Waar kruip jy weg, Afrikanervrou?

Foto:Wordpress.com

Foto:Wordpress.com

Ek was gelukkig vandag. Ek het ʼn kans gekry wat min ander vroue van my generasie ooit kry: om op reis te gaan saam met iemand uit ʼn ander era. Dit het gevoel asof dit my eie verhaal was wat vertel word: ʼn vrou wat nie bang was om nie polities-korrek te wees in ʼn tyd waar korrektheid ʼn makliker lewe beteken het nie. Dis interessant hoe die geskiedenis hom herhaal.

Ek ag myself ʼn moderne, Afrikaanse vrou.
Ek is gelukkig om in ʼn beroep te staan in ʼn roepingsgedrewe organisasie, wat die uitlewing van my persoonlike waardes maklik maak. Ek maak my kinders alleen groot, wat sekerlik steeds ietwat boheems geag word, maar ek glo ook dat verveling die doodskoot van kreatiwiteit is en ʼn lewe sonder kreatiwiteit is niks minder as die dood nie.

Ek wonder soms of daar min van ons is en of ons net nie van mekaar weet nie. Sterk, eiesinnige vroue wat so op hul eie manier die wêreld verander. Destyds was dit een basaar op ʼn slag, vandag slaan ons slae in professionele beroepe terwyl ons ons kinders grootmaak (dikwels alleen). Ons probeer die balans tussen respek en tradisie aan die een kant en gesonde nuuskierigheid en selfhandhawing aan die ander kant, saam met hulle vind. Dis nie maklik nie, maar die leeuetaak rus op ons, meer as op ons mans.

Ons kan stry daaroor, maar die lewe, veral die werkslewe, is steeds meer op die lewensbeskouing van ʼn man gebou, as op dié van ʼn vrou. Die verantwoordelikheid wat ʼn vrou dra om die huislike pligte, soos kinders versorg, na te kom, is selfs steeds in 2015 meer as ʼn man sʼn en steeds in 2015 nie goed vir ʼn vrou se loopbaan nie. Dis hartseer, veral as mens in ag neem dat daar steeds mans EN vroue is wat glo ʼn vrou se “hoogste roeping” is om vrou en ma te wees. Dit laat ons boheemses effens in die koue en dis interessant hoe M.E.R. in die 1920’s reeds standpunt daarteen ingeneem het. In kritiek teen ʼn kerklike standpunt oor die roeping van die vrou, het sy gesê: “… om ʼn vrou te wees, is maar ʼn lewensomstandigheid. Enige mens streef na iets hoër as homself en dit is ons hoogste roeping.” In die tyd toe die redakteur van die Huisgenoot (inderdaad die heer C.J. Langenhoven) hom skerp uitgespreek het teen die toelating van vroue tot die regsberoep (vroue is dan emosionele wesens wat slegs emosionele besluite kan maak), het dit ware durf gevat vir ʼn vrou om haar hak in te slaan en nee te sê.

Ek wonder wat sou M.E.R. en die ander vroue van haar generasie van ons gedink het? Ek neem aan ons gejaag na wind, ons soms doellose, gejaagde lewe sou hulle waarskynlik tegelykertyd gefassineer en met afgryse vervul het. Die feit dat ons mag kies wat ons wil word, dat ons mag voldoen aan ons eie soeke na selfverwesenliking, dat ons mag word wat ONS wil word, is ʼn voorreg wat hulle nie beskore was nie. Ons mag in enige rigting studeer, ons mag stem. Hulle het nie dieselfde gehad nie en was dit nie vir hulle nie, sou ons dit ook nie gehad het nie. En wat presies doen ons daarmee?

Dit bring my by my bekommernis: Wat doen ons met hierdie voorregte wat nou ons regte is? Waar is jy, Afrikanervrou? Ek sien jou nie dien op maatskappyrade nie. Ek hoor nie jou stem in raadsale nie. Ek sien jou nie op die nuus nie, ek hoor jou nie in die parlement nie. Waar is jy?

