Verbruikersake: Wanneer goggas ook winkel toe gaan

Foto: Beeki/Pixabay.com

Daar is seker niks wat mens so min lus maak om inkopies te doen as wanneer jy ’n gogga in die gangetjies tussen die kosrakke teëkom nie. Trap mens maar dood en hoop vir die beste, of kan jy by iemand gaan kla as jy dikwels goggas in ’n koswinkel sien rondskarrel? Ina Opperman het gaan uitvind wie is verantwoordelik om te sorg dat ’n koswinkel goggavry en pesvry is.

Verbruikers weet dikwels nie wie verantwoordelik is vir die higiëne in ’n winkel nie en raas óf met die rakpakkers en kassiere óf bly maar stil. Rakpakkers en kassiere sal dalk geduldig luister, maar hulle kan niks aan die situasie doen nie. Die eienaar van die gebou sal ook nie kan help nie.

“Die verantwoordelikheid vir higiëne berus by die bestuur van die koswinkel. Die munisipaliteit reik ’n sertifikaat van aanvaarbaarheid (acceptability) in die naam van die persoon wat daarvoor verantwoordelik is uit nadat ’n inspekteur die winkel besoek het. Die verantwoordelike persoon se ID-nommer verskyn ook op die sertifikaat en hy of sy moet dus pa staan as daar ’n probleem is,” sê Nicola Brook, direkteur van Foodpath, ’n maatskappy wat spesialiseer in higiëne en voedselveiligheid.

Almal weet dat ons in Suid-Afrika ’n probleem het met te min omgewingspraktisyns. In Suid-Afrika is daar net een omgewingsbeamte vir elke 30 000 mense. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat daar een vir elke 10 000 mense moet wees. Dit beteken egter nie dat winkelbestuurders maar hul skouers kan ophaal en sug oor die goggas in hul winkels nie.

Volgens Brook is die persoon wie se naam en ID op die sertifikaat verskyn, verantwoordelik daarvoor om te sorg dat die higiëne in en rondom die winkels goed genoeg is om allerhande peste weg te hou. Afval wat ophoop en nie verwyder word nie, is veral ’n probleem omdat dit rotte lok wat gevaarlike siektes kan aandra en die kos besmet.

Wat wel gebeur met die lae aantal omgewinsbeamptes, is dat die sertifikate nie jaarliks nagegaan word soos wetgewing vereis nie. Bestuurders skuif ook uit winkels en dit gebeur nie altyd dat die nuwe bestuurder aansoek doen vir ’n nuwe sertifikaat met sy naam daarop nie.

Die beste manier om rotte en goggas uit koswinkels te hou, is om goeie huishouding toe te pas en die winkel en sy omgewing skoon te hou en nie afval of afvalkos te laat rondlê nie. Dit is ook belangrik om stukkende deure, vensters, teëls, ventilasiestene, dreineringstelsels en gate reg te maak en middels te gebruik om van peste ontslae te raak.

Vensters en deure moet ook toe gehou word en dreineringstelsels moet goed in stand gehou word. Personeel moet ’n beleid volg van skoonmaak soos hulle werk en nie kos laat rondstaan nie en afvalkos weggooi in asblikke met deksels.

Kla hier:

Die antwoord is dus duidelik: as jy enige pestilensie in die winkelgange raakloop, gaan soek dadelik die persoon wie se naam op die sertifikaat staan. As die probleem voortduur, kla by die omgewingsbeamptes by die plaaslike munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OWO ·

Die geskiktheidsertifikaat word deur die betrokke plaaslike munisipaliteit se Omgewingsgesondheidsprak-
tisyns uitgereik en dit moet vertoon word op so ‘n manier dat dit leesbaar is vir die publiek.Indien die bestuur verander het en die huidige sertifikaat verval het,kan daar ‘n klag by die Gesondheids-
departement gelê word.Die regulasie van toepassing vir die beheer van higiene by voedselpersele vereis dat daar ‘n pesbeheer program van ‘n geregistreerde pesbeheermaatskappy in gebruik moet wees.Daar moet ook ‘n skriftelike higiëne program vir die voedselperseel beskikbaar wees.Dit staan enige lid van die publiek vry om te vra vir die geskikheidsertifikaat indien dit nie vertoon word nie of so vertoon word dat dit nie gelees kan word nie.Indien voedsel vertoon word sonder die nodige higieniese beskerming bv slaaie en warm voesel in ‘n “bain- marie,kan ook klagtes gelê word.

Danie ·

Ag dis darem nie so erg. Die goggas eet net n klein bietjie kos. Daar is nog steeds genoeg kos oor vir die klante om te koop.

Wielspore ·

Baie jare terug in Newcastle KZN was daar ‘n Fish and Chips oorkant die pad van die dorp swembad. Die mense wat gaan swem het, het die winkel goed ondersteun. Daar is niks so lekker soos slap tjips langs die swembad.
Die een dag het vriende van ons skyfies by die winkel gekoop, lekker groot pak om tussen vriende te deel. So tussen die eet merk een van die ouens op dat die skyfies sulke swart merkies op het. By nadere ondersoek was dit die oorblyfsels van ‘n rot se hare wat in die olie geval en verdrink het en heeltemal opgekook is. Daardie kafee het toegemaak en van eienaar verwissel, niemand het hom ondersteun na die geval.

rg ·

Wat my eerder pla is hoe ons fabrieke dan lyk waar kos verwerk word? Glo nie vir n oomblik dat listeria n uitsondering was nie. Net meer dodelik. Daarom koop ek maar so min moontlik verwerkte kos en maak alles eerder self.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.