Verbruikersake: Wat jy moet weet oor vervaldatums op kos

vervaldatum

(Argieffoto)

Verbruikers raak sommer vinnig en tereg warm onder die krag wanneer hulle sien dat kos waarvan die vervaldatum al verstryk het, te koop aangebied word. Daar is ’n rede waarom kos ’n vervaldatum het en daarom is dit belangrik vir winkels om te sorg dat hulle goeie huishouding toepas om seker te maak dat die vervaldatums van produkte op hul rakke nie al verstryk het nie. Ina Opperman het gaan kyk wat wetgewing bepaal oor vervaldatums.

Vervaldatums op kos word gereguleer deur twee wette, naamlik die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels

Hierdie wet, gelees saam met regulasie 146, maak spesifiek voorsiening vir die duursaamheid en merk van kosprodukte en word as so ernstig beskou dat jy strafregtelik aangekla kan word as jy nie daarby hou nie.

Die Wet bepaal nie spesifieke tydperke waarvoor kos geskik moet wees om te eet nie – die vervaardiger bepaal dit self. Winkels wat kos te koop aanbied wat besmet of onveilig is om te eet, kan vervolg word en gesondheidsinspekteurs het die reg om winkels te beveel om dit van die rakke te verwyder.

Kos wat die “Use By”- of “Best Before”-datum bereik het, word egter nie outomaties as besmet of onveilig om te eet beskou nie, luidens ’n kennisgewing van die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en Dienste.

Regulasie 146 maak dit duidelik dat:

  • die “Best Before”-datum verwys na die datum wat aandui wanneer die produk onder enige aangeduide instruksies om dit te berg, ten volle bemarkbaar is en al die eienskappe sal behou waaroor aansprake gemaak word, hoewel die produk nog daarna heeltemal aanvaarbaar kan wees; en
  • die “Use by”-datum verwys weer na die datum waarteen die gehalte van die produk begin daal en dit nie meer verkoop kan word nie.

Volgens die ombudsman moet mens egter in ag neem dat hierdie datums in die regulasie egter meer na die bemarking van kos verwys as die veiligheid daarvan.

Dit is onwettig om aan die datums op die produkte te karring of te verander nadat dit op kos aangebring is.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Hierdie Wet maak voorsiening vir ’n waarborg van gehalte en duursaamheid, die reg tot veilige goedere van goeie gehalte, waarskuwings oor die risiko’s verbonde aan produkte, veiligheidsmonitering en herroeping van produkte en aanspreeklikheid vir skade wat deur goedere veroorsaak word.

Die aanspreeklikheid vir skade wat produkte veroorsaak, kan verreikende gevolge inhou vir die voedselbedryf en hierdie risiko is nou verbonde aan die vervaldatum op die verpakking van kos.

Artikel 61 van die Wet maak voorsiening maak vir die aanspreeklikheid van die invoerder, vervaardiger, groot- en kleinhandelaar vir onveilige of gevaarlike goedere en goedere waarvoor geen waarskuwings aangedui word nie.

Wanneer jy dus kos koop wat gemerk is met ’n datum wat aandui “Best Before”, maar dit eet nadat die datum verby is en siek word daarvan, mag die winkel dit nie as verdediging gebruik nie, aangesien hierdie datum aandui dat die produk nog heeltemal geskik is om te eet daarna, hoewel die gehalte dalk nie meer so goed is nie.

Almal – van die produsent tot die kleinhandelaar kan ook verantwoordelik gehou word vir onveilige produkte wat mense siek maak. Die kleinhandelaar kan homself dus nie verdedig en vinger wys na die groothandelaar wat nie betyds die kos van die rak verwyder het nie.

Verbruikers het ook die reg om produkte te koop wat geskik is vir die doel waarvoor jy dit koop, van goeie gehalte en bruikbaar vir ’n billike tydperk.

Volgens die ombudsman is jy dus geregtig om, wanneer jy kos koop, produkte te kry:

  • waarvan die kenmerke ooreenstem met die beskrywing op die verpakking;
  • wat ’n billike raklewe het; en
  • wat gewaarborg is deur almal in die verskaffingsketting dat die kos voldoen aan die vereistes en standaarde wat gestel word.

Die kleinhandelaar kan ook nie verwag jy moet by die boer gaan kla indien die melk wat jy gekoop het, suur is nie.

Datums nie altyd van toepassing

Volgens Code 4s is hierdie datums egter nie van toepassing op produkte waarvan die veiligheid nie in gedrang is of waarvan die gehalte nie afneem nie, soos wanneer:

  • die produk so ingemaak is deur die gebruik van alkohol, sout, suurgehalte of lae wateraktiwiteit, dat mikrobe nie daarin kan groei nie of wanneer die produk korrek gebêre word;
  • verbruikers duidelik kan sien die kos is sleg;
  • die sleuteleienskappe van die kos nie verlore gaan nie; en
  • die kos veronderstel is om geëet te word binne 24 uur.

Dit is van toepassing op kos soos:

  • vars vrugte en groente, wat kos soos aartappels insluit, wat nie geskil of gesny is nie;
  • wyn, soetwyn, vonkelwyn, gegeurde wyn, vrugtewyn en vonkelvrugtewyn;
  • drank wat ten minste 10% alkohol bevat;
  • gebakte geregte wat gewoonlik binne 24 uur geët word;
  • asyn;
  • niegejodeerde voedselgraadsout;
  • soliede suiker wat nie aanvullings bevat nie;
  • soetgebak wat bestaan uit gegeurde en/of gekleurde suiker; en

Die vervaardigingsdatum kan op hierdie produkte aangebring word.

Kla hier:

Kla eers by die hoofkantoor van die winkel en as dinge nie verander nie, kan jy kla by die ombudsman. Besoek die webwerf by www.cgso.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikkies ·

Goeie more. As ek slegs verwys na geblikte kosse, skoonmaak middels, seep ens. dan is daar winkels wat slegs van die ‘Sell By’ produkte verkoop waarvan die datum al verval het vir heelwat goedkoper as die groot handelaar? Die verval datums is nou nie jare later nie, maar ek sal beslis by hulle koop, slegs omdat hulle goedkoper is en nie almal kan meer die nuwes of binne datum tyd bekostig nie. So, ek aanvaar die berig toon die verkoop van verval datum kosse (sekere tipes) is nie teen die wet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.