Wanderlust: Hoofstuk 14

Ons tweede volwaardige safari (foto in 2000 geneem) Foto: Koos Greeff

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust -Red

Ons eerste groot safari was met drie jongmans uit Switserland en een meisiekind uit Oostenryk. Die Duitser dryf die blou Toyota RAV met die daktent op, en ek die groene wat die sleepwa trek. Dis Februarie-maand en ons is op pad na die “swamps” in Botswana.

Die Mooiste is mos maar Duitser uit haar aard uit, so die spyskaart is beplan in besonderhede – selfs die bier is presies uitgereken en aangekoop. Ons ry swaar en stadig en haal die eerste aand net die Grootrivier. Dis warm en die karre se deure staan oop en die gaste hou paartie terwyl die Duitser kooie maak en ek twee hoenders op die spit braai. Met die eetslag vat elke gas ʼn halwe hoender en daar sit ek en Mooiste droëbek en kyk hoe hulle die lekkerte verorber. En die span drink bier! Binne vier dae is die hele toer se voorraad op en moet ons “St Louis” se gemors koop doer in Botswana.

Ons draf net by Keetmans verby, toe oorval die hitte ons en ek sit vir aircontjie aan. Dis net ʼn geklap en ʼn geknetter, en toe trek die rook die luggate uit. Eers later het ek die dooie stuk muis uit die aircon-boks kon uitgrawe. Van toe af laat staan ek nooit my karre se deure oop as ons kamp nie.

Van Ghanzi af vat ons die pad na die “swamps”. Net anderkant Sehitwa kom die groen RAV se liggie aan, maar daar is geen pomp in sig nie – al woon daar ook vyfduisend mense in die dorpie. Later lieg ons vir die gaste en sê dat hulle fyn moet kyk vir olifante, en ons