Vir watter etikette gee jy mag?

Mizanne Hattingh. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Vet, maer, lelik, mooi, vol plooie, te veel rolle, te min rolle, klein boude, groot boude, kierietjiebene, plat maag, groot pens.

Elkeen van ons het ʼn ou sakkie klippe wat ons saamsleep, hetsy dit gaan oor hoe jy lyk of hoe jy oor jouself voel. Dit wat egter deesdae by my bly vassteek, is hoeveel mag ons aan elkeen van ons klippies gee.

Ek het ʼn ruk gelede besluit dat ek myself nie meer aan die woord “vet” gaan steur nie.

Die ou drieletterwoordjie volg my al my lewe lank, en ek het moeg geword daarvoor dat my bloed stol elke keer as ek dit hoor. Ek het ook lank toegelaat dat die blote idee van vet-wees – wat in verskillende stadiums van my lewe verskillende dinge beteken het – telkens my dae omvergooi.

Ek onthou hoe ek in my studentejare elke dag, oudergewoonte, op die skaal geklim het. Ek onthou ook hoe daardie syfer so maklik kon bepaal hoe my dag verloop, en indien ek nie tevrede was nie, het die woorde in my kop bly ronddraai: “Jy is vet, en niemand gaan van jou hou nie.”

Wie het in elk geval besluit dat “vet” sinoniem met “lelik” of “sleg” is? Is dit dalk omdat ons ons lewens lank moes hoor dat jy bietjie hier moet timmer aan ʼn rol of twee, of daar moet karring aan die selluliet op jou bobene?

Ek het twee maande gelede die besluit geneem om – ter wille van my gesondheid – my liggaam weer ʼn prioriteit te maak. Ek het besef dat ek teen die ouderdom van 30 met ʼn rits kwale en ʼn string daaglikse pille gaan sit, en dit het my opgevreet.

Intussen kon ek darem al 17 kilogram afskud, en voel steeds netso gemotiveerd soos die eerste dag van my nuwe leefstylprogram om die reis voort sit totdat ek my doelgewig bereik het. Daar is nog sowat 28 kilogram oor, maar ek probeer myself nie te veel steur aan die groter prentjie nie, en fokus eerder op kleiner doelwitte – soos vyf kilogram. Ek gaan nou nie myself verbeel dat perdemis vye is deur te sê dat ek nooit dink aan ʼn bord sushi of ʼn spek, feta en avokado-pizza nie, maar elke keer wat ek dit regkry om nee te sê vir die versoekings, beskou ek dit as ʼn persoonlike oorwinning.

‘n Foto wat verlede jaar geneem is. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Ek weet nie of dit nou maar ʼn geval is van “ek het ʼn rooi motor gekoop, so nou sien ek net rooi motors raak” nie – maar ek kom beslis agter dat daar verskriklik baie mense is, in my eie binnekring en vreemdelinge, wat ook op ʼn gesondheidsreis is dié jaar.

Dit bly my by – ons elkeen is op ons eie ou paadjie, besig met ons eie uitdagings om ons eie berge te klim. Jy sal nooit weet wat in ʼn ander se hart aan die broei is nie, en jy sal nooit weet waarom daardie persoon juis nou besluit het tot hier toe en nie verder nie.

Jy loop dalk verby ʼn vrou en dink “sjoe, dié vrou is geseënd met haar bruingebrande bene en maer lyf. Ek wens ek het soos sy gelyk.” Minwetende natuurlik dat sy haar lewe lank al sukkel met ʼn eetversteuring en elke dag van haar lewe wens dat sy uit die kloue van haar eie gedagtes kan ontsnap.

So kan jy ook na iemand kyk en dink; “nee man, dié enetjie met haar rolle is net te lui om te oefen. Hoe het sy haarself so laat gaan?” Ook minwetende dat sy elke aand in die bed klim en dink aan hoe sy die volgende dag gaan probeer om net klein bietjie minder te eet, en hoe sy sukkel om haar leefstylgewoontes net effens onder beheer te kry.

Ek was vir lank daardie laaste persoon, wat elke liewe aand van my lewe gaan slaap het met die skuldgevoelens oor alles wat ek daardie dag geëet het. Daar is ook talle mense wat nie een skeet of kwaal voel oor hul gewig nie, en beslis nie jou gewigsverliesraad gaan verwelkom nie.

Ons is so geneigd daartoe om etikette van “te maer”, “te vet”, “te wat ook al” rondom ons eie en ander mense se nekke te hang, dat enige vorm van empatie heeltemal by die deur uitgevlieg het.

Uiteindelik is jy die enigste een wat kan bepaal hoe sekere etikette jou gaan raak, en of jy gaan toelaat dat die woorde jou menswees gaan binnedring. En dalk, net dalk, is dit tyd dat ons weer met empatie na onsself en na ander begin kyk.

  • Hierdie rubriek is moontlik gemaak deur Slender Wonder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.