Wanderlust: Hoofstuk 11

Een van die Himba’s (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Toe breek 1989 aan en Suidwes moet verkiesing hou. Ek spandeer vier maande van daai jaar in Suidwes en werk myself die malaria in en uit. Werk steeds as onoffisiële “observer”, want ek ry met my eie bakkie en bly in gastehuise of by vriende.

Die een dag braai ek en Josef Shishange vleis doer op die grens met Angola. So 500 meter van ons braaiery af is ʼn kampie van Untag met ʼn klompie soldate uit Maleisië. Met die vuurmakery hou hulle ons stip dop deur die verkykers, maar toe ons die vleis uithaal en die braaiery begin, stap die span nader.

Hulle Ingels is maar vrot, maar later kry die een ou dit darem uit: “You make offering for gods?” Ons beduie met hande en voete en eet met oorhaal en bied gasvry aan, maar hulle weier bot om aan die “afgodery” deel te hê.

Die Sondag daarna kuier ons by hoofman Gabriël Kautima van die Nkwanyama-stam. Ons is salig en praat ver stories, toe kom hol ʼn mens daar in. Die spul skreeu-praat Owanbo en toe die hoofman uiteindelik na my kant toe draai, sien ek hier’s perde. Ons hoor van ongeveer 400 Swapo’s wat oor die grens gekom het en op pad is na Oshakati. Daar is geen radioverbindings meer nie en selfone is nog net drome; so, dis bakkie klim en ja laat dit bars met die slegte nuus. Untag se manne sit verstar terwyl ongewapende tjoppers en Casspirs met RPG’s geskiet word.

Verward en hopeloos staan kyk ons hoe gewondes en breek-karre teruggebring word basis toe. Laat daai middag kom die ‘konsent’ en die Koevoete bou masjiengewere op Casspirs en die army deel koeëls uit. Toe die son sak, jaag ʼn konvooi Casspirs die basis uit. Bo-op die voorste Casspir sit so ʼn jong witkop seun in civvies. Met die wegtrek steek hy sy twee vuiste in die lug op en skreeu uit: “Power! White Power!” Daai nag skiet die terries ʼn paar Casspirs m**r toe en wit seuns verloor bene en arms. Ek wonder nou nog oor daai outjie.

Ek slaap maar sleg daar in my blikhuisie op die rand van Oshakati en my Parabellum lê oorgehaal op my bedkassie. Dit was “April Fools” dag en die begin van die “Nege-Dae-Oorlog” – min mense weet daarvan. Met dagbreek die volgende oggend is ek al buite. Meteens begin die lug bewe en hoog bokant Oshakati kom ʼn swerm Flossies aan. En toe daal die valskermbrigade neer en ek huil onbeskaamd. Daar in die rooidag was die wit skerms mooier as mooi en terroris-se-kind kry pak. G’n wonder dat hulle gou-gou die handdoek ingooi nie.

ʼn Paar weke later is ek terug op die grens, maar hierdie keer met ʼn groot span. Dis nou Zoeloes en Duitsers en Aussies en anderlike mense wat almal wil kom kyk. Ons ry met ʼn bus en ’n paar karre en vaar selfs Kaokoland in. Slaap die een nag by Swartbooisdrif teen die Kunenerivier. Dis doerie jare en selfs die “Cuca Shops” het niks te koop nie, so ons ruil ʼn bok by ʼn Himba en daai namiddag kook ek ʼn seeppotpotjie bok en groente en die hele wêreld eet genoeg. Toe word godsdiens teen die staanvuur gehou, want Angola sit net oorkant die water. Ons bid in baie tale om genade en toe is dit slaaptyd. Sommige lê bondel, maar ek slaap eenkant want ek wil holkans kry as die terries ons trap. Gelukkig is luitenant Wilhelm de Beer met ʼn paar Himba-soldate saam om ons op te pas. Iewers in die nanag word ek wakker. Hoor vreemde geluide en vat vir R1 om te gaan kyk. Daar vind ek ʼn Himba-soldaat wat waghou. Geweer oor die skoot, maar met ʼn Himba-bogie tussen die tande vasgeklem. Hy speel trompie op sy bogie soos net die Himba kan – musiek sonder melodie en struktuur. Musiek van genade.

Ek raak met dié saligheid in my ore aan die slaap en tot vandag toe is die Himba-trompie vir my mooi – minseggend, maar so veelseggend.

Dan kom die verskiesing en die uitslag en Swapo wen loshande. Ek was siek – vir ses weke aaneen. Die dokter reken ek het malaria gehad, maar ek dink dit was my hart wat stukkend gebreek het. Ek sien die skrif aan die muur ook vir ons boere van die suide en wil sommer wegloop Australië toe en huil aaneen.

Waarheen nou?

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Soos altyd Koos, n meesterlike penskets.
Die emosie vasgevang hier, is gemeenskaplik, so ook die gebroke hartsimptome.
Qua Vadis, Afrikaner?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.