Verbruikersrubriek: Wil jy geld leen? Lees eers hier…

geld-munte-in-bottel

Foto: Michael Longmire/Unsplash.com

Januarie met sy 100 dae voordat jy weer salaris kry, is byna verby, maar die meeste verbruikers ly nog aan ’n koopbabelaas. Daardie kredietkaarte wat in Desember so lekker gekoop het, moet nou betaal word, maar Januarie is nie ’n vriendelike maand wat skuld betref nie. Gelukkig kan mens darem nog geld leen om jou oor die skuldhobbels te help. Dit is egter net hier waar jy moet ligloop, sê Ina Opperman.

Dit is deesdae so maklik om geld te leen: jy kan dit sommer aanlyn doen en die bedrag wat jy leen, is sommer blitsvinnig in jou rekening en daar is al jou probleme dadelik opgelos.

So maklik? Nee, beslis nie. Om lukraak geld te leen by wie ook al aanbied, is nie ’n goeie idee nie.

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) waarsku verbruikers ook om versigtig te wees wanneer hulle geld wil leen.

“Die feestyd is verby en mense moet nou opdok vir skoolklere, skryfbehoeftes, vervoer en dies meer. Verbruikers moet egter onthou dat krediet duur is en daarom moet hulle net geld leen as dit absoluut nodig is en dan net by kredietverskaffers wat by die NKR geregistreer is,” sê adv. Kedilatile Legodi, waarnemende bestuurder van opvoeding en kommunikasie van die NKR.

Legodi se raad is dat verbruikers moet sorg dat hulle kredietslim is deur die totale koste van die krediet waarvoor hulle aansoek doen, te verstaan voordat hulle die aansoek onderteken. Die koste van krediet sluit rente, ’n eenmalige leningstarief, maandelikse dienstariewe en kredietlewensversekering in.

Verbruikers moet, voordat hulle ’n aansoek om krediet teken, ’n staat en kwotasie kry wat wys presies hoeveel hulle op die ou end vir die krediet gaan betaal. Hierdie dokumente is gewoonlik van krag vir vyf dae en kan gebruik word om te vergelyk hoeveel jy by verskillende instellings gaan betaal vir die bedrag wat jy wil leen.

Die Nasionale Kredietwet bepaal dat verbruikers die reg het om inligting te kry in eenvoudige en verstaanbare taal en redes te kry waarom hul aansoeke afgewys word indien krediet nie toegestaan word nie.

Die rede waarom die NKR verbruikers afraai om by ongeregistreerde kredietverskaffers of uitleners geld te leen, is dat hulle gewoonlik buitensporige rente vra wat nie voldoen aan die bepalings van die wet nie. Hierdie kredietverskaffers maak ook nie seker of jy die maandelikse betalings kan bekostig nie en hulle gebruik ongeoorloofde taktieke om te sorg dat jy betaal, soos om jou identiteitsdokument, bankkaarte en geheime nommers of Sassa-kaarte te hou.

Legodi herinner verbruikers ook daaraan dat dit hul plig is om eerlik te wees wanneer hulle vir krediet aansoek doen en slegs korrekte inligting oor hul finansiële status te verskaf.

Geregistreerde kredietverskaffers

Alle kredietverskaffers moet sedert 11 November 2016 by die NKR geregistreer wees. Kredietverskaffers wat geregistreer is by die reguleerder, is ook verplig om die regulasies wat ten opsigte van die Kredietwet gemaak is, of verbruikers krediet kan bekostig, na te gaan en na te kom.

Kredietregulasies

Die Kredietregulasies, wat in April 2016 uitgevaardig is, help kredietverskaffers om te besluit of ’n verbruiker krediet kan kry. Dit beskerm ook verbruikers teen roekelose uitleenpraktyke. Volgens die regulasies moet kredietverskaffers praktiese stappe doen om die verbruiker se inkomste na te gaan deur ten minste die laaste drie maande se salarisstrokies na te gaan of die bankstate van die laaste drie maande as die verbruiker nie ’n salaris ontvang nie.

Verder moet die kredietverskaffer bepaal of die verbruiker die paaiemente kan bekostig nadat belasting, werkloosheidsversekering, onderhoud en alle ander verpligte betalings, insluitend paaiemente op krediet, afgetrek is. Inligting van ’n kredietburo moet hiervoor gebruik word.

Kredietverskaffers moet ook praktiese stappe doen om te verseker dat krediet gebruik word vir die doel waarvoor die verbruiker dit leen. Mense wat reeds skuldberading kry, mag nie nog skuld aangaan nie.

Roekelose uitlening

Artikel 80 van die Nasionale Kredietwet bepaal dat ’n kredietooreenkoms roekeloos is indien die kredietverskaffers nie seker maak of die verbruiker dit kan bekostig om die lening af te betaal nie of, ten spyte van die feit dat dit blyk dat die verbruiker dit nie kan bekostig of nie die uitwerking daarvan begryp nie, steeds die lening goedkeur.

