Waarspraak, haatspraak of mooispraak?

Deur DC Coetsee

(Foto: Canva)

Ons leef in ʼn tyd waarin ʼn mens buitengewoon mooi moet dink wat jy sê. Dit op sigself is ʼn Bybelse deug: “Elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word; As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ʼn volmaakte mens; Geen mens kan die tong tem nie […]” (Jakobus 1:19; 3:2-3; 3:8). En tog: “Uit dieselfde mond kom seën…” (Jakobus 3:10).

Maar “seën” kom alleen uit “waarspraak”. “[By] speaking the truth in love, we will grow to become in every respect […] the mature body of […] Christ.” (Efesiërs 4:15).

Jesus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31,32). Die Kolossense het deel gekry aan die ewige hoop, toe hulle die “woord van waarheid” gehoor het (Johannes 1:5) en Timoteus moet “met die woord van waarheid die regte pad aandui” in  2:15 en moet altyd wees “iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys […] sodat hulle die waarheid kan ken […] en hulle tot hul sinne kan kom”. (Johannes 2:24-26).

Om waarspraak te kan uitdeel, is ʼn opdrag en voorreg – en om dit te ontvang, is wat die mensdom wat “in duisternis woon” soos genoem in Matteus 4:16 nodig het. Daarom het “die Woord wat God was” na die wêreld gekom om lig te bring (Johannes 1:1,2 en 9) – en hy was die beliggaming van die waarheid (Johannes 14:6).

Christene is dus geroep om die waarheid te praat – die Godgegewe waarheid wat mense vrymaak – maar hulle moet dit doen met ʼn gees van liefde.

Omdat Sekularisme die mens in die sentrum plaas en so die ware God probeer vervang, waan dit homself die reg en mag toe om te bepaal wat waarspraak is en wat haatspraak is. Daarom is in sekulêre Suid-Afrika die liedjie “Kill the boer” geregverdigde waarspraak, maar die vertoning van die ou landsvlag is haatspraak.

In sekulêre Australië is dit (volgens ʼn nuwe wetsontwerp) haatspraak (en dus strafbaar) om ʼn jongmens met ʼn neiging na homoseksualiteit nie te bevestig, ondersteun en aan te moedig in sy of haar neiging nie – en dit geld vir ouers, skool en professionele terapeute.

Die definisie van haatspraak is dan enige uitspraak of stelling wat iemand ongemaklik, ongelukkig, beledig of onaanvaarbaar laat voel. So kry ʼn mens die situasie waar die verkondiging van die evangelie aan sondaars soms haatspraak geag word.

Christelike opvoedingsinrigtings wat die koningskap van God in die kurrikulum as die maatstaf vir ware opvoeding beklemtoon, beoefen in sommige gevalle haatspraak en word bedreig met sluiting – en om in die aanstelling van personeel ʼn geloofstoets te vereis is haatspraak met as moontlike straf boetes, tronkstraf en deregistrasie by professionele liggame.

“Daarom, vermy die leuen en praat elkeen die waarheid met sy naaste. […] Nie ʼn enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ʼn woord wat goed is vir noodsaaklike opbou sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. […] Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster.” Efesiërs (4:25,29 en 31).

“Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel sodat julle kan weet hoe om ʼn ieder en ʼn elk te antwoord.” (Kolossense 4:6).

Dit is die mooispraak waartoe alle Christene geroep is – wat die uitdagings, uittarting, eise en dreigemente van die Sekularisme ook al mag wees. In hierdie tyd geld die woorde van Paulus steeds: “Ek skaam my nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing […] daarin word geopenbaar die geregtigheid van God.” (Romeine 1:16,17).

In hierdie tradisie kon Martin Luther 14 eeue later voor sy regters wat die terugtrekking van sy woorde van waarheid geëis het nederig standvastig verklaar: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. So help my God!”.

Daardie woorde moet steeds deur die wêreld galm by monde van die burgers van die Koninkryk van God.

  • DC Coetsee is ʼn boorling van die Kalahari. Hy het vir 40 jaar lank as sendeling gewerk en is deesdae besig met Bybelse berading en opleiding. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Hier gaan ons alweer.. Net wilder en wilder. Dit is nou teen die wet om mense nie aan te moedig op die verkeerde pad nie? Die Weste is die kluts kwyt maar die DA wil ok nie hê ons moet die Christelike Rusland ondersteun nie. Van ons winkels lief die reënboogvariasie en Die DA vir Biden wat aborsies, geslagsverander en ‘one size fits all’ verkies. Die Republiekeine van die nuwe Kaapse soek net ‘n plekkie op die vlakte tussen al die godsdienste en tale onder die nat son. Waarheen kan ons ander vlug?

skurweberg ·

Martin Luther het die “lakmoestoets” geslaag. Iets waaraan ons huidiglik ook blootgestel is. Swyg was en is nog nooit ‘n opsie nie?

Nettie ·

Wat vir my opvallend en vreemd is, is hoe dit gewoonlik deesdae die CHRISTENE is wat ander Christene wat die waarheid wil praat, stil maak.

Onlangs is ‘n jong meisie dood. Mense wou dit as voorbeeld gebruik om ander te leer. Oor hoe drugs, tatoo’s, anti-Christen musiek, ens. nie gevolg moet word nie. Want jy weet nooit wanneer jou dag kom en waar jy gaan beland nie.

Vinnig-vinnig word almal wat wou waarsku, doodgeskree…. moenie oordeel nie! Hê empatie! Wie’s jy om te preek?

Wanneer is die regte tyd om TE PRAAT teen hierdie dinge, as dit nie NOU is nie? Nee, kom ons sluimer nog ‘n bietjie, want ons mede-broers wil eers net simpatie bewys, nie Christelike oordeel of regspraak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.