Verbruikersake: Wanneer jy ’n kontrak teken

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Dis geen wonder dat mense jou waarsku teen “vasteken” wanneer jy ’n kontrak sluit nie, want jy kan jou lelik vasloop as jy ’n kontrak teken wat nie heeltemal ingevul is nie of een wat onbillike voorwaardes bevat. Jy het regte wanneer jy kontrakte teken, maar voorkoming is mos beter as genesing. Dit is baie beter om te dink voordat jy doen as om agterna te sukkel om die kontrak gekanselleer te kry. Ina Opperman het gaan kyk hoe die Wet op Verbruikersbeskerming jou kan help.

Die heel eerste ding wat jy moet onthou, is om nooit ’n kontrak te teken wat nie ten volle en behoorlik ingevul is nie. As jy dit doen, kan die ander party enigiets in die oop spasies invul en jy sal sukkel om te bewys dat dit nie daar was toe jy geteken het nie. Moenie jou steur aan verskonings oor waarom jy “gou moet teken” voordat die aanbod verval nie. Betaal liewer later meer, maar moenie teken nie.

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Artikel 48 van die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou reg op billike, regverdige en redelike bedinging en voorwaardes. Hierdie artikel bepaal, onder meer, dat handelaars nie ʼn kontrak met jou mag sluit vir die verskaffing van goedere of dienste op ʼn onbillike, onredelike of onregverdige manier nie.

Dit mag nie in die kontrak wees nie

  • Handelaars mag nie vereis dat jy van jou regte afstand doen, ʼn verpligting aanvaar of hom van aanspreeklikheid vrywaar op grond van onbillike, onredelike of onregverdige onderhandeling nie.
  • Kontrakte mag nie uitermate eensydig wees ten gunste van enigiemand anders as jy, die verbruiker, nie.
  • Kontrakte mag nie valse voorstellings bevat nie.
  • Kontrakte is ontoelaatbaar indien jy op ʼn valse, misleidende of bedrieglike voorstelling van die handelaar staat gemaak het toe jy dit geteken het.
  • Kontrakte wat gesluit is op grond van onderhandelings, voorwaardes of kennisgewings wat onbillik, onredelik, onregverdig of gewetenloos is, of feite bevat wat nie behoorlik verduidelik is nie, word ook nie toegelaat nie.

Oppas vir hierdie voorwaardes

Regulasie 44(3) van die Wet bepaal die volgende kontrakvoorwaardes is onregverdig, tensy die handelaar in die omstandighede kan bewys dit is nie onregverdig nie.

Die volgende voorwaardes is onregverdig indien dit:

  • Die handelaar se aanspreeklikheid vir die dood of persoonlike beserings van die verbruiker uitsluit of beperk, indien dit veroorsaak word deur die handelaar se optrede of nalatigheid.
  • Jou wetlike regte om billike vergoeding van die handelaar of enige ander party iets verkeerd doen, verwyder of beperk. Dit sluit in jou reg om geld terug te hou wat jy moet betaal indien jy eis teen die handelaar.
  • Die handelaar se plig om sy agente se ooreenkomste na te kom, beperk.
  • Die handelaar se gesamentlike aanspreeklikheid (waar een mens verantwoordelik is vir die optrede van ander) vir sy agente beperk.
  • Jou dwing om verantwoordelikheid te aanvaar om vir die handelaar se aanspreeklikheid aan ander partye te betaal.
  • Jou reg om staat te maak op die verweer van verjaring uitsluit of beperk.
  • Die normale reëls verander oor hoe risiko versprei word, sodat jy aan die korste ent trek.
  • Die handelaar toelaat om die oorspronklike prys waarop ooreengekom is, te verander, sonder om jou die kans te gee om die kontrak te kanselleer.
  • Die handelaar in staat stel om die voorwaardes van die kontrak te verander, wat die aard van die goedere of dienste insluit.
  • Die handelaar die reg gee om te bepaal of die goedere of dienste volgens die kontrak gelewer is.
  • Die handelaar die eksklusiewe reg gee om enige voorwaarde van die ooreenkoms te interpreteer.
  • Die handelaar toelaat om die ooreenkoms eensydig te kanselleer sonder dat jy dit ook kan doen.
  • Die handelaar toelaat om ʼn ope ooreenkoms te kanselleer sonder billike kennisgewing, behalwe as jy ʼn belangrike deel van die kontrak verbreek het, soos om nie te betaal nie.
  • Jou verplig om al die voorwaardes na te kom, terwyl die handelaar dit nie hoef te doen nie.
  • Die handelaar alleen toelaat om die uitvoering van die ooreenkoms te systap of beperk.
  • Die handelaar alleen toelaat om te besluit om die ooreenkoms te hernu of nie.
  • Die handelaar toelaat om onredelik lank te vat om die ooreenkoms na te kom.
  • Die handelaar toelaat om jou betaling terug te hou wanneer jy nie die ooreenkoms nakom nie, maar jou nie dieselfde reg gee om dieselfde met hom te doen nie.
  • Van jou vereis om meer te betaal as wat die handelaar se skade is as jy nie die ooreenkoms nakom nie.
  • Die handelaar toelaat om, wanneer een van julle die ooreenkoms kanselleer, ’n baie hoë bedrag geld van jou te eis vir gebruik, reg of prestasie of onkoste.
  • Die handelaar toelaat om sy pligte oor te dra aan iemand anders sonder jou toestemming of sodat jy aan die kortste ent trek.
  • Jou reg om die goedere te verkoop, beperk deur ʼn beperking te stel op die oordraagbaarheid van enige handelswaarborg.
  • Jou dwing om ʼn feit te erken of ʼn verklaring te maak wat nie in jou guns is nie, tensy jy genoeg tyd gehad het om die verklaring of erkenning te oorweeg. Dit is dan ook die handelaar se plig om jou op die verklaring te wys en die betekenis daarvan vir jou te verduidelik.
  • Voorsiening maak daarvoor dat aangeneem word dat ʼn verklaring van die handelaar, wat belangrik is vir jou, jou bereik het, tensy dit per geregistreerde pos gestuur is.
  • Jou reg om regstappe te neem of enige ander wettige manier om vergoeding te kry, uitsluit of beperk. Dit sluit in om te vereis dat ʼn klagte deur middel van arbitrasie opgelos word, wat nie deur die Wet of ander wetgewing gedek word nie.
  • Die bewyse wat vir jou beskikbaar is, beperk of ʼn bewyslas op jou plaas wat gewoonlik die verantwoordelikheid van die handelaar is.
  • ʼn Verjaringsperiode instel wat korter is as die gewone tydperk waarin jy regstappe kan doen.
  • Die handelaar die reg gee om regs- of ander koste te eis wat meer is as gewoonlik as jy nie dieselfde reg het nie.

Toepassing

Regulasie 44 is net van toepassing wanneer handelaars ʼn ooreenkoms sluit met ʼn individuele verbruiker. Die regulasie is nie van toepassing wanneer die handelaar ʼn organisasie sonder winsbejag is nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantoor vir verbruikersake oor handelaars wat onregverdige en onbillike kontrakvoorwaardes gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.