Vinkel en koljander vir die tuin

Deur Karen Viljoen

(Foto: Karen Viljoen)

Wat ʼn pragtige gesegde wat ons almal ken; vinkel en koljander, die een is soos die ander. Min mense besef dalk dat dit werklik twee kruiesoorte is wat gebruik word om iets te beskryf wat baie dieselfde is of lyk. Hierdie kruiesoorte lyk baie na mekaar en word albei gekweek vir die gebruik van hulle blare en sade.

Elke keer as ek aan die natuur, of spesifiek plante dink, is ek opnuut bewus van die besonderhede van God se Skepping. As ons die gesegde letterlik en geestelik ervaar kan ons aflei dat die Here wil hê dat ons elke dag meer soos Hy sal word, sodat ons dieselfde begin “lyk” as Hy. Wat ʼn groot verantwoordelikheid is dit nie.

Kruie word beskryf as enige plante of plantdele wat gebruik word vir die geur van kos en drinkgoed, medisyne, aroma of parfuum. Dink net hoe sou jou gunsteling-dis smaak sonder die geur van ʼn lekker krui. Hoe sal lekker lamsboud nou sonder roosmaryn proe, of ʼn pastagereg sonder oreganum, slaai sonder roket of pesto sonder basiliekruid?

Gelukkig is kruie algemeen beskikbaar en eintlik baie maklik om te kweek. Hier is ʼn paar belangrike dinge om in gedagte te hou as jy jou eie kruietuin wil begin:

  • Kruie wil graag volson hê, nie minder as ses ure per dag nie.
  • Grond moet baie goed dreineer.
  • Gebruik goeie kompos wat sal sorg dat die grond los voorkom.
  • Kruie hou nie van nat wortels nie (water moet dus vinnig kan dreineer)
  • Kruie moet reg geoes word.
  • Plant kruie wat jy weet jy gaan gebruik.
  • Hou in gedagte dat kruieplante groot kan word en nie verdring wil word deur ander plante nie.

Kruie kan uiteraard vars of gedroog gebruik word, maar onthou hoe varser hoe meer aroma en geur. Die beste tyd om kruie vir hulle blare te oes, is wanneer hulle olievervaardiging ʼn hoogtepunt bereik het. Dit is dus wanneer hulle aroma die sterkste is. Dit is die beste om kruie vroeg in die oggend te oes. Gebruik sommer jou vingers om die deel wat jy wil hê af te knyp, of ʼn snoeiskêr sal ook werk. Die kruieplant kan soms in geheel gebruik word, met ander woorde die blare, sade, blomme en wortels mag bruikbaar wees.

Blare: Kruie wat gaan gebruik word vir hulle blare, soos basiliekruid, grasuie, koljander, roosmaryn, tiemie, kruisement en salie moet gepluk word voordat dit blomme maak. Sodra die blomme begin vorm sal die plant minder blare produseer. Moet ook nie al die blare op een slag oes nie, sorg dat daar altyd 25% van die plant oorbly vir die volgende seisoen. Hou dus die plante dop en sou jy sien die blomme begin vorm, breek of sny dit dadelik af. Sitronellablare wat gekneus is werk baie goed as vlieg- en muskiet-afweerder.

Sade: Sodra die sade van kleur verander – van groen na bruin of grys, kan dit geoes word. Oes die sade voordat die peule oopmaak en verseker so hulle varsheid. Voorbeelde sluit in koljander, vinkel en anys.

Blomme: Kruie wat vir hulle blomme gebruik word, soos kamille, laventel en koringblom se blomme moet gepluk word voordat dit heeltemal oop is. As die blom te oop is verloor dit geur en olie-inhoud. Blomme van kruie kan ook geoes word omdat hulle net mooi lyk. Dink aan laventel, komkommerkruid, duisendblad en selfs roosmaryn.

(Foto: Purves, M./Wikipedia)

Wortels: Kruie soos vinkel, sigorei, gemmer en peperwortel se wortels word geoes sodra die blare vervaag (sal geel of bruin vertoon). Trek die hele plant uit die grond en knip die takke en blare af.

Voorbeelde van kruie wat ʼn bietjie minder sonlig kan verdra sluit in pietersielie, suurlemoenbalsem, grasuie, tiemie en kruisement. Sou jy min spasie in jou tuin hê, sal kruie ook baie goed in potte groei. Sorg dat die pot genoeg sonlig kry en vul met goeie kompos. Oorweeg ook ʼn vertikale tuin wat beplant is met kruie. ʼn Vaal muur naby aan jou kombuis sal ideaal wees, hou in gedagte dat die muur warm sal bak en die kruieplante meer gereeld sal water nodig hê.

ʼn Baie gewilde mode deesdae is om vir jou kruiebakke te bou, hetsy met stene of hout. Dit sal sorg vir meer gemak as jy jou kruie wil plant of oes en dit verseker ook dat daar ʼn groot hoeveelheid goeie grond beskikbaar is vir die plante.

(Foto: Karen Viljoen)

Jou katte sal baie bly wees as jy vir hulle kattekruid plant. Hulle hou daarvan om daarin te rol of om die blare te eet en dit het ʼn kalmerende effek op hulle.

Kattekruid (Foto: www.veseys.com)

Die meeste soorte kruie is heeljaar beskikbaar en sal aktief groei toon, een uitsondering is basiliekruid wat nie in die winter beskikbaar is nie.

Basiliekruid (Foto: Magda Ehlers/Pexels)

Sou jy kruie vir medisinale doeleindes gebruik, hou asseblief in gedagte dat jy goed ingelig moet bly met die gebruike en raadpleeg jou mediese kenner hiervoor. Onthou ook om nie gifstowwe op jou kruie te gebruik nie. As jy wel ʼn plaagbeheerder gebruik moet jy seker wees van die inhoud en die gebruiksaanwysings voor jy dit inspan.

Na ʼn lang en uitputtende dag kan jy ʼn bossie kruie aan die bad se kraan hang sodat die water daardeur spoel. Roosmaryn, kamille, peperment en laventel werk goed en sal ʼn heerlike geur versprei en sal jou help ontspan.

Kruie word ook baie gereeld in die Bybel genoem. Mirre is ʼn kruid waarvan daar olie gemaak is wat genesende eienskappe het en dit is ook gebruik as balsem. Die olie word ook gebruik om iemand mee te salf om sodoende ʼn geestelike en emosionele opheffing te verkry.

Ons lees in 2 Korintiërs 2:15 – “Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg.” Ons as Christene moet dus in ons alledaagse lewe onthou om ʼn lieflike geur te versprei onder alle mense sodat ons optrede soos ʼn reukoffer vir God sal wees. Gebruik kruie uit jou tuin, wat ʼn heerlike geur versprei, om jou elke dag hieraan te herinner.

  • Karen Viljoen is landskapargitek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.