Wanderlust: Hoofstuk 13

Rubberbootjies op die Doringrivier (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust -Red

Soos mens ouer word, tel die jare mos spoed op. So vlie die volgende paar jaar verby en nou is ons in 1996. Ons lotjie het verhuis en kom nesskrop teen die Doringrivier, hier in die noordelike Sederberge. Eintlik is dit die Nardouwsberg, maar ek wil jou nou nie deurmekaar praat nie.

Dis winter en die manne roei met bootjies en goeters op die rivier en ons sien ʼn geleentheid om ’n paar pennies te verdien. So ry ons mens met die Venture en Hardbody teen die rivier op sodat hulle stroom-af kan dryf en die heerlikheid van die “witte waters” kan geniet. Eendag land hier weer ʼn lot wat die Vrydagaand vlak onder ons huis teen die rivier kom kamp. Die volgende oggend pak ons die spul en ry oor Vanrhynsdorp en Ouberg tot by oom Berg se plaas. Toe kom die “groot sak”, want daai pad daar af teen die rotse tot onder by die rivier, is g’n mens se maat nie. Die mense klim die Hardbody en ek gooi hom in donkierat en sit op die briek. Later klop so ʼn mooie meisiekind op die dak.

“Meneer,” vra sy benoud, “is jy seker mens kan hier af ry?”

“Juffroutjie, jy sal jou enkels breek op daai paar skoentjies van jou, maar ek sal jou veilig doer onder kry,” verseker ek haar.

Die Sondag sit ons salig op die stoep en drink vieruur se koffie, toe kom storm die kleinspan hier in met die wonderlike nuus dat die WP se rugbyspan hier onder teen die rivier kamp. Dis nou die soort rugbykenner wat ek is!

Maar die lus vir kamp pak my toe ook behoorlik en ons besluit om sommer ʼn ordentlike “choppertent” te koop – loop vra tog die oumanne as jy nie weet wat dit is nie! Ek kry ook ʼn advertensie in die koerant van ʼn ou wat een tweedehands te verkwansel het en ons vat die Venture hier af Kaap toe. Daar kry ek só ʼn winskoop dat ek sommer ses tente koop. Die volgende winter toe staan ons eie tentekamp hier onder teen die rivier en ons ry mens stroom-op. Maar net daarna daal die onheil neer.

Party ouens reken mos te vertel dat ʼn arend ʼn wonnerlike ding is, want hy styg skynbaar op saam met die stormwinde om doer bo in die hemele die storm uit te ry. By ons was dit die droogte. Drie jaar ná mekaar kom die nattigheid maar effentjies en die rivier droog op en die “River Rafters” speel óf bankrot óf vlug. Van die driehonderd en meer mense per naweek, daal dit na net tien of vyftien. En ons sit met die klomp tente en rygoed.

Dis toe dat ek begin safari. En dis tóé dat my wanderlust doel begin kry.

Eintlik het ek in ‘96 al gaat registreer, want ek glo aan orde – in ʼn mate. Maar dit was net vir die rivierwerkery of so, dag ek. Maar nou byt die skuldgogga en die bankrotskap roep hard by die voordeur. En toe dink ek aan Afrika. Ek praat nou van Donker Afrika anderkant die riviere. En ons begin adverteer en het later geheel ʼn eie webwerf. Ons kan vir “Afrika Safari’s” op die been kry en ons roei. Samuel Roth is ons eerste gas – so ʼn jong lat uit Switserland. Hy daag in Kaapstad op met ʼn sigaret in die mond en die vreeslikste musiek. En ek en Samuel vat die Hardbody – ʼn ander ene wat nie 4×4 is nie – en ons woel hier op langs die Diamantkus na Honneklip-se-baai. Die sand is dik en ons is alleen en die Nissan skop sulke wolkies rook uit soos sy keel dreig om toe te trek. Ek bid kliphard, want as ons hier vassit, is dit m**r toe. Maar ons kom deur en ons is deur die Richterveld en eindig in die Kalahari. Samuel is salig solank hy ʼn bier in die hand het en my Duits tel weer spoed op.

Met die terugkom het ons darem paar sent oor en koop ons daktente en ysters en ek sweis sommer my eie “off-road”-sleepwa aanmekaar. Die hele kleinspan werk saam en ons werk roetes uit en skrywe biljette en slaan tente op en af en prakseer allerlei boere-patente om ons affêre beter ingerig te kry want nou gaat ons regtig safari. Die wanderlust kry koers!

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Dankie Koos.
Altyd n plesier om die geskryfde menswees te lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.