Verbruikersake: Wenke om geld te spaar

geld-spaar-finansies-berekeninge

(Foto: Jarmoluk/Pixabay)

Verbruikers is al goed vuisvoos. Eers die pandemie wat baie mense hul inkomste gekos het en net toe hulle dink nou gaan dinge beter raak, tref ʼn globale ekonomiese krisis hulle wat elke dag aan verbruikers se beursies kom vreet. Hoë brandstof en kospryse en stygende rentekoerse hou verbruikers nou snags wakker, terwyl hulle wonder hoe hulle kos op die tafel gaan sit. Dit is nou tyd om te bespaar waar jy ook al kan. Ina Opperman gee raad oor hoe jy spaarsamig kan leef.

Ons moet nou werklik spaar net waar ons kan en die beste plek om te begin is by jou huis en jou werk en om altyd te weet waarheen gaan jou geld deur ʼn begroting op te stel.

Hou boek van jou inkomste en uitgawes

Dis maklik om geld uit te gee as jy nie ʼn begroting het waarby jy moet hou nie, maar ʼn begroting kan jou en jou gesin help om te sien hoeveel geld jy uitgee en waarop. Stel jou begroting so op:

  • Skryf vir ʼn maand lank elke sent wat jy uitgee neer en waarop jy dit uitgegee het. Dit sal jou in staat stel om te sien hoeveel geld jy uitgee op luukshede soos wegneemetes.
  • Gebruik dan hierdie lys om ʼn begroting saam te stel sodat jy kan sien aan watter uitgawes jy kan sny en watter noodsaaklik is.
  • Al klink dit moeilik, maak voorsiening vir ʼn bedrag wat jy maandeliks spaar vir moeilike tye, soos ʼn motor wat breek of onvoorsiene mediese uitgawes. Wanneer jy jou begroting saamstel en kyk waar jy kan spaar, hou die geld in jou spaarrekening.

Begroting is nou ononderhandelbaar

As jy nog nie volgens ʼn begroting leef nie, is dit nou tyd. Stel jou begroting op skrif in ʼn boek waartoe die hele gesin toegang het of gebruik ʼn app.

  • Skryf in die linkerkantse kolom al jou grootste en noodsaaklike uitgawes neer, soos verblyf, vervoer, water en elektrisiteit, selfone, internettoegang, versekering, skuld, spaargeld, skoolgeld, kruideniersware, klere en salaris vir jou huishulp. Nou kan jy luukshede byvoeg, soos boeke, fliek, vermaak, wegneemetes, uiteet, vakansie en ietsie om jouself mee te bederf.
  • Skryf nou jou salaris en ander inkomste in die regterkantse kolom neer. Die kuns is om seker te maak dat jou uitgawes nie meer is as jou inkomste nie. Indien dit is, moet jy begin sny aan luukshede om jou begroting te laat klop.

Loop lig vir skuld

As jy skuld het, kan jy nie regtig spaar nie. Niemand kan ʼn huis of motor kontant koop nie, maar minder skuld is steeds die beste manier om te spaar.

  • Los jou plastiekgeld by die huis wanneer jy winkels toe gaan en vat net jou debietkaart om te verseker jy gee net geld uit wat jy het.
  • Sê nee dankie vir aanbiedings om nog skuld te maak.
  • Betaal elke maand ʼn bietjie meer aan jou skuld sodat jy dit gouer afbetaal.

Finansiële dienste

  • Maak seker jy kies die mees bekostigbare opsie vir bankdienste.
  • Betaal ʼn bietjie ekstra op jou huislening om te spaar op rente.
  • Moenie onnodig op krediet koop nie. Betaal kontant vir kruideniersware en spaar vir ander duur items.
  • Indien jy wel ʼn kredietkaart gebruik, maak seker dat jy die balans elke maand betyds afbetaal sodat jy nie rente daarop betaal nie.
  • Maak seker jy betaal die laagste moontlike premies vir versekering deur met jou versekeraar te onderhandel oor ʼn beter prys.
  • Wees ook op die uitkyk vir winskopies om te spaar op versekering, bankkoste of selfoonkoste. As jy net R100 op bankkoste spaar elke maand, spaar jy R1 200 in ʼn jaar.

Jou motor

  • Laat jou motor gereeld versien om te verseker dit gebruik nie te veel brandstof nie en dat jy nie geld moet uitgee vir groot herstelwerk nie.
  • Wanneer jy brandstof laat ingooi, laat sommer ook gereeld die olie, water en banddruk nagaan.
  • Jou motor sal ook meer ekonomies wees as die bande reg opgepomp is en gereeld vervang word.
  • Beplan jou ritte om seker te maak jy ry nie onnodig op en af nie.

By die huis

  • Jou elektrisiteitsrekening is een van die grootste geldvrate in jou huis. Maak werk daarvan om minder elektrisiteit te gebruik deur ʼn tydskakelaar op jou geiser te installeer wat dit vir die grootste deel van die dag afsit. Skakel alles in ʼn kamer, soos die ligte en televisie, af as niemand in die kamer is nie en vervang gloeilampies met ander wat minder krag gebruik. Was klere in koue water en beperk die gebruik van die tuimeldroër. Wanneer jy weer nuwe toestelle koop, maak seker dit gebruik minder krag.
  • Water is deesdae ook duurder en daarom maak dit sin om water te bespaar. Sorg dat lekkende krane herstel word, gebruik grys water vir die tuin en vervang vol baddens en lang storte met ʼn kort stort.
  • Kies televisiekanale wat minder kos.
  • Hou jou huis in stand deur gereeld werk te maak van krake en stukkende geute. Hou ook jou tuin in stand.

Jou selfoon

  • Koop ʼn goedkoper selfoon en betaal kontant daarvoor.
  • Beplan oproepe sodat jy liewer jou gratis minute gebruik.
  • Gaan jou selfoonrekening na en kanselleer onnodige dinge wat ekstra kos.

As jy gaan inkopies doen

  • Wees op die uitkyk vir winskopies.
  • Lees die eenheidsprys op die rakke by klein handelaars en kyk watter grootte kos die minste per 100 g of 100 ml.
  • Gebruik afslagkoepons waar moontlik.
  • Beplan wat jy gaan koop en maak ʼn lysie waarvan jy nie afwyk nie.
  • Probeer om vars produkte te koop wat vrygestel is van BTW.
  • Vergelyk pryse om te sien waar jy kan spaar.
  • Koop duur klere, soos baadjies en jasse, aan die einde van die winter op uitverkopings.
  • As jy jouself met iets duur wil bederf, stel dit vir ʼn paar dae uit en dink eers of jy regtig soveel geld wil uitgee.

By die skool

  • Koop generiese skoolklere soos wit hemde, grys broeke en skoolskoene by goedkoper winkels.
  • Koop skoolklere, soos baadjies, by die skool se tweedehandse winkel. Koop ook skoolboeke daar.
  • Spaar om aan die begin van die jaar die skoolfonds vooruit te betaal vir die jaar. As jy dit doen, kry jy gewoonlik afslag.

By die werk

  • Pak vir jou middagete in om werk toe te vat eerder as om iets ten duurste te koop.
  • Vat liewer kraanwater werk toe as om gebottelde water te koop.

Spaar prettig!

  • Doen lekker dinge soos piekniek hou wat minder kos as fliek.
  • Besoek die biblioteek of ʼn tweedehandse boekwinkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.