Wanderlust: Hoofstuk 1

V.l.n.r. Koos Greeff en sy seun, Markus, sy pa Servaas Greeff en oupa Kosie Greeff (Vredendal, Januarie 1981) (Foto verskaf deur Koos Greeff)

Hierdie is die eerste uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Ek was nog sommer ʼn klein kannetjie toe kuier ons daar by Oupa Kammie op Blouberg. Ek het iewers tussen die melkstal – wat ook as duiwehok gedien het – en die perdestal verdwaal. Mamma het my later opgespoor en, terwyl sy my aan my oor terugsleep, vertel sy my ek is nes my oupa Kammie, want ons twee het die Wanderlust. Die ding het my net daar gepak en baie slapelose nagte besorg met vrese van allersoorte bose geeste en goeters wat deur mure loop en jou in die nag op loop jae.

Die eendag tree Oupa my daar aan vir ʼn ekspedisie en gee my ʼn blik-emmertjie terwyl hy ʼn rokerige ding en ʼn lang mes vat. Ons twee vat die pad in die rigting van St Helenabaai en ek wonder so in my kinderlikheid of ons nie miskien soos oom Abraham en Isak op pad was na die een of ander slagplek nie. Later bereik ons die rotse doer bokant St Helenabaai waar Oupa sy byneste staan gemaak het. Hy maak my rustig sit op ʼn klip en vertel my die groot geheim van heuning uithaal. “Kyk Koos,” verduidelik hy, “mens moet nooit bang wees vir die natuur nie. Ons kom berowe nie die bye nie, ons kom haal net hulle huurgeld. As ons mooi saggies met hulle werk en lekker met hulle praat, sal hulle net so met ons maak. En jy hol nie weg nie. Jy sit dood en praat net mooi met die bye.”

Oupa voeg ook sommer daad by die woord en stap nader na die nes met sy rookkannetjie. Hy blaas so bietjie daar tussen die lot en toe begin hy rustig die waarheid met hulle praat. G’n stuk van netgesig of overall nie. Nee, sommer net so bloots. En die bye kom sit hier op sy kop en hy los die enkele moeilikheidmakers om maar te steek. Maar die res dwaal vir eers daar rond en kies later koers af in die vallei in. Versigtig haal hy uit elke nes ʼn paar stukke lekker koek en pak dit in die emmertjie. Die bye kom groet my ook so bietjie-bietjie, maar ek sit dood en praat mooi, nes Oupa maak.

Later stap ons twee salig terug na Blouberg. Elke nou en dan stop Oupa en deel ons eers weer ʼn stukkie heuningkoek – seker dié laat ek reken dat heuningkoek die lekkerste soetding in die lewe is. En Oupa spog met sy kleinkind en ek wonder of dít nou die Wanderlust-gedoente is waarvan Mamma gepraat het – ons twee wat so met die bye kan praat.

ʼn Paar jaar later het die ougeit vir Ouma ingehaal en moes die twee oues verhuis na die oumenshuisies op Vredenburg. Die groot ou plaashuis op Blouberg se huisraad word verdeel en die hele lot, kind en kraai, is daar. Die nefies en niggies speel ʼn stofstorm los op die vaal granietrotse, maar ek is begrawe in Oupa se kantoor. Doer iewers het ek ʼn rooi bliktrommel ontdek vol met koerantuitknipsels en briewe en anderlike goeters uit die verre verlede.

Ek lees daar van ʼn oupa wat in Oktober 1913 die Duitse skip, “Admiral”, in Kaapstad gevat het en teen die ooskus op is tot by Zanzibar. Toe klim hy die “Canisbrook Castle” op die 3de November 1913 om by Port Amelia aan “Portugees-Oos-Afrika” aan wal te gaan. En ek ontdek ou kaarte van “Duits-Oos-Afrika” soos Tanzanië destyds bekend was. Sy dagboek van 1915 is van die “Nashorn Apotheke” in Arusha in “Deutsch – Ostafrika” en hou my vir ure besig en ek verwonder my oor Swahili-woorde wat netjies alfabeties opgeteken is en van verslae van velle en horings en tande wat in Dar-es-Salaam verkoop word.

Daar is ook ʼn klompie briewe van jare later toe Oupa moes terugkom na die familieplaas, “Blouberg” naby Vredenburg, van mense soos oom Charles Hitchock en Piet Albrechts. Hulle vertel van wonderlike plekke met name soos “Skull Rock Estate” en “Sumoni Coffee Estate” en andere wat ek steeds nie kan ontsyfer nie.

En toe vind ek die briefie gedateer 29 September 1924. “Beste Neef Klasie. Met droefheid en leidweeze moch ik jou die treurige tyding meedelen. My geliefde broeder Johannes het op die 16de September verongeluk op ʼn olifantsjag naby Fort Maquire. Van Piet Albrechts.” Ek hoor van gewere wat misvuur en olifante wat storm en trap en ʼn nagtelike ekspedisie met ʼn draagbaar na die “Malindi Mission” waar die sendingdokter ure tevergeefs gespook het.

Daar sit tjank ek saam met mense van ver lande oor ʼn broer wat lank gelede al dood is. En ek wonder of dit nie dalk ook die gevolg van die Wanderlust is nie.

In ‘75 is ek army toe en kon ek vir Oupa vir oulaas groet daar in die ouetehuis op Porterville – Ouma was lankal weg. Die “verkalkte are” het sy brein aangetas en in sy laaste dae het hy net Swahili gepraat en was hy ʼn vreemdeling vir alleger om hom. So is hy met die Wanderlust en al voort.

Maar nou sit ek steeds met die rooi trommel en die lotjie papiere. En ek wonder wat daarmee gemaak, want die goed spook by my.

Die res van die verhaal sal net hier op Maroela Media gepubliseer word – bly ingeskakel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Sjoe, daar het bitter baie water in die see geloop sedert Bagdad! Die Kaapse stad se damme is eintlik leeg! Goed om weer jou geskrifte raak te lees, Koos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.