Verbruikersrubriek: Oppas vir hierdie kontrakvoorwaardes

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Verbruikers kla dikwels dat hulle ’n kontrak geteken het waaruit hulle nie kan kom nie en moet aanhou betaal of hulle nou die goedere of dienste gebruik of nie. Dit is waar dat die meeste kontrakte wat verbruikers teëkom, só opgestel sal wees dat dit meer in die ander party se guns is, maar daar is perke. Ina Opperman verduidelik wat volgens die Wet op Verbruikersbeskerming beskou word as kontrakvoorwaardes wat verbruikersregte skend.

Verbruikers se reg op billike, regverdige en redelike bedinging en voorwaardes word beskerm volgens artikel 48 van die Wet. Dit ken ook sekere verpligtinge aan die handelaar toe en lui dat hulle nie goedere of dienste mag verskaf teen ʼn onbillike, onredelike of onregverdige prys nie. Hulle mag ook nie onbillik, onredelik of onregverdig onderhandel nie en op ʼn onbillike, onredelike of onregverdige manier handel dryf nie.

Loop ook lig vir hierdie voorwaardes wat volgens regulasie 44(3) van die Wet onregverdig en dus onwettig is, tensy die omstandighede kan bewys dit is nie onregverdig nie:

  • Voorwaardes wat die handelaar se aanspreeklikheid vir dood of persoonlike beserings wat veroorsaak word sy optrede of nalatigheid, uitsluit of beperk;
  • Voorwaardes wat jou wetlike regte tot billike vergoeding teen die handelaar of enige ander party wat nie hul kant bring nie, kanselleer of beperk en sluit jou reg in om geld terug te hou wat jy moet betaal indien jy ʼn eis teen die handelaar het;
  • Voorwaardes wat die handelaar se plig om sy agente se ooreenkomste na te kom, beperk;
  • Voorwaardes wat die handelaar se gesamentlike aanspreeklikheid (waar een mens verantwoordelik is vir die optrede van ander) vir sy agente beperk;
  • Voorwaardes wat jou dwing om verantwoordelikheid te aanvaar om vir die handelaar se aanspreeklikheid aan ander verbruikers te betaal;
  • Voorwaardes wat die risiko net aan jou oordra;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om die oorspronklike prys waarop ooreengekom is, te verander, sonder om jou die kans te gee om die ooreenkoms te kanselleer;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om die voorwaardes van die kontrak of die aard van die goedere of dienste te verander;
  • Voorwaardes wat die handelaar die reg gee om te bepaal of die goedere of dienste volgens die kontrak gelewer is, of wat hom die eksklusiewe reg gee om enige voorwaarde van die ooreenkoms te interpreteer;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om die ooreenkoms eensydig te kanselleer sonder om jou dieselfde reg te gee;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om ʼn ooreenkoms te kanselleer sonder om jou in kennis te stel, behalwe wanneer jy ʼn belangrike deel van die kontrak verbreek het, soos om nie te betaal nie;
  • Voorwaardes wat jou verplig om al die voorwaardes in die kontrak na te kom, terwyl dieselfde nie vir die handelaar geld nie;
  • Voorwaardes wat die handelaar, maar nie vir jou nie, toelaat om die uitvoering van die ooreenkoms te systap of beperk;
  • Voorwaardes wat die handelaar, maar nie vir jou nie, toelaat om te besluit om die ooreenkoms te hernu of nie;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om onredelik lank te vat om die ooreenkoms na te kom;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om jou betaling terug te hou wanneer jy nie die ooreenkoms nagekom het nie, maar nie vir jou dieselfde reg gee nie;
  • Voorwaardes dat jy meer sal betaal as wat die handelaar se skade is as jy nie die ooreenkoms nakom nie;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om, wanneer hy of jy die ooreenkoms kanselleer, ’n baie groot bedrag van jou te eis vir gebruik, reg of prestasie of onkoste;
  • Voorwaardes wat die handelaar toelaat om sy pligte oor te dra aan iemand anders sonder jou toestemming of sodat jy aan die kortste end trek;
  • Voorwaardes wat jou reg om die goedere te verkoop, beperk deur ʼn beperking te stel op die oordraagbaarheid van enige handelswaarborg;
  • Voorwaardes wat jou dwing om ʼn ongunstige feit te erken of ʼn verklaring te maak, tensy jy genoeg tyd gehad het om die verklaring of erkenning te oorweeg. Die handelaar moet ook vir jou daarop wys en die betekenis daarvan verduidelik;
  • Voorwaardes wat lui dat aangeneem word jy het ʼn verklaring van die handelaar, wat vir jou belangrik is, gekry, tensy dit per geregistreerde pos gestuur is;
  • Voorwaardes wat jou reg uitsluit of beperk om regstappe te neem of enige ander wettige manier om vergoeding te kry;
  • Voorwaardes wat lui dat jy bewys moet lewer wanneer jy kla, terwyl dit eintlik die handelaar se verantwoordelikheid is;
  • Voorwaardes wat jou minder as drie jaar gee om regstappe te neem; en
  • Voorwaardes wat die handelaar die reg gee om regs- of ander koste te eis wat meer is as gewoonlik, terwyl jy nie dieselfde reg het nie.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of by die Provinsiale Kantoor vir Verbruikersake oor handelaars wat onregverdige en onbillike kontrakvoorwaardes gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Dit was baie leersaam,gee ons asb meer van hierdie kennis rubrieke aangebied en geskryf deur kenners ons die mense op vloervlak word ingeloop oor ons nie bewus is van hierdie wette nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.