Is jy so besig om te sorg dat jy die nuutste grimeertegnieke bemeester en jou plekkie sorgvuldig agter jou man inneem dat jy vergeet het wat in jou murg aangaan? Het jy vergeet dat duisende van JOU voorsate opgeruk het na die Uniegebou om protes aan te teken teen die aanhouding van ʼn onskuldige man? Het jy jou oumagrootjies vergeet wat deur middel van die Handhawers gesorg het dat Afrikaans sy plek as algemene gebruikstaal inneem? Wie het jou rol gereduseer tot byspeler, terwyl jy gebore is om die kollig op jou te hê?

Ek kan dink jy is effe verward. Jy pas nie in die polities-korrekte skool van feminisme in nie, jou Afrikanerskap maak jou “voorheen bevoorreg”, ten spyte van die feit dat jy ook ʼn geskiedenis van verdrukking en lyding het. Jou oumagrootjies moes hul kinders in konsentrasiekampe aan die lewe probeer hou. Jy mag ook nie gestem het nie. Jy het, nes enige ander vrou in die geskiedenis van die mensdom, bitter min seggenskap oor jouself en jou lewe gehad. Die huidige politiese klimaat moet vir jou ook baie ongemaklik voel, nes dit vir my soms ongemaklik is: Jy word, ten spyte van jou vrouwees, steeds gemeet aan jou velkleur en in ʼn polities-korrekte “voorheen bevoordeelde” boksie geplaas. Daar is skielik grade van geslag en ras en die maklikste is om alles te ignoreer en in jou Fortuner jou kindertjies by jou estate se kleuterskool te gaan aflaai, voordat jy by jou Crossfit-klas aansluit. Baklei is jou nie beskore nie, glo jy. En so mis jy ook jou kans om regtig te doen, regtig ʼn verskil te maak.

Ek verstaan baie Afrikaanse vroue het ʼn wesenlike probleem met die negatiewe konnotasie van die radikale feministiese beweging. Ons is lief vir ons mans en ons is ook Christene en ons glo dit beteken ons moet met hoofde gebuig, twee tree agter ons mans loop. Dis nie waar nie. Dis ʼn leuen wat ons onsself wysmaak sodat ons nie ons regmatige plek aan die voorpunt hoef in te neem nie. Ons het ʼn veilige, gerieflike wegkruipplekkie gekry, maar ons mis ook dan die punt: wanneer ons opstaan vir onsself en ons susters beteken dit nie ons is radikaal nie, dis die gevolg van logika en respek vir onsself. Wat leer jy jou dogtertjies, Afrikanervrou? Hoe leer jy jou seuntjies om vroue te behandel?

Ons geskiedenis het verhale wat vertel moet word. Stories oor vroue wat dinge vermag het onder omstandighede wat ons ons nie kan voorstel nie. Oorlewingsverhale, maar ook verhale van triomf en sukses.  Die goue draad is iemand wat na vore tree en haar plek volstaan. Dit maak nie saak hoe die houe val nie, die stryd moet gestry word. Die ongemaklike sake moet aangeroer word en die ongemaklike gesprekke moet plaasvind.

Waar is jou “kaalvoet oor die Drakensberge”-geveg vandag? Daardie vroue se bloed druis ook deur jou are en dit maak dat jy wil DOEN. Nie vra nie, nie smeek nie, doen. Bou aan ons land, sodat ons iets vir ons kinders kan nalaat.

Ek was meer bevoorreg as gelukkig vandag. Ek verstaan nou dat die lesse wat ons uit ons geskiedenis leer, ons gaan help om weer op te staan en weer ons regmatige plek in te neem en ek gaan nie stilbly totdat dit gebeur het nie.

Jahni Cowley

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

HEVW ·

Groot waardering vir ons vroulikegeslag. Kom laat ons hoor. Dit behoort n baie interessante debat te wees. Dieselfde kan vandag ook gevra word, waar is ons manne die onbetrokkenis en die oningeligdes in die huidige volksstryd. Baie al gedink miskien kan ons maar gerus afsien van ons rugby en vrykom van ons sportverswelging en ons toespits op wat meer tersake is naamlik ons christelike geloof en die bevryding van ons volk.