Volgens artikel 81 moet verbruikers eerlik wees wanneer hulle aansoek doen vir krediet sodat die kredietverskaffer al die nodige inligting het om te besluit of krediet toegestaan sal word. Kredietverskaffers mag nie roekeloos geld uitleen nie. Kredietverskaffers moet:

  • seker maak die verbruiker begryp die risiko’s en koste verbonde aan die kredietverskaffing en verstaan sy regte en verpligtinge wat daarmee verband hou;
  • die verbruiker se terugbetalinggeskiedenis vir kredietooreenkomste nagaan;
  • seker maak van die verbruiker se bestaande finansiële vermoë, vooruitsigte en verpligtinge; en
  • kyk of daar redelike gronde is om ’n onderneming suksesvol te bedryf indien dit is waarvoor die verbruiker krediet nodig het.

’n Kredietverskaffer is nie skuldig aan roekelose uitlening nie indien die verbruiker oneerlik was nie en indien die tribunaal bevind dat die verbruiker se oneerlikheid ’n wesentlike invloed gehad het op die kredietverskaffer se vermoë om vas te stel of die verbruiker dit kan bekostig nie.

Hoe besluit ’n kredietverskaffer of jy ’n lening kan bekostig?

Artikel 82 van die wet bepaal dat ’n kredietverskaffer regverdig en objektief moet besluit of verbruikers krediet kan bekostig. Regulasie 23A is later bygevoeg, wat bepaal dat kredietverskaffers verbruikers se bestaande finansiële vermoë moet bepaal om te kyk of hulle die terugbetalings kan bekostig.

Kredietverskaffers moet die verbruiker se inkomste voor aftrekkings bevestig met die laaste drie salarisstrokies van salaristrekkers of die bankstate van die laaste drie maande wat die salarisinbetalings wys, of dokumentêre bewys van inkomste of die laaste drie maande se bankstate indien die verbruiker nie ’n salaris verdien nie. Verbruikers wat vir hulself werk, of werk waar hulle nie bewys van inkomste het nie, moet die laaste drie maande se bankstate indien of hul jongste finansiële state.

Verbruikers moet al hul finansiële verpligtinge aandui en die kredietverskaffer moet dit volgens die voorgeskrewe tabelle bereken saam met die verbruiker se vooruitsigte, soos inkomste voor aftrekkings, statutêre aftrekkings, kredietbetalings, onderhoud en ander verpligte uitgawes om die bedrag te kry wat beskikbaar is vir terugbetaling van nuwe skuld.

Wat gebeur met roekelose kredietooreenkomste?

Die howe kan die verbruiker se regte en pligte met betrekking tot die kredietooreenkoms tersyde stel of die ooreenkoms opskort en die verbruiker hoef dan volgens artikel 84 van die wet nie verder te betaal nie.

Wenke

  • Gaan die registrasienommer van die kredietverskaffer na by die reguleerder. Onwettige skemas het nie ’n registrasienommer nie of gebruik vals nommers.
  • Wettige kredietverskaffers vra nie dat jy enige bedrag betaal om ’n lening te kry nie. Dit is onwettig om dit te doen. Kredietverskaffers kan vra dat jy ’n aanvangstarief betaal, maar jy betaal dit eers wanneer die lening toegestaan is.
  • Loop lig vir kredietverskaffers wat lenings op teksboodskappe aanbied, veral as hulle beweer die lening is “gewaarborg”.
  • Loop ook lig vir maatskappye wat aanbied om vir jou ’n lening “te vind”.
  • Lees alle dokumente goed deur voordat jy ’n lening aanvaar. Onwettige skemas laat jou dikwels maandeliks aansluit vir iets soos ’n begrafnispolis en as jy nie betaal nie, begin hulle jou pla met dreigoproepe.
  • Moenie jou bankbesonderhede gee wanneer jy aanlyn vir ’n lening aansoek doen nie.

Legodi gee ook die volgende wenke:

  • Jy moet nooit instem om enige voorafkostes te betaal vir byvoorbeeld administrasie of regskoste nie.
  • Leen net geld as dit absoluut nodig is en moenie geld leen vir verbruikersgoedere soos kruideniersware nie.
  • Moenie dokumente teken wat nie heeltemal ingevul is nie.
  • Maak seker jy het kredietlewensversekering.
  • Betaal jou skuld betyds om jou kredietgeskiedenis positief te hou.
  • Stel ’n maandelikse begroting op en hou daarby.
  • Gaan gereeld jou kredietgeskiedenis na.

Vir navrae of klagtes oor krediet, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webblad by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.