Vergete feite en vervloë voetnote uit ons vergange verlede

Deur Pierre Massyn

guerrillavegters

Guerrillavegters tydens die Tweede Vryheidsoorlog. (Argieffoto)

ʼn Velerlei boeke oor ons kleurryke geskiedenis is al geskryf. Die mees ingrypende greep uit ons veelbewoë verlede is sekerlik die Tweede Vryheidsoorlog. Van die beste beskrywings hiervan is Kommando deur Deneys Reitz, Thomas Pekenham se Boer War en The Great Boer War deur Arthur Conan Doyle. Die onvergeetlike Christiaan de Wet, oftewel Krisjan, het in samewerking met my Geskiedenis-tydgenoot op Kovsies, wyle prof. MC “Tienie” van Schoor, ʼn eerstehandse beskrywing van die epiese stryd tussen die Boererepublieke en Koningin Victoria se magte die lig laat sien: dit was Die Stryd tussen Boer en Brit.

Hierdie stryd het verskeie eerstes opgelewer: die eerste “mediaoorloog”, oftewel die eerste oorlog waar film-media gebruik is; die laaste “gentleman’s war” – daar bestaan ʼn foto van ʼn Britse offisier wat hom in sy Victoriaanse bad, wat hy saamgepiekel het, skrop; die eerste gebruik van loopgrawe, toe Koos de la Rey die Britte by Magersfontein verpletter het; en guerrilla-oorlogvoering waarvan die Boere meesterlike eksponente was. Volgens berigte is warmlugballonne ook vir die eerste keer in hierdie konflik gebruik. Hierdie oorlog het ook vir die grootste enkele skandevlek in Engeland se geskiedenis gesorg: die konsentrasiekampe(1), wat later deur Nazi-Duitsland op gemeganiseerde skaal toegepas is.

Engeland was destyds die grootste imperiale mag op aarde – en die Boerenasie in die twee Republieke – die ZAR en die OVS – die kleinste. Die Boere-poging het die Britse Ryk tot in sy fondamente geskud. Maar dit was nie net die Boere se dapperheid wat die wêreld verstom het nie, maar veral ook hul volharding. Teen die einde van die oorlog was daar beswaarlik 15 000 vegtende Boere in die veld wat sowat ʼn halfmiljoen Britse soldate en meelopers van hulle kolonies, insluitende Australië, Nieu-Seeland en Indië, se lewens ʼn loutere hel gemaak het. In Winston Churchill se eie woorde: “The individual Boer, mounted in a suitable country, is worth four or five regular soldiers.”

Hierdie oorlog was die duurste en grootste vernedering in Engeland se geskiedenis. Die Engelse skrywer en digter, Rudyard Kipling, beskryf die herhaaldelike teenslae wat die Boere Brittanje laat verduur het, as “No end of a lesson”. Churchill, destyds korrespondent van die Londense Morning Post, het die grootste respek vir die manne van die veld – sommige beswaarlik 14 jaar oud – gehad: “What men they were, those Boers!”, skryf hy nadat hy deur die Boere krygsgevangene geneem is.

Die Boere se krygsvernuf het hul onsterflike roem laat verwerf. So stel veldmaarskalk Bernard Montgomery dit onomwonde in die Tweede Wêreldoorlog: “Give me two divisions of those marvelous fighting Boers and I will remove Germany from the face of the earth”. Amerika se generaal George Patton is ietwat krasser: “The Boers? Those sons of bitches fight for the hell of it!”.

Doyle se beskrywing van die Boere verdien vermelding hier:

“Take a community of Dutchmen of the type of those who defended themselves for fifty years against all the power of Spain at a time when Spain was the greatest power in the world. Intermix with them a strain of those inflexible French Huguenots who gave up home and fortune and left their country for ever at the time of the revocation of the Edict of Nantes.

“The product must obviously be one of the most rugged, virile, unconquerable races ever seen upon earth.

“Take this formidable people and train them for seven generations in constant warfare against savage men and ferocious beasts, in circumstances under which no weakling could survive, place them so that they acquire exceptional skill with weapons and in horsemanship, give them a country which is eminently suited to the tactics of the huntsman, the marksman, and the rider.

