens jou huis en motor een van die grootste uitgawes wees wat jy ooit sal aangaan en daarom behoort verbruikers lig te loop wanneer hulle werk aan hul huise laat doen. Mens kan met ’n hele paar duisend rand ingeloop word as die werk nie behoorlik gedoen word nie of as die kontrakteur nie die werk voltooi nie en bloot net met jou geld verdwyn. Ina Opperman verduidelik hoe jy die meeste bou- en huisverbeteringslaggate kan vermy.

’n Verbruiker het onlangs gekla dat hy ‘n afdak laat opsit het wat, nadat dit voltooi is, gelek het toe dit gereën het. Die kontrakteur het die dak kom herstel, maar dit lek steeds nadat die kontrakteur dit nog ’n keer kom regmaak het. Die verbruiker het klaar vir die werk betaal sonder om te weet die afdak gaan lek en nou sit hy met ’n nuwe dak wat soos ’n laslappie herstel moet word en baie onderhoud in die toekoms gaan vereis om waterdig te bly.

Verbruikers begewe hulself dikwels in ’n bykans onoplosbare situasie wanneer hulle kontrakteurs aanstel om huisverbeterings te doen. Hulle teken kontrakte met die vae geloof dat daar iemand sal wees by wie hulle kan kla wat sal sorg dat hulle al hul geld terugkry as die verbeterings swak gedoen is of glad nie gedoen word nie.

Terwyl dit goed is om te glo dat jou regte as verbruiker beskerm word, is dit ongelukkig nie so eenvoudig nie. Jou regte word nie soos dié van mense wat ’n splinternuwe huis bou deur die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers beskerm nie, maar wel deur die Wet op Verbruikersbeskerming, wat in die algemeen voorsiening maak vir verbruikersbeskerming en nie net vir verbruikers wat huisverbeterings laat doen nie.

Die NHBRC

As jy ’n nuwe huis laat bou, is die nasionale registrasieraad van huisbouers (NHBRC), wat gestig is ingevolge die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers, die antwoord. Die NHBRC is ingestel om die belange van behuisingsverbruikers te beskerm en voldoening aan die gereguleerde boubedryfstandaarde te verseker.

Hierdie wet vereis dat alle bouers wat nuwe huise bou, by die raad moet registreer. Die raad sertifiseer bouers wat voldoen aan die bedryfsvereistes vir tegniese-, konstruksie- en finansiële vaardighede.

Die NHBRC kan niks vir die verbruiker wat oor sy lekkende afdak kla, doen nie, aangesien dit nie deel vorm van bouwerk aan ’n nuwe huis nie.

 Meesterbouerverenigings

Meesterbouerverenigings kan ook help om jou regte te beskerm, maar lidmaatskap is vrywillig. Kontrakteurs word dus nie deur wetgewing gedwing om by die verenigings te registreer nie. Lede wat verbruikers inloop, word gedissiplineer deur hulle te skors of beboet. Tensy die kontrakteur wat die afdak opgerig het, ’n lid is, kan die vereniging nie help nie.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Verbruikers is dus aangewese op die Wet op Verbruikersbeskerming wanneer hulle kontrakteurs gebruik vir huisverbeterings. Die kontrak wat jy teken met die kontrakteur, is die beginpunt van die werk en dikwels ook die probleme wat daarop kan volg. Dit is dus baie belangrik om te let op die bepalings van die wet wat betrekking het op die ooreenkoms self.

Artikels 48 en 49 bepaal die kontrakteur mag nie ʼn onregverdige prys vra of voorwaardes insluit wat onregverdig, onbillik of onredelik is nie. ʼn Prys is egter nie noodwendig onredelik omdat dit hoër is as die prys wat iemand anders vra nie. Die ooreenkoms moet in gewone en verstaanbare taal wees en geen fynskrif word toegelaat nie.

Die kontrakteur mag ook vra dat jy ʼn ooreenkoms onderteken waarin:

  • jy nie jou regte ingevolge die Wet opgee nie;
  • jy hom vrystel van enige verantwoordelikheid vir jou en jou familie en vriende se skade, dood of beserings. Die verbruiker kan dus eis vir enige skade wat hy kan bewys wat deur die lekkende afdak veroorsaak is;
  • hy nie sy aanspreeklikheid beperk nie. Hy is verantwoordelik vir die swak werk wat sy werkers gedoen het toe hulle die afdak opgerig het en die herstelwerk gedoen het;
  • voorwaardes is wat nie onredelik, onregverdig en onbillik is nie. Regulasie 44 van die Wet bevat al die onwettige voorwaardes;
  • jou wettige regte tot billike vergoeding nie beperk of verwyder word nie, wat jou reg insluit om betaling te weerhou indien jy ʼn eis teen die kontrakteur het. As die verbruiker nie ten volle betaal het vir die bou van die afdak nie, sou hy kon eis dat die afdak herstel word voordat hy die volle bedrag betaal;
  • die tydperk waarin jy kan kla voordat die klagte verval, nie verkort word nie. Verbruikersklagtes verjaar eers ná drie jaar, dus kan die verbruiker nog oor die werk kla;
  • jy nie gedwing word om verantwoordelikheid te aanvaar vir materiaal van swak gehalte nie, tensy jy dit self koop. Die kontrakteur kan dus nie nou beweer dat hy slegte materiaal gebruik het wat nou veroorsaak het dat die afdak lek nie, tensy die verbruiker self die materiaal gaan koop het; en
  • die kontrakteur kan kanselleer net wanneer hy wil, maar jy nie dieselfde reg het nie.

Die Wet bepaal ook die kontrakteur mag nie die voorwaardes van die ooreenkoms of die aard van die materiaal wat hy gebruik verander sonder om jou eers die keuse te gee om die ooreenkoms te kanselleer nie. Hy mag ook nie op sy eie besluit of die materiaal wat hy gebruik en die werk wat gedoen is, aan die ooreenkoms voldoen nie.

Die Wet beskerm die verbruiker ook waar dit in artikel 54 bepaal die kontrakteur moet werk van goeie gehalte doen en materiaal gebruik wat nie defekte het nie. Die verbruiker kan dus van die kontrakteur verwag om enige probleme reg te maak of hom ʼn billike gedeelte van die geld wat hy betaal het, terug te gee volgens artikel 56, wat bepaal dat daar ʼn versweë waarborg is dat die werk aan artikel 55 voldoen.

Hierdie verbruiker word ook beskerm deur artikel 57, wat bepaal dat herstelwerk gewaarborg word. Elke nuwe of herboude onderdeel wat gedurende herstel- of onderhoudswerk geïnstalleer word, sowel as die arbeid, word vir drie maande nadat die werk gedoen is, of selfs langer indien jy en die hersteller skriftelik daaroor ooreenkom, gewaarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

DA BO ·

Die nhbrc is net soos alle regerings foefies wat hulle uitdink n geldmaak storie. Ons het nou net klaar gebou en nou weet ons dat ons die stewige fooi wat hulle vra maar kon gelos het. Gaan google dit en wees verbaas. Hulle maak miljoene jaarliks en doen sweet blow all niks vir die huiseienaars nie. Maak maar net seker jou munisipale inspekteur keur alles goed sover as wat julle bou. By die nhbrc loop jy n bloutjie sodra daai fooi betaal is. Gmmmf, ek kon n hele kombuis ingesit het met daai geld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.