Vergeet om te onthou

Foto: Ilze du Plessis Photography

Omdat ek nie weet nie, verstaan ek nie, maar hier by ons see en aan die einde van ’n woedende jaar steek ek ook ’n kersie aan vir almal wie se pad al met Alzheimersiekte gekruis het. Van dié siekte verstaan ek min omdat ek so min weet – selfs jare ná my eie pa se dood en sy vergeetsiekte.

Ek dink aan dié wat weet wat dit is as iemand hier is sonder om hier te wees; weg is sonder om te verdwyn omdat hulle nie verstaan dat hulle nie weet nie. Vir ons wat verstaan wat dit beteken as iemand sterf sonder om om te kom. Ek dink aan jou wat weer alleen moes agterbly ná die begrafnis en verstaan hoe dit voel as ’n geliefde twee keer dood moet gaan.

Steeds verstaan ek min en miskien is dit beter so, want dié wat alles verstaan, weet niks en hy wat alles weet, verstaan niks. Daarom het ek net hierdie paar woorde oor:

VERGEET

Begrafnishou
is dubbeldroef
as daar niks is
om ter aarde
te bestel nie;
dis swaar om te groet
as niemand weg is nie;
wreed om te weet
Pa het net vergeet
om te leef.

Ek wou nog praat
en mooi dinge sê,
toe spring
die tweede dood
my voor;
ek wou nog rou,
toe is Pa net
ʼn wolkie as
oor die lanfersee.

Dubbeldood se verse
hang
soos doodverlang
woordeloos
as die swart my vang,
want die
son het nou
twee keer al
saam met Pa
in die see
geval.
©Hans du Plessis

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.