Verbruikersrubriek: Goedere teruggee sonder goeie rede

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Ons het al almal iets gekoop en eers later agtergekom dit is nie eintlik wat jy wou hê nie of jy het dit nie werklik nodig nie. Of jy hou nie van die rok se kleur nie of daardie broek sit nie so mooi nie. Die antwoord is gewoonlik eenvoudig: vat dit terug en kry jou geld terug. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is in hierdie geval.

Verbruikers het baie regte wanneer hulle goedere wil omruil of hul geld terug wil hê wanneer hulle iets gekoop het waarmee daar fout is. As jy egter iets wil teruggee sonder dat daar fout is met die produk, is dit egter ’n ander storie. Dit is eerstens belangrik om te kyk na die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Artikel 20

Hierdie artikel handel oor verbruikers se reg om goedere terug te gee en vervang nie artikel 56 nie, maar vul dit aan. Artikel 20 bepaal ook dat dit nie enige ander wetlike reg van die verbruiker om goedere terug te gee en ’n terugbetaling te ontvang, vervang nie.

Verbruikers het die reg om goedere aan die verskaffer terug te gee en ’n volle terugbetaling te ontvang indien die transaksie gespruit het uit direkte bemarking en die verbruiker dit binne die afkoeltydperk gekanselleer het.

As jy dus ʼn selfoon bestel het nadat iemand jou eerste gebel het en dit aangebied het, kan jy dit sonder rede teruggee as jy die transaksie binne die afkoeltydperk van vyf werkdae kanselleer. Die verskaffer moet dan jou geld binne 15 dae terugbetaal, maar jy dra die risiko totdat die verskaffer dit terug ontvang en jy stuur dit terug op jou eie onkoste.

In al die volgende gevalle geskied die teruggawe op die verskaffer se onkoste en risiko.

Jy het ook die reg om goedere, wat jy nie vooraf kon nagaan nie, terug te gee as dit ingevolge artikel 19(5) nie die soort en van die gehalte is wat jy redelikerwys kon verwag nie en jy dit net gekoop het op grond van ’n beskrywing of voorbeeld wat deur die verskaffer verskaf is.

In hierdie geval moet die goedere in alle wesenlike opsigte en karaktertrekke ooreenstem met dit wat ’n gewone, waaksame verbruiker op grond van die beskrywing of op redelike nagaan van die voorbeeld, na gelang van die geval, geregtig sou wees om te verwag.

Dit is ook nie voldoende dat enige van die goedere met die voorbeeld ooreenstem indien dit nie ook met die beskrywing ooreenstem nie. In die geval van ʼn spesiale bestelling, moet dit redelikerwys ooreenkom met die wesenlike spesifikasies van die spesiale bestelling. Jy het ook die reg om goedere terug te gee indien die hele bestelling nie met die verkoopsvoorwaardes van die ooreenkoms ooreenstem nie of jy kan die goedere wat wel aanvaarbaar is, hou en die res teruggee.

Indien die goedere ’n bepaalde doel moet dien en jy vind dit is nie geskik daarvoor nie, kan jy dit ook teruggee binne tien werksdae, tensy ’n openbare regulasie om openbare gesondheidsredes die teruggee verbied of indien dit gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal is, meganies aangepas is, permanent geïnstalleer is of reeds aan iets anders vasgemaak is.

Die verskaffer mag nie ʼn bedrag hef as jy die produk in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking teruggee nie. Indien die goedere in die oorspronklike toestand en in die oorspronklike verpakking herverpak is, kan die verskaffer ’n redelike bedrag vra vir:

  • Die gebruik van die goedere in die tyd wat dit in jou besit was, tensy dit goedere is wat gewoonlik deur gebruik verbruik of uitgewis word en jy dit nie gebruik het nie;
  • Die verbruik of uitwissing tensy dit nodig is om ’n redelike hoeveelheid te gebruik om vas te stel of dit aanvaarbaar is;
  • Herstelkoste wat nodig is om die goedere weer reg te kry om te verkoop, tensy dit nodig was om die verpakking te vernietig om vas te stel of die goedere voldoen aan die beskrywing of voorbeeld, indien jy dit nie vooraf kon nagaan nie of vasstel of dit geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie.

Artikel 56

Artikel 56 maak voorsiening daarvoor dat jy onveilige of foutiewe goedere kan teruggee.

As daar niks fout is nie

Wanneer jy dus goedere wil teruggee sonder dat daar fout is daarmee, kan jy jou net beroep op die goeie wil van die winkel om dit om te ruil of terug te neem en jou geld terug te gee. As die winkel egter weier, is daar wetlik niks wat jy daaraan kan doen nie.

Indien jy egter iets per pos bestel het, kan jy dit teruggee as dit nie lyk soos die voorbeeld nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die bepalings oor omruilings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MaroelaLeser ·

Baie dankie vir hierdie baie insiggewende en waardevolle rubriek met goed saamgestelde en bruikbare inligting deur Ina Opperman.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.