Vyf jaar van Maroela en een miljoen lesers later

Maroela Media is vyf jaar oud!

Maroela Media is vyf jaar oud!

Deur dr. Dirk Hermann – voorsitter Maroela Media

Oupa se Bosveldplaas lê ons almal na aan die hart. Op Oupa se plaas kuier ons binne en buite. In die huis kuier ons in Ouma se kombuis. Dit is veral in die winter wat die koolstofie ’n soort romantiek skep en ’n warmte na die kombuis bring. ’n Bietjie boeretroos in die hand en ek eet sommer die beskuit so nat. Ouma staan en vleg koeksisters vir later se bederf. Half skeef teen die muur hang ’n skildery van die breë weg en die smal weg en in die gang hang ’n skildery van ’n ossewa met wiele gelig soos dit teen die skuinste van ’n berg af sukkel.

As jy die Bosveld ken, ken jy ’n Maroelaboom. Op oupa se werf staan daar so ’n groot Maroelaboom met sy lang skaduwee. Die ou Maroelaboom is so groot en oud dat klein Pieter gedink het dat Abraham van die Bybel dit self hier moes kom plant het. Die Maroelaboom was die werf se buitekuierplek. Oor ’n lang tyd heen het die hele kontrei se mense in die ou Maroela se skaduwee kom kuier. Vir ’n ruk lank is Dingaansdag hier gevier en daar word oorvertel dat die waens oor die nagmaalnaweek daar gaan uitspan het en die nagmaaltafel was onder die boom.

Deesdae kom ons familie steeds hier by die boom bymekaar. Ons is maar ’n vreemde spul, iets van alles. Meeste van ons kom uit die stad. Ouma het vir almal byname gegee: Briljantjie, dis nou my leergierige boetie, Flambojantie, dis my swierige stadsneef, Prikkelpop, ouma se stekie na my oom se tweede vrou, Kanniedood, my oom wat in die Karoo-boer, Voorslag, ouma se witbroodjie en my raakvatter ouboet en Bakvissie, dis nou my snipperige kleinsus. Die mense in die distrik het vir Ouma die Tegnotannie genoem omdat sy gedurig op haar slimfoon is. So uiteenlopend as wat ons is, is die Maroelaboom ons gemeenskaplike kuierplek.

Al is ons verskillend bedraad, kan ons saam kuier. Ons kan sommer ’n dag lank so al agter die Maroela se skaduwee aantrek en dan kuier ons ’n hond uit ’n bos oor alles en nog wat. Die ou boom word dan speelplek, konsertplek, politiekpraatplek, nuusplek, boekevatplek en natuurlik is dit ook die plek waar daar so ’n titseltjie geskinder word ook. Die boom is sommer net almal se plek.

Afrikaanse mense het mos almal ’n stuk plaas in hulle of ten minste is daar dinge van die plaas en ons verlede wat ons met nostalgie vul. Maroela Media wil vir sy gemeenskap ’n stuk Afrikaanse belewenis gee – ’n goeie mengsel van nostalgie en die moderne; ’n plek waar jy in Ouma se kombuis kuier of saam met die kontrei se mense onder die groot Maroelaboom, met slimfoon en tablet, sit in kuier.

Dit is anders as gewone kommersiële nuus- en tydskrifblaaie. Maroela Media het van die begin af sy eie karakter gehad. Maroela se lesers is nie verbruikers wat ’n fooi betaal vir ’n diens nie; hulle is familielede wat kom kuier en praat oor die nuus, politiek, vermaak, sport, die kunste en nog vele meer.

Mense ontvlug so ’n bietjie na Maroela toe. Om hulle woed ’n dolle gejaag, maar Maroela is jou boom, jou plek waar jy wel ’n koeksister mag eet en sê dit is deel van wie ek is.

Dit is Maroela se unieke staanplek. Hy het ontstaan vanuit ’n gemeenskapsbeweging, die Solidariteit Beweging en staan met sy gesig na die gemeenskap toe. Kommersiële media staan met hul gesig na die aandeelhouer toe en ongelukkig staan openbare media, soos die SAUK, met hul gesig na die staat toe. Maroela ken sy gemeenskap, verwoord hul gevoelens en verstaan hul kollektiewe onderbewuste. Sy lesers is aan mekaar verbind en hulle voel dit aan.

Binne vyf jaar het Maroela sy eie gemeenskap gebou. Afrikaanse mense hou daarvan; daar is baie van hulle wat daarvan hou. ’n Miljoen unieke lesers per maand hou daarvan. Soveel mense hou daarvan dat Maroela Media nou die tweede grootste Afrikaanse webblad in Suid-Afrika is. As al Maroela se unieke lesers per maand, met uitgestrekte arms teen mekaar staan, sal die tou van Maroela-ondersteuners van Pretoria tot in die Kaap strek.

Maroela kan nie meer geïgnoreer word nie. Aan Susan Lombaard en haar ywerige, energieke en kreatiewe span wat die Maroela-konsep uit niks uit geskep en uitgevoer het, baie geluk en baie dankie.

Die Maroelaboompie het klein begin. Ons was die eerste jaar nie onder die top- 7 000 webbladsye in Suid-Afrika nie. Vyf jaar later en die Maroelaboom het al hoe groter geword en gooi al hoe meer skaduwee vir al hoe meer mense uit die kontrei wat op die tafel onder die boom ’n groot vyfjaarviering hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ivor ·

Baie geluk! Mag die Liewe Here almal by Maroela seen en mag Maroela van krag tot krag gaan. Baie dankie vir ‘n puik koetant. Groete. Ivor.

Suidwes Plaasjapie ·

Baie geluk. Trots Afrikaans met maniere. Hou so aan. Interessant. My Vrydae leesstof.

Wern ·

Baie dankie Maroela vir alles wat julle vir Afrikaans, gratis nuus en mediavryheid doen! Mag die volgende 5 jaar selfs nog groter groei sien.

Karma ·

Geluk, Maroela Media, met die eerste 5 jaar. Hoop die volgende 5 jaar gaan net so geseënd wees en dat julle bietjie minder “prim en proper” sal wees sodat selfs kommentare wat nie heeltemal so polities-korrek is, al is dit geredigeer, kan verskyn. Dit help nie ‘n mens het “Gratis nuus in Afrikaans”, maar jy durf nie jou eie, ware opinie lug nie, want die forum se baie spesifieke vooropgestelde idees oor wat aanvaarbaar is en wat nie.

Fransie ·

Baie geluk julle en mag julle goeie werk van krag tot krag gaan. Ek het ‘n baie stressvolle werk – wanneer ek na werk by die huis kom, gooi ek vir my ‘n glas wyn en gaan sit dan om Maroela Nuus te lees – sodoende ontspan ek heerlik voor ek my volgende skof begin … kosmaak, ens. Baie dankie en geluk nogmaals.

André ·

Goeiedag en Baie geluk Maroela op 5jr van goeie uitstekende kommunikasie. Ek kan my assosieer met dr Dirk Hermann en Susan Lombaard se goeie webwerf. Stories waar, ookal, onder Maroela-boom, kombuis of elektronies vandag. Koeksiter eet,- dis myne. Nooit hoef ons opsy te staan vir staatsbeheerde netwerke wat dink dis 24uur nie. Ek geniet die koerant. Baie geluk!!!

Kobus ·

Baie geluk Dirk, die mense is daagliks met julle, met jul goeie werk. Julle, Solidariteit, Afriforum met al jul vertakkinge het die gesig van Afrikaans geraak.

Dankie daarvoor, en jul visie, ook aan Susan.

Wat wel so is, is dat die realiteit ook met julle is en julle sal meer harde nuus moet plaas. Ek sou graag Johann Rupert se artikel wat nie vir my vandag op Netwerk24 beskore is om te lees nie, op Maroela sou wou sien.

Julle sal in die toekoms nie kan ontsnap van om meer tersaaklike nuus aan jul lesers te verskaf nie.

So is daar ander politieke insette en berigte van skrywers wat die pad vorentoe aan gee, en waaraan julle aandag sal moet gee.

Julle sal meer as net ‘n kuierplek moet raak, ons gaan ook van julle afhanklik raak vir daardie breë dekking.

Hes5er ·

Sonder dat ek bewus was dat Maroela Media 5 jaar oud is, het ek nou net op ‘n ander kommentaar plek hulle lof besing! Baie geluk, en ons is trots op julle. Maroela Media is voorwaar ‘n groot plesier om te lees. As mens iets wil lees, gaan dit vinnig in, en die nuus word feitelik korrek oorgedra, sonder sensasie. Baie dankie! God seen julle harde werk!

Gallie Vermeulen ·

Baie geluk Maroela Media ek hoop daar is nog baie jare se Afrkaanse nuus wat voorle. Ek geniet julle baie. Nog maals dankie en voorspoed vir die jare wat kom.

Ignatius ·

Van my kant af wil ek Maroela Media baie geluk wens met verjaarsdag.Lank lewe Maroela media,lank lewe Afrikaans, die mooiste taal.
Bou voort om ons mooi taal suiwer te hou.

Santie ·

Baie geluk Maroela en moet asseblief niks aan julle resep verander nie. Daar is genoeg harde nuus oral en ‘n mens probeer juis wegkom van die eindelose negatiewe kommentaar van die klomp suur, verbitterde Afrikaners wat hulle geld op die verkeerde perd gesit het en nou links en regs skel en beskuldig in plaas van erken dat hulle nog die hele tyd verkeerd was. Ek wil wees waar die son skyn, waar die wenners is, en dit is by Maroela. Moet asseblieftog nie die verbitterdes en hulle menings ‘n voet in die deur gee nie, hulle bitterheid is soos ‘n donker, stinkende kombers wat oor ‘n mens val en jou dag kom bederf. Bly die vriendelike, positiewe kuierplek wat julle is. xxxxx

Heidi ·

Mal oor Maroelamedia! Baie geluk en sien uit na jare se leesgenot

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.