Verbruikersake: Wanneer ’n skuldinvorderaar aan jou deur klop

(Foto: pixabay)

Die Covid-19 pandemie het nie net ons lewens deurmekaar kom krap nie, maar ook verwoesting gesaai in verbruikers se geldsake, met baie verbruikers wat nie hul skuld kan betaal nie weens afleggings of verminderde salarisse. Kredietverskaffers begin nou die skroewe aandraai, maar verbruikers weet maar min van die proses van skuldinvordering en wat hul regte is. Ina Opperman verduidelik wat jou regte as verbruiker is en wat die invorderaar se regte is.

Skuldinvordering word gereguleer deur die Wet op Skuldinvordering. Prokureurs of hul agente en geregistreerde skuldinvorderaars mag skuld invorder namens ’n kredietverskaffer. Hulle mag die bedrag wat jy skuld, saam met rente, soos deur die Wet voorgeskryf en administrasie- en invorderingstariewe vra.

Eiendomsbestuurders kan ook skuldinvorderaars wees wanneer hulle agterstallige huur invorder.

Skuldinvorderaars moet geregistreer wees

Net geregistreerde skuldinvorderaars mag ’n tarief hef om skuld in te vorder. Skuldinvorderaars moet geregistreer wees by die Raad vir Skuldinvorderaars, wat die gedrag van skuldinvorderaars monitor om te verseker dat hul optrede voldoen aan die raad se gedragskode. Jy kan ook by die raad aanklop om seker te maak ’n skuldinvorderaar is wel geregistreer.

Dit is ’n strafbare oortreding om skuld in te vorder sonder om geregistreer te wees.

Wat kan skuldinvorderaars doen?

Skuldinvorderaars mag skuld invorder deur middel van pos, telefoonoproepe of persoonlik. Hulle mag dokumente by jou aflewer en kan ook vra dat jy ’n skulderkenning teken. Jy kan ’n skuldinvorderaar vra vir bewys van registrasie by die Raad.

Wat skuldinvorderaars nie mag doen nie

Volgens die raad se gedragskode mag skuldinvorderaars nie:

  • meer geld invorder as wat jy skuld nie, behalwe rente en die toegelate tariewe;
  • wanvoorstellings maak oor die aard van wat hulle doen of dreig om siviele of regstappe te doen as dit nie die geval is nie. Hulle mag byvoorbeeld nie voorgee om jou watermeter te kom lees om jou so in die hande te kry nie;
  • kommunikasie gebruik wat lyk soos regsprosesse nie (dit sluit briewe in wat lyk soos ’n dagvaarding);
  • dreig om geweld te gebruik teen jou of jou gesin of eiendom nie;
  • vieslike, lasterlike of dreigende taal gebruik nie;
  • aanhou om met jou te kommunikeer as jy hulle na jou regsverteenwoordiger verwys het nie;
  • jou verbaal of op skrif mishandel of intimideer om jou skuld te betaal nie;
  • jou besoek of voor jou huis of werkplek parkeer in ’n motor wat duidelik aandui dat dit aan ’n skuldinvorderaar behoort en jou so in die verleentheid stel nie;
  • vervalste regsdokumente op jou beteken nie;
  • tariewe hef wat meer is as wat die raad voorskryf nie; of
  • valse inligting oor jou kredietwaardigheid versprei of dreig om dit te doen nie.

Jou regte as verbruiker

Jy het die volgende regte wanneer jy deur ’n skuldinvorderaar genader word:

  • Jy mag regsadvies kry voordat jy enigiets teken;
  • Jou waardigheid moet te alle tye gerespekteer word;
  • Die hele saak moet vertroulik hanteer word. As hulle jou bel en jou eggenoot antwoord, mag hulle nie aandui waarom hulle met jou wil praat nie;
  • Jy mag nie tussen negeuur saans en sesuur soggens en op Sondae gekontak word nie;
  • Jy mag nie geteister, verneder of gedreig word nie; en
  • Jy moet elke ses maande ’n gratis rekeningstaat kry.

Die skuldinvorderaar se regte

Skuldinvorderaars mag jou kontak om skuld te betaal en hulle het die reg om die voorgeskrewe tariewe te hef.

So vermy jy skuldinvorderaars

Die heel beste manier om skuldinvorderaars te vermy is om jou skuld gereeld en betyds te betaal en as jy nie kan nie, met almal wat jy geld skuld, in verbinding te tree en te vra dat hulle jou help om ’n plan te maak om jou skuld dalk oor ’n langer tydperk af te betaal.

Waar kan jy kla oor skuldinvorderaars?

Jy kan oor skuldinvorderaars kla by die Raad vir Skuldinvorderaars. Alle klagtes moet onder eed gedoen word en moet op skrif wees.

Jy kan ook skuldinvorderaars wat ongeskik is of jou teister, verkla by die Raad. Die Raad kan ondersoek instel na maatskappye wat skuldinvordering doen en groot boetes hef indien die Raad bevind dat ’n skuldinvorderaar nie by die gedragskode gehou het nie.

Indien jy nie gelukkig is met die bedrag wat ingevorder word nie, kan jy vra vir die inligting op skrif en jy kan die bedrag betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefan ·

Daar is sekerlik mense wat as gevolg van die Corona nie hul skulde kan betaal nie, ek voel vir hulle.
Maar daar is ook baie mense wat eenvoudig veels te maklik baie skuld aangaan en dit dan ook nie meer kan betaal nie.
Waarskynlik staan die banke te maklik onnodige skuld toe, hoe is dit moontlik dat iemand wat van fietse hou toegelaat word om ‘n vierde fiets op skuld te koop?
As dit elke keer maar weer afgeskryf word en later geeis word dat sy naam van die swartlys gehaal word moedig dit hom net aan om dit weer te doen, en die banke word genoodsaak om alle lenings duurder te maak om te oorleef.

Piet ·

Ons kort ‘n grootskaalse af skrywe van skuld. Dit sal ‘n massiewe hupstoot vir die ekonomie wees

koos10 ·

Vir die mense wat skuld, maar so waar as wragies nie vir die banke ens. wat die geld geleen het nie!
Dink net jouself in dat rentekoerse klim na 25% en jou bankkostes styg met 300%.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.