“Then, finally, put a finer temper upon their military qualities by a dour fatalistic Old Testament religion and an ardent and consuming patriotism. Combine all these qualities and all these impulses in one individual, and you have the modern Boer—the most formidable antagonist who ever crossed the path of Imperial Britain. Our military history has largely consisted in our conflicts with France, but Napoleon and all his veterans have never treated us so roughly as these hard-bitten farmers with their ancient theology and their inconveniently modern rifles.”

ʼn Mens moet in gedagte hou dat die Tweede Vryheidsoorlog deur die Eerste voorafgegaan is: In 1881 het die Suid-Afrikaanse Republieke wapens opgeneem teen Engeland. Hierdie oorlog eindig in ʼn verpletterende nederlaag vir Engeland by die Slag van Majuba. Dit is wat jy vandag op Wikipedia oor Majuba kan lees:

“The Battle of Majuba Hill on 27 February 1881 was the final and decisive battle of the war. It was a resounding victory for the Boers and the battle is considered to have been one of the most humiliating defeats of British arms in history.”

Dis nie te vergesog om te glo dat die pynlike les van Majuba steeds in die Britse agterkoppe gebrand het toe die tweede vryheidstryd aanbreek nie. Die Boere het ook nie toegelaat dat hulle dit vergeet nie: Op ʼn foto, geneem tydens die tweede Anglo-Boereoorlog, verskyn die woorde: “Remember Majuba, boys!” in ʼn woonhuis, aangebring deur ʼn onbekende Boere-kryger wat duidelik Engels magtig was.

Hoewel die Eerste Vryheidsoorlog tussen Brittanje en die ZAR was, het daar etlike Vrystaters ook deelgeneem. Die bekendste hiervan was sonder twyfel Christiaan de Wet, toe ʼn veldkornet, volgens Eric Rosenthal in sy biografie oor hierdie merkwaardige man. Kommandant-generaal Piet Joubert was die oorhoofse Boerebevelvoerder, maar die slag is eintlik gelewer deur generaal Nicolaas Smit. Engelse magte onder generaal Pomeroy Colley het die berg, Majuba, die nag van die 26ste tot 27ste Februarie beset. Daar was net een raad: Kry hulle af!

Volgens oorlewering sou Smit voor die bestyging van die berg gesê het: “Die wat nie lafaards is nie, volg my!”. Colley was volgens Christiaan de Wet se vertellinge een van die eerstes wat geval het. Ná die slag gelewer is, het die burgers en die Britte die gesneuweldes saam begrawe en ʼn diens gehou. ʼn Enkele Boer is gedood, teenoor 226 Britte wat gesneuwel het en gewond is. President Jan Brand het ingegryp en vrede beding. Hoewel sy land nie amptelik aan hierdie oorlog deelgeneem het nie, het hy die Vrystaters wat hulle aan Transvaal se sy geskaar het op ʼn vaderlike wyse betig met die woorde: “Stoute seuns!”.

Die Natalse gebergtes blyk vir Brittanje een voortgesette nagmerrie te wees, want in die Tweede Vryheidsoorlog word hulle opnuut verslaan by die Slag van Spioenkop – op ʼn maand na byna presies 19 jaar na die debakel op Majuba. By die voorafgaande Slag van Nicholsonsnek (Lombardskop) neem De Wet en sy makkers digby 1 000 Britse troepe gevange – die grootste oorgawe van Britse magte sedert Napoleon. Nog later gebruik die Boere kommando-oorlogvoering. Soveel ontsag – ʼn eufemisme vir vrees – het Engeland vir die vlugvoetige Boerekommando’s gehad dat die woord “kommando” in die Engelse taal vervat is: met ʼn “c”. Vir my was De Wet sonder twyfel die grootste veldheer aan beide kante van hierdie oorlog wat Afrikaner-identiteit help definieer het.

Boere wat geveg het in die slag van Majuba. (Argieffoto)

Met die vredesluiting ná Majuba word die ZAR se onafhanklikheid grootliks in ere herstel, met die uitsondering van ʼn vae klousule van “Britse susereiniteit” – iets wat die Britte laat inglip het om hulle vernedering ietwat te verlig. In Mei 1883 word president Paul Kruger na Londen gestuur vir onderhandelinge. ʼn Nuwe konvensie word opgestel en hierdie keer word daar geen dooie woord gerep oor “susereiniteit” nie. Volgens die kenner, Frans-Johan Pretorius, het eerste minister Joseph Chamberlain verkies om hierdie beginsel te ignoreer toe hy en sy mede-aards-imperialiste, Alfred Milner en Cecil John Rhodes, die vlamme van haat en oorlog teen die ZAR in die laat 1890’s begin aanblaas het.