Jenny thom ·

Waarvan praat jy vrou. Ek is net hier!!!
Sy Volk is tans in die wildernis en onder verdrukking.
Verkeerde kleur, verkeerde ouderdom afgesien van die feit dat ek ‘n uitstekende diktafoontikster, ontvangs, skakelbord en/of admindame is. Afgesien van die feit dat jy lojaal, getrou, alleen ma, vriendelik, stiptelik, eerlik, hardwerkend is met hoe standaarde, beginsels en integriteit, ens, ens.
Ek gee nie op nie, maar bid vir my kinders, my volk en my vaderland. My oe gevestig op ABBA Vader Wie nie Sy Volk sal vergeet nie. Hy is ons enigste Hoop en Redder en sal op Sy tyd vir ons uitkoms gee. Hy is en bly Getrou en is altyd in beheer.

Jenny thom ·

Plaas julle nie my kommentaar nie? Wil maar net graag weet?

Jenny thom ·

Waarvan praat jy vrou, ek is net hier!!
In die wildernis en onder verdrukking, presies waar Vader se volk hom nou bevind.
Werkloos, verkeerde kleur, verkeerde ouderdom, afgesien van al jou goeie kwaliteite.
Ek bid vir my kroos, my volk en vaderland. ABBA Vader sal nie Sy volk vergeet nie. Hy was en is nog altyd daar en onvoorwaardelik in beheer. Hy en Hy alleen sal op Sy tyd ons Verlossing wees. Ons moet net op ons kniee bly, ons oe alleenlik gevestig en gefokus op Hom, ons enigste Hoop en Redding.

J Esterhuizen ·

Die Afrikaner vrou is daar. Maar sy praat Engels. Skielik skaam geword om Afrikaans te wees.

TANIA ·

Ek weer voor ek getroud is,was n FOURIE,mar ons as kinders het engels grootgeword,omdat my pa,n aangenome kind was,is deur n Britse Engelse getroude paar aangeneem -hulle self
kon nie kinders he nie. Hy het dus Engels groot geword en hulle het net engelse vriende
gehad. My pa is met n Suid Afrikaanse engelse vrou getroud en ons as kinders het dus ook
engels in die huis groot geword.Ek is al 17 jaar met n Afrikaanse man getroud en ek is n
MAREE- voor ek getroud is het ek 12 jaar gewerk.Ek het een voorwaarde gehad,toe my
man op sy kniee gaan om my hand te vra,en dit was ,dat ek ophou werk,en my eie kinders
grootmaak. Dit was vir my baie belangriker om my eie kinders groot te maak,as om my
beroep voort te sit en om geld te verdien. Ek was klaar in my dertigs en moes dink om
dadelik swanger te raak.Ek wou graag Ma en huishoudster wees.Ek wou MY WAARDES,aan my kinders oordra. Ek het ook groot geword met die siening,dat die vrou
se plek by die huis is,terwyl die man vir die familie finansieel sorg EN dat die Vader altyd
sal sorg dat jy genoeg het.My kinders altwee, is in Afrikaans groot gemaak,selfs hulle
skoolloopbaan-alles afrikaans,MAR op die anderkant het ons ook Engels bly praat in die huis,sodat hulle ook die Engelse taal kon leer en praat.Ek praat vandag vlot Afrikaans,
dat mense dink ek is Afrikaans groot gemaak en my man en kinders praat en skryf ALBEI
TALE VLOT. Alhoewel, ek eintlik my kinders Afrikaans groot gemaak het,is ek baie bly ,dat ek my kinders TWEETALIG groot gemaak het,want hulle het wel Engels altyd nodig in hulle
beroep voorentoe.Ek praat wel Engels,met ander wie Engels is,mar is nooit skaam,vir die
Afrikaanse taal nie,want omtrent 99% van ons vriende is almal Afrikaans -ek was n
FOURIE en is nou n MAREE -trots om te kan se ek is deel van die BOERE VOLK- hierdie VOLK,VANAF DIE LAND,OORKANT DIE RIVIERE VAN KUS!!

Isabella ·

A nee a! Watse selfbejammering is dit? Daai durf en moed van Deborah Retief en onse grootmoeders sien ek nog steeds in voorstedelike mamma’s wat talle balle in die lug (probeer) hou, baie maal sonder die hulp en ondersteuning van manlief, ouma of tante. Ek sien dit Sondagoggend wanneer sy saam met haar gesin, of soms net alleen met die kleingoed kom meeleef en aanbid, wanneer sy geduldig wag terwyl Boetman sy keuse tussen al die flieks in die video-winkel moet maak, waneer sy op haar eie onderhandel vir die beste prys vir haar voertuig se bande, saam met haar vriendinne kuier , slaai maak vir die vleisbraa, weet watter posissie ‘reg-by’ is in krieket en met ‘n frons haar dogtertjie se tutu stik…En…sy is TROTS Afrikaans!

Ant ·

Dit is vir my interessant hoe maroela media meer onlangs hul lesers pols vir menings, vir reaksie, en hulle uitdaag om ‘n baadjie aan te trek. Ek merk op hoe die opskrifte van berigte uitdagend raak veral wanneer boere vermoor is. Hoe video’s aangeheg word wanneer daar moontlik ‘n okultiese neiging in die storie is. Dan wonder mens so onwillekeurig of die plek wat gemaak word vir kommentators wat voorheen (en steeds) sterk betrokke is by netwerk24 en met die samesmelting van radio stasies en verandering van trant by instansies soos Pretoria FM, wat nou werklik hier aan die gang is. Die media het ongelooflike krag om die massas te rig en in hierdie tegnologiese tyd hoef min mense vir hulself te dink, want jy gaan google jou mening mos net…… Nou wonder ek Maroela waarheen vat julle ons?.

Antoinette ·

Ons kruip weg. Kruip weg agter kastige skuld van die verlede. Soos Ant sê – jy google jou mening. Ons sal moet wakker skrik as ons wil hê daar moet iets oorbly vir ons nageslag. Ons is hier – net verward. Ons soek net ‘n leier en ons sal doen wat gedoen moet word. En ja – dit sal net wees as as terugkeer na die Here wat ons bron van krag is.

Poplap ·

Het jy nou nog nie ontdek dat die toestand waarin die Afrikaner hom tans bevind, die resultaat is van ‘leiers’ wat in die verlede gevolg is???

Blondie ·

Jong ek raak sommer boosaardig. Wie is jy om my identiteit te bevraagteken oor waar ek my skoene vol staan as Afrikanervrou?
Ek is trots op my identiteit en daar waar ek is , in my wereld en deel van n groter prentjie doen en my vroue daad op die Godgegewe opdrag dat n vrou gemaak is om haar man te ondersteun is alles wat hy doen , om haar kinders op te voed in die doopbelofte tot eer van Sy naam .
Gaan lees die gedig deur Jan F.E Celliers – By die vroueoptog en jy sal sien dit is die kern van elke Afrikanervrou .
” ek sien haar wen , vir man , seun en broeder.Want haar naam is Vrou en Moeder”

'n Ma ·

Daar is geen belangriker werk op aarde as om ma te wees nie. Dit is ‘n geweldige verantwoordelikheid om jou kinders te begelei om selfstandige en gebalanseerde grootmense te word. Ja, ons kan vandag kies wie en wat ons wil wees, maar as ‘n vrou ‘n veeleisende beroep kies, moet sy weet haar kinders gaan op een of ander manier daaronder ly.

Barend ·

Onthou net, sy is toe nie terug oor die Drakensberg nie. Sy het besluit om in Natal te bly.

Fanie ·

Wat van ‘n “blog” net v d Afrikanervrou. Of ‘n organisasie waarby sy kan aansluit om ‘n daadwerklike verskil te maak in ons land. Nie een vir koekbak patrone en resepte uitdeel, maar meer polities van aard. Sodoende sal en kan ons volkie se vrouens dalk meer vermag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.