Wanderlust: Hoofstuk 10

Dis al wat oor is van die eens pragtige Buffalo-basis teen die Okavangorivier Foto: Koos Greeff

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

1988 breek aan en ons woed steeds daar op die Sending op die grens van Zoeloeland. Iewers in September daai jaar laat roep die army my en stuur my op Grens toe. Maar ek gaan as ʼn “civvie” want ek moet gaan foto’s neem en kyk – “observeer”, soos hulle dit genoem het.

So vlie ons weg van Waterkloof in ʼn Flossie en kies koers na Omega in die Caprivi. Van Omega-basis vat ons daai bospad weswaarts om sononder by Buffalo-basis aan te kom. Dis die blyplek van die 32-bataljon waar kolonel Jan Breytenbach die groot kokkedoor was. Ek word ewe ingeboek in die offisiersmenasie en Jumbo maak lekker kos. Daai aand slaap ek dood in my rietkamer op die rand van die Okavangorivier. Iewers in die na-nag word ek wakker van ʼn geritsel hier buite my deur. Die krag is af en dis stil. Ek lê luister eers die bedryf hier buite en klaar later uit dit moet ʼn muishond of ratel wees wat die vye van die wildevyeboom hier voor my huisie geniet.

Nou, ek is gestuur om foto’s te kom neem en te “observeer” – so laat ek nou my job doen. Versigtig krap ek die kamera uit sy sak uit en sit die flits op. Toe stel ek sy goeters in sodat ek vinnig kan druk voordat die woelwater weghol. So maak ek versigtig die deur oop en stap met kamera in een hand en flitsie in ander hand na die boom se kant toe. Dis doodstil, want die kêreltjie het my seker lankal gewaar. Ek steek later vas en toe ek die flitsie aansit, kyk ek vas in die blad van ʼn olifant. Ek trap water soos ek tru-sit en my PT-broekie val amper vanself af. Maar die ou grote het vrede met my en vreet rustig voort. Lank sit ek daar in die kamer se deur en hy werk die vye se gal en ons word vriende. Het nou nog sy foto.

Die eendag moet ek die skooltjie daar op Buffalo gaan besoek. Dis nou waar die mense van Angola se kinders skoolgaan en troepe uit die Republiek gee klas. Sulke riethokke met plankbankies wat mooi in rye staan. Die omgewing is netjies skoon en die manne hou skool met lang latte in die hand. So kom ek ook by die graad eentjies uit en die span groet my met daai tipiese dreunsang van hul soort. Die troepie begin daarna met sy meesterstuk van opvoeding: dis so ʼn groot voublad met prente van Bybel-mense. “Dit is Moses. Hy het die kinders van Israel in Egipte gaan haal”. Of – “ Dit is Dawid. Hy het vir Goliat met ʼn klip doodgegooi.” En toe kom ons by die duiwel se prentjie. Ewe kordaat dreunsing hulle voort. “Dit is Satan. Hy is ʼn f*k*p”. Ek lag so dat ek nie kan praat nie. Maar – hoe waar is dit tog nie – maak nie saak waar jy is nie!

ʼn Paar dae later is dit 15 September en ons troepe kom terug oor die grens. Dis amptelik vrede in Namibië en Angola. Ek neem foto’s en ek wonder. Die volgende dag was die troepies die Buffels en Ratels en vang vis in die Okavango. Daai nag ontwyk die slaap my weer en ek vat die pad en stap die basis deur.

Later kry ek ʼn geleentheid suid na Peka-Peka, die dorpie waar die Angolese woon, en sit rustig my staptog in die donkerte voort. Iewers in die verte hoor ek ʼn gesingery en ek kies koers die donkerte in daarheen. Sien later ʼn klompie kinders drom saam om ʼn staanvuur wat hulle sommer so in die grondpad tussen die huise gemaak het. Een slaat die drom en die ander vat beurte om iets voor te sing en dan val die lot in met handeklap en soms ʼn dansery ook. Ek staan maar doer ver want ek is witman wat inloer deur die venster, maar my hart is vol. Ek wonder waaroor sing hulle en of hulle terugverlang na Angola en huise wat ver is. Maar hulle klink nie hartseer nie – eerder soos “Hansie Slim” of “Saai die waatlemoen” se singery. So sing hulle, want hulle is jonk en die lewe lag en die toekoms wag. En ek wonder of hulle weet van die stof van Smitsdrif en die “hande was” van FW want hulle is die weggooikinders van Afrika.

Die volgende dag besoek ek die hospitaaltjie – eintlik maar ʼn siekeboeg daar op Buffalo. Buite kry ek vir Pedro Gomez wat blare vee. Eintlik is hy ʼn stafsersant. Hy vertel my van die noorde van Angola en FNLA se gevegte, want hy was “commander” in FNLA en van die vlug van meer as ʼn duisend kilometer te voet na Rundu vir genadebrood by die boere. “Maar,” sluit hy af, “wanneer kom die evangelie na my land – na Angola?”

Ek kan nie vir Pedro vergeet nie. Dis al jare, maar Pedro spook met my. Ek weet nie of dit ook deel van die Wanderlust is nie, maar hy spook.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Skerp Spioen ·

Ongelukkig kan mense nie olifant gedagtes lees nie maar ek sou graag wou weet wat hulle dink oor slurpe…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.