Waar is die kortpaaie na rykdom?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pexels/Karolina Grabowska)

Vroeër die maand lees ek ʼn stuk oor finansiële nihilisme.

As ek nihilisme baie eenvoudig kan definieer: dit is die konsep dat niks betekenisvol of waardevol is nie, en staan skepties oor tradisionele waardes. Daar is baie strominge van hierdie filosofiese beskouing – soos dat menselewens nutteloos is, en sulke positiewe dinge.

Finansiële nihilisme is dan die bostaande, maar van toepassing op, reg geraai, finansies.

Ek gaan nie in te veel besonderhede in gaan nie – gaan lees gerus die artikel – maar ek wil ʼn paar goed uitlig. Die skrywer, Travis Kling, definieer finansiële nihilisme as sodanig: die idee dat lewenskoste mense laat verdrink, en om “op” te skuif vir al meer mense nie moontlik is nie.

(Let net daarop dat die artikel Amerikaans by uitstek is, en dus fokus op die VSA.)

Kling argumenteer onder meer dat hierdie finansiële nihilisme een van die dryfvere van die mark vir kriptogeldeenhede (ʼn skrywe vir ʼn ander dag), en selfs dobbel is.

Nou, die filosofie val beslis buite die bestek van hierdie skrywes, maar ek het baie gaan tob oor die artikel hierbo. Ek stem nie saam met alles nie, maar daar is stof tot nadenke, en ek dink lesse wat ons daaruit kan myn.

Soos jy seker kan aflei, is ek nie so fatalisties nie. Ek dink baie van ons heil is in ons hande, en dat wanhoop ons nêrens bring nie. Die Groot Boek praat immers van geloof, hoop en liefde wat vir ewig sal staan.

Met hierdie as agtergrond dan: Hier is hoe jy nog steeds kan strewe na finansiële vooruitgang, al gaan dit swaar daarbuite.

Gaan sien jou finansiële persoon vir spesifieke advies, hierdie is natuurlik net oorsigtelik.

Jy hoef nie te dobbel nie

Die Indiese sakeman, Ratan Tata, het gesê: “Slow success builds character; fast success builds ego”. Hy het in die konteks van ʼn firma gepraat, grootliks, maar dit geld ook vir ons persoonlike finansies.

Natuurlik is daar menigte ander denkers wat soortgelyke sentimente eggo, maar die beginsel is dit: so gewonne, so geronne.

Dit is so dat ons as mense oorskat wat ons in die korttermyn kan bereik (“ek is seker ek kan die kombuis uitverf in twee ure”), en onderskat wat ons kan bereik in die langtermyn (“ek gaan nie hierdie R100 elke maand spaar nie, want dit is elk geval te min”).

Hierdie is nou ʼn aanloop om te sê: daar is nie kortpaaie na dinge wat eintlik lank vat nie. Elk geval nie betroubare en herhaalbare paaie nie.

Wat ek bedoel is dit: as jy die Comrades wil hardloop, gaan jy tekkie op teer moet sit. Jy kan al die pille in die wêreld drink en daai dinge van die TV koop wat jou maag skok om jou glo fiks te maak.

Maar sonder om die werk in te sit, gaan jy nie uitkom waar jy wil nie. Of dan: gaan jy nie Polly Shorts oorwin nie.

So is dit, meestal, ook met geld. Natuurlik is daar stories van mense wat die lotto wen, of vinnig geld maak uit kripto, of vroeg ingekoop het in Tesla, of wat ook al.

Vir die gemiddelde mense, egter, is die pad na (relatiewe) finansiële vryheid deur die lang ene. Spaar elke maand, oor ʼn lang tyd, moenie onnodige skuld aangaan nie, moenie jou pensioen onttrek as jy bedank nie, so aan.

Is dit so lekker storie soos jou neef Petrus wat vroeg in KI (kunsmatige intelligensie, nie inseminasie nie) belê het en nou brandewyn op die Amalfikus drink?

Nee. Maar! Dis repliseerbaar, menende ons almal kan dit (meestal) doen met selfdissipline. En jou neef Petrus vertel dalk nie van die sakeondernemings en alternatiewe beleggingsgeleenthede wat dit nie gemaak het nie. Of sy vriende wat duisende verloor het nie.

Dis ongelukkig so: daar is nie kortpaaie nie.

Maar regtig, glo my oor die langtermyn

Daar is een manier om te kroek in spaar, en dis saamgestelde rente. Die wat dit verstaan, verdien dit, en die wat nie doen nie, betaal dit.

Saamgestelde rente is wanneer die groei op jou geld sy eie groei genereer. Dit begin klein, maar kry later ʼn allemintige momentum.

Ons breine is nie regtig aanmekaar gesit om dit te snap nie, selfs ek, wat elke dag met hierdie goed werk, is soms steeds verstom deur die impak daarvan.

Ek sku maar weg van syfers op hierdie ruimte, want ek vind mense se oë dop om as hulle grafieke en dies meer sien.

Ek wil wel net hierdie noem: die momentum wat ek hierbo genoem het raak regtig, regtig massief oor die langtermyn, en raak groter en groter oor tyd. Jy kan hierdie of inspan om vir jou te werk (soos om met jou eerste betaaltjek vir aftrede te begin spaar, aan te hou, en nie daai geld te onttrek nie).

Of jy kan dit betaal. As jy al huis of kar gekoop het op skuld, sal jy die impak daarvan sien. Ten minste in daardie gevalle koop jy ʼn bate. Dink nou aan al die kredietkaartskuld waar rente rente trek omdat mense dit nie afbetaal nie.

Ek weet aan watter kant van daai vergelyking ek eerder wil staan.

As jy dan moet “dobbel”

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Ek gebruik die term dobbel hier tong-in-die-kies vir kriptogeldeenhede. Ek dink daar is beleggingsgeleenthede daar.

Maar, soos met enige alternatiewe belegging moet jy bewus wees van die risiko’s. Soms is hierdie goed eenvoudig nie likied nie. Dis baie makliker om jou eenhede in die Blou Hande se gebalanseerde effektetrustfonds te verkoop as wat dit is om die kleikunswerke van Johanna van Saldanha te verkoop, en dan boonop teen ʼn prys waarmee jy gemaklik is.

In die geval van kripto, is daar al lang trane in hierdie land en oor die wêreld heen gehuil oor platforms wat interessante dinge aanvang met beleggers se geld.

Daar is nie kortpaaie na rykdom nie. As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik.

Dus: as jy in sulke riskante dinge belê, is dit verkieslik dat dit geld is wat jy bereid is om te verloor.

Natuurlik: niks is sonder risiko nie, selfs geld onder jou matras kan gesteel word. En dis juis die risiko wat jy neem wat die groei moontlik maak.

Maar is die kool die sous werd? En as die kool verdwyn, gaan jy nog jou rekeninge kan betaal?

Laastens

Spring gou terug na die R100 per maand-voorbeeld wat ek hierbo genoem het.

Gestel jy sit dit tog maar elke maand weg, vir tien jaar, en kry 10% opbrengs, sou jy gesit het met sowat R20 500. Dis R8 000 meer as die R12 000 wat jy elke maand weggesit het. Maak die termyn 20 jaar, en die bedrag word amper R76 000, teenoor die R24 000 wat jy self weggesit het.

En dis sonder dat jy jou bydrae verhoog.

Wat ek bedoel is dit: los die uiteet by die Spur, of hou op rook, of braai een aand hoender i.p.v. skaaprib, en spaar daai gelde. Toekomstige jy gaan jou bedank.

Saamgestelde rente is jou maatjie. Moenie lelik wees met hom en hom nie nooi na jou partytjie, elke jaar, nie. As jy nie doen nie, gaan iemand anders.

Hierdie reeks finansiële rubrieke is moontlik gemaak deur Solidariteit Helpende Hand. Finansiële welstand is vir Solidariteit Helpende Hand net so belangrik soos geestelike en fisiese welstand om holisties na ons gemeenskappe om te sien. Maak gerus ’n bydrae aan Solidariteit Helpende Hand sodat hulle ’n bydrae in die welstand van ons gemeenskappe kan maak. Volg gerus die skakel na hul webblad of gebruik die QR-kode om sommer dadelik ’n bydrae te maak.

(QR-kode verskaf deur Solidariteit Helpende Hand)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zonnebloem ·

Waar kry mens 10% opbrengs op R100 per maand spaargeld ?! Nie by die banke nie!

Vrijburger ·

“Slow success builds character; fast success builds ego” is ‘n groot waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.