Jan Brand is in 1882 tot ridder deur Engeland geslaan en was bekend as Sir John Brand. Hy was ʼn regsgeleerde en besonderse staatsman wat die Vrystaat in die sogenaamde “modelstaat” omskep het. Hy het ook die Vrystaatse diamantregte by Kimberley vir 90 000 pond aan Engeland verkoop – heeltemal te min in terme van die edelstene se werklike markwaarde. Brand stig egter met hierdie meevallertjie die Vrystaat se eie Nasionale Bank wat finansieel baie beteken het vir die Boererepubliek. Dit word dikwels uit die oog verloor dat hy deur hierdie transaksie die Vrystaat ʼn uitlanderprobleem gespaar het – wat regstreeks die oorsaak was van die uitbreek van die latere oorlog tussen die Transvaalse Republiek en Brittanje.

Na die Eerste Vryheidsoorlog het vrede oor die Vrystaat en, in ʼn mindere mate, oor die Transvaal geheers. Engelsman en Boer het goed oor die weg gekom, aldus Deneys Reitz, wie se pa, FW Reitz, nie net president van die Vrystaat was nie, maar ook ʼn digter van formaat. Die Basoetoe-oorloë in die Vrystaat was iets van die verlede met die inspirerende slagspreuk van Jan Brand: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen”; en ná die heldedade van generaal Jan Fick, ter ere van wie ʼn standbeeld op die dorp wat sy naam dra, Ficksburg, deur ʼn “dankbare publiek” opgerig is. Plase is in die verowerde gebied toegeken. Een van die bekendstes behoort vandag nog aan Christo en Helena Roos van Bokpoort(2) tussen Clarens en die Golden Gate-park, waar ek soms oornag het onderweg na Lesotho. Nie te ver van die Katsedam af, in die Maluti’s, kon ek een dag ná ʼn twee uur klimtog die grot vind waar die handtekeninge van ene “Paul Kruger” uitgegraveer is: ware identiteit onbevestig. Dis neffens die nouliks-begaanbare roete met die beskrywende naam van White Man’s Pass – klaarblyklik ʼn verwysing na Jan Smuts se uitmergelende trek deur Basoetoland toe hy die Kaapprovinsie met Deneys Reitz en ʼn paar honderd ander verflenterde burgers binnegeval het. Ewe betekenisvol is die beskrywing “God Help Me” vir ʼn ander skrikwekkende pas as jy suidwaarts van Katse af beur op pad na Maseru.

Daar het ek dikwels namens die Gesamentlike Permanente Tegniese Kommissie van Suid-Afrika se departement van waterwese(3) beraadslaag met verteenwoordigers van die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsowerheid, in Engels afgekort as die LHDA. Ons moes maniere vind om saam te werk, want ingevolge ʼn komplekse bi-nasionale ooreenkoms het ons twee lande die reusagtige Lesotho-Hoogland-waterprojek met die Katsedam as middelpunt saam aangepak.

“Kom ons kyk waar ons is op die kaart”, val ek weg met ons eerste vergadering saam met Ntate Matete, my eweknie in Maseru. En ek het ʼn kaart byderhand. “Aikona Morena Massyn”, beduie mnr. Matete, en hy pluk sy eie kaart uit. Op die Lesotho-kaart is al die plekname in die Oos-Vrystaat in Sesotho aangebring! En dit was die kern van die probleem – die bevolkingsamestelling en om te bepaal wie se grond dit nou eintlik was.

The Boers were our enemies”, kry my kollega dit uiteindelik ietwat emosioneel uit. Reeds in 1884 dui ʼn sensus aan dat daar 60 000 blankes in die Vrystaat was, maar 120 000 swartmense, waarvan die oorweldigende meerderheid Suid-Sotho-sprekend was.

Vreemd soos dit mag klink, neem Engeland kort ná die beëindiging van die Tweede Vryheidsoorlog drie van die Boeregeneraals wat hul lewens vir drie jaar lank die meeste vergal het, op hul koste na Londen. Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha word deur hul “vyande” getrakteer soos min op die luukse Saxon-stoomskip. Die kaptein behandel hulle met die grootste hoflikheid. Duisende mense wag hulle in toe die Saxon in Augustus 1902 in Southampton vasmeer. Hulle word deur die burgemeester self verwelkom. Oral waar hulle in Londen gaan, wag reuseskares die drie krygers van die veld in. Hulle word soos helde ontvang. “Three cheers for good old De Wet”, weergalm dit oor die Britse hoofstad. Botha se 10-jarige seun, wat vir 18 maande saam met sy pa op kommando was, beleef dit alles.

Ironies genoeg, het die Transvaal reeds weer in 1906 – en die Vrystaat in 1907 – outonome selfregering(4) bekom: dit is verantwoordelike regering genoem. In 1910 word Suid-Afrika ʼn unie. Dit verdien vermelding dat die Afrikaners van die twee Boererublieke nooit enige begeerte gehad het om oor die hele Suid-Afrika te heers nie: al wat hulle verlang het, was onafhanklikheid en selfbeskikking. Met Uniewording, bevind hulle hulself – ongevraagd – in die posisie dat een van die Boereleiers, generaal Louis Botha, as eerste premier aan die roer van sake in Suid-Afrika as ʼn eenheidstaat staan. By verstek regeer Botha se unie-kabinet, volgepak met Afrikaner-Boere wat enkele jare vantevore in ʼn bitter stryd vir vryheid soos hulle dit begryp het geveg het, nou oor ʼn nuutgevormde Suid-Afrika, wat die twee voormalige Britse kolonies, Natal en Kaap, insluit.

Sannaspos en Krisjan de Wet is sinoniem. Dit was daar buite Bloemfontein dat hierdie Vrystater met sy immerteenwoordige handsambok ʼn professionele Engelse leëreenheid – dit het kanoneenhede en “Robert’s Horse” ingesluit – onder generaal Robert George Broadwood ʼn liederlike loesing toegedien het. Ek het ook rede om Sannaspos nie te vergeet nie. Ons doen terreinbesoek op die slagveld. Daar kry ons toe die kans om met ʼn Martini-Henry te skiet. Ek wen die prys as beste skut, maar ek het later gewonder of dit so ʼn eer was. My regterskouer was dae later nog steeds potblou soos die gevaarte my geskop het. De Wet-standbeeld – op Fleur – staan vandag nog by die Raadzaal in Bloemfontein. Daar is nog een van hom in die Hoge Veluwe Nasionale Park in Nederland, wat De Wet se aanhanger Helen Kröller-Muller laat oprig het. Selfs De Wet se verjaarsdag, 7 Oktober, is in die Britse media uitgebasuin. Die bestuur van Madame Tussauds, die bekende wasmuseum in Londen, het hierdie Boer soveel bewonder dat hulle besluit het om hom ʼn ereplek in hul uitstalling te gee!

Voetnote

  1. ʼn Britse joernalis, WT Stead skryf: “Every one of those Boer children who died as a result of the halving of their rations, thereby exerting pressure onto their family still on the battlefield, was purposefully murdered. The system of half rations stands exposed stark and unashamedly as a cold-blooded deed of state policy employed with the purpose of ensuring the surrender of men whom we were not able to defeat on the field.”
  2. Die eerste Roos het in 1865 sy plaas in die verowerde gebied gekry. Toe Majuba bestorm is, was assistent-veldkornet Stephanus Roos een van die Boere-aanvoerders.
  3. Om dit nog meer ingewikkeld te maak was ek op die betaalstaat van die Trans-Caledon-tonnelowerheid! Die TCTO was getaak om die Suid-Afrikaanse deel van die bi-nasionale projek te bestuur.
  4. Dit het plaasgevind toe Sir Henry Campbell-Bannerton Engeland se eerste minister was.
  5. De Wet het met slegs 350 manne die gek geskeer met ʼn Engelse leër van 2 000 manskappe, 480 soldate gevange geneem, en sewe kanonne en 117 voorradewaens gebuit.
  • Pierre Massyn is die gewese kommunikasiebestuurder van die Lesotho-Hoogland-waterprojek en voormalige lid van die Oorlogsgraftekommissie van Suid-Afrika. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.