Verbruikersake: Wees só versigtig met begrafnispolisse

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Al wat leef en beef verkoop weer met nuwe ywer begrafnispolisse. Dit is altyd ʼn goeie idee om ʼn begrafnispolis te hê wat voorsiening maak vir wanneer jy te sterwe kom, sodat jou familie nie nog daaroor moet bekommer terwyl hulle rou nie. Mense wat rou vertel dikwels dat hulle nie reguit kan dink nie omdat hulle so hartseer is en ʼn mens wil nie nog van hulle verwag dan om allerhande besluite te neem nie. Dit is juis ook belangrik om te sorg dat jou begrafnispolis alles dek wat jy verwag. Ina Opperman verduidelik waarna jy moet kyk.

Die meeste van die klagtes wat die ombudsman vir langtermynversekering volgens sy onlangse jaarverslag gekry het, het gehandel oor begrafnisdekking – ʼn hele 42%. Verbruikers het hoofsaaklik gekla oor eise wat afgewys is (52,53%) en diens (30,94%). Die meeste klagtes oor diens was oor 3Sixty Life Insurance.

Die ombudsman se kantoor skryf die toename in klagtes oor begrafnispolisse toe aan die feit dat meer lewens nou gedek word vir begrafnisvoordele, sowel as die feit dat begrafnisvoordele dekking verleen vir ʼn dringende behoefte en verbruikers dus verstaanbaar gouer kla.

Dit is ook waarom die ombudsman in die verbruiker se guns beslis het in 42% van die klagtes, vergeleke met 34,12% van al die klagtes. Anders as vir ander soorte lewensversekering het die eisers in begrafnisklagtes nie toegang tot makelaars nie en die ombudsman is dus die enigste plek waar hulle kan kla.

Daar is verskillende soorte begrafnispolisse, met sommige wat groepspolisse is, terwyl ander individuele polisse is wat een lewe of dié van ʼn uitgebreide familie dek. Versekeraars verkoop hierdie polisse direk aan verbruikers, deur verkoopspersoneel, banke of winkels, of deur middel van lidmaatskap van verskeie organisasies.

Die meeste polisse het nie ʼn spaarelement nie, terwyl ander ʼn begrafnis bied as voordeel. Die polis moet egter, volgens die ombudsman, altyd ʼn bedrag bied wat betaal word as ʼn alternatief vir ʼn  begrafnis.

Wenke van die ombudsman

Wanneer jy ʼn begrafnispolis uitneem of gebruik, hou gerus hierdie wenke van die ombudsman in gedagte:

  • Met so baie skelmstreke en onwettige verkopers is dit belangrik dat jy net ʼn polis uitneem by ʼn organisasie met ʼn goeie reputasie. Vat jou tyd en moenie oorhaastig wees wanneer jy ʼn begrafnispolis uitneem nie.
  • Indien jy die polis koop by ʼn verkoopspersoon, maak altyd seker dat die persoon ʼn lisensie het van die Financial Sector Conduct Authority (FSCA) om versekering te verkoop. Jy kan vra om die lisensie te sien.
  • Maak seker dat jy weet wie die versekeraar is. Derdeparty-begrafnisadministrateurs of kleinhandelaars administreer en verkoop dikwels begrafnispolisse en daarom moet jy weet wie die risiko onderskryf. Gaan ook die kontakbesonderhede van die versekeraar of begrafnisvereniging na.
  • Indien jy ʼn aansoekvorm moet invul, doen dit self en maak seker dat jy alles lees voordat jy dit teken. Sorg dat al die inligting wat jy gee, korrek is en beskryf familieverhoudings reg sodat daar nie later ʼn dispuut is oor wie gedek word nie.
  • Indien jy uitgevra word oor jou gesondheid of die gesondheid van die ander familielede wat dekking kry, maak seker dat jy alle relevante inligting korrek weergee. Wanneer jy later eis en die versekeraar stel vas dat jy nie belangrike inligting gegee het nie, kan die versekeraar die polis kanselleer en weier om die eis uit te betaal.
  • Sorg dat jy ʼn afskrif van die polis of ʼn polisopsomming kry wanneer jou aansoek aanvaar word. Dring daarop aan om die dokument te sien en te lees. Maak seker dat jy alles verstaan en indien nie, vra totdat jy verstaan. Indien van die inligting verkeerd is, sorg dat dit reggestel word. Maak ook seker dat jy tevrede is met die inligting in die polis, soos wie die poliseienaar is.
  • Jy het ʼn afkoelperiode van 30 dae nadat jy die polis of polisopsomming ontvang om die polis te kanselleer as jy nie tevrede is daarmee nie.
  • Maak seker alle premies word maandeliks betyds betaal. Dit is jou verantwoordelikheid, selfs al betaal jy per debietorder. Hou alle bewyse van betaling. Indien die premies nie betaal is nie, kan die versekeraar die polis kanselleer en eise weier. Begrafnispolisse het gewoonlik ʼn grasietydperk van omtrent 15 dae, maar as jy nie in hierdie tyd betaal nie, verval die voordele.
  • Hou geskrewe notas van wat die verkoopspersoon, administrateur of versekeraar belowe.
  • Maak seker dat die begunstigde se besonderhede op datum is en steeds die persoon is wat jy verkies.
  • Stel so gou as moontlik ʼn eis in nadat die persoon sterf, aangesien versekeraars laat eise kan weier.
  • Sorg dat jou familie weet waar die polisdokumente is.
  • Jy mag vra vir geskrewe redes waarom ʼn eis afgewys is.

Kla hier:

Besoek die ombudsman se webwerf by www.ombud.co.za of bel die kantoor by 021 657 5000 of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.