Wanderlust: Hoofstuk 12

Dirk Mudge (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Eendag lui die foon en dis ʼn meisiemens uit Duitsland – ʼn Monika wat ek so verlangs ken en ek weet sy werk vir die een of ander minister. Sy vra of ek nie ʼn guns vir haar baas sal doen nie en ek spits my ore.

Die baas wil ʼn spesiale boodskap aan mnr. Dirk Mudge, die destydse leier van die DTA-party in Namibië, stuur. Ek is stom-verbaas en wonder hoekom hulle nie sommer iemand van hulle ambassade in Windhoek stuur – of nog beter, die man sommer self bel en met hom praat nie. Toe verduidelik Meisiemens dat hulle bang is die telefone van die ambassade en van die opposisie word afgeluister. Ek moet dus maar my ry kry en hulle sal betaal. Ek en die Mooiste pak die Toyota Hilux – jy weet mos daai ou soort dubbelkajuit met die kleinhuisie-deurtjies – en laai die spannetjie saam met Nomusa in. Drie kan altyd ingeprop sit op die agterste sitplek en die ander ry derde klas onder die kappie. Maar ons is ghrênd en stoot sommer van Natal af deur tot in die Gemsbokpark waar ons eers herstel van die stampery. Toe Stampriet toe waar ek bietjie biltong oes voor ons verder koers kry op tot in Oshikati.

Dáár oorval die naarheid my toe ek sien hoe eens pragtige huise verwoes is en tuinbome brandhout word. Ry verder oor Ombalantu waar die kleinspan darem die poskantoorboom kan geniet en stoot toe weswaarts aan tot doer naby Purros waar ons saam met Jacob Schoeman en sy lot die woestynstilte geniet. Daar kuier ons rondom ʼn fontein en praat groot stories. Later ry ons af via Okakarara tot in Windhoek om uiteindelik by mnr. Mudge uit te kom.

Ek bel en vra vir vyftien minute van sy tyd, maar toe ek die kantoor instap en begin praat, maak hy my stil. Hy vra of ek lus is vir koffie en daar gaat ons Windhoek se strate in, want hy reken ook hy moet wegkom uit sy kantoor vir ware privaatheid. Hy vat sommer vir die Duitser en Nomusa en die spannetjie saam en ons mansmense praat groot onbenullighede terwyl die span die winterson van nat-nuut Namibië geniet. Toe ek klaar is met my storietjie, sit hy so ʼn rukkie en dink, en toe vra hy my watse “Greeff” ek nou eintlik is. Ons vat die lang pad tot by oupa Matthias Graff wat in 1659 in die Kaap geland het en soek verwantskappe, want oom Dirk se skoonseun is ook ʼn Greeff. En ons word vriende. Hý, die grootman van Suidwes, en ek, die klonkie van Natal.

En toe bars die bottel en ek stort my hart uit. Praat van my hartseer oor die verkiesing en die wil weghol na Australië en die witman se toekoms wat so sleg lyk hier in Afrika en my kinders wat nog klein is en allerlei ander bose geeste. Ek pak sommer laasjaar se hele malaria-siekte, wat eintlik “breekhart-siekte” is, uit, en die grootman luister. Toe ek klaar is, kyk hy my met sagte oge aan en sê: “Koos, ek is só bly jy is nou hier. Só bly jou ‘optimisme’ is nou ‘pessimisme’. Maar kom ons maak dit ‘realisme’”.

En hy profeteer hoe Australië eendag ʼn Oosterse land sal wees wat oorswerm is van allerhande neese. En toe vat hy Amerika, die wonderlike, en profeteer hoe hy eendag Latyns-Amerikaans sal wees en dat dieselfde probleme wat in Meksiko en Bolivië is, daarheen op pad is. Toe weet ek maan toe is my enigste uitkomkans. Hy maak my moed en vertel my dat die witman altyd plek in Afrika sal hê, want Afrika se hart is groot en warm. En dat ek tussen Afrika en Europa sal moet gaan staan en sal moet help dat hulle mekaar verstaan, want hulle praat in verskillende tale, maar ek praat albei se taal.

So bekeer oom Dirk my en so bly ek bekeerd tot vandag. Ons sien mekaar nou nog somtyds, en as ek sy ou hande vat, dan sê ek altyd dankie. Want sy profesie was waar: Afrika se hart is groot en warm en hier is plek vir my en myne.

Hy’s nou al oud maar ek sê, “ Mooi loop oom Dirk. Dankie.”

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Marius ·

Ek mis nie hierdie reeks nie. Ek het hierdie een ook gelees. Maar hierdie keer het my oge nat geword…

Eish ·

Myne ook, almiskie oor die hoop wat soos n droë lamppit begin rook.
Almeskie vervaag die hoop aangesien onse klomp dalk meer nuus as onse Bybel lees.
Hoe dit ookal sy, Koos se sêgoed is medisyne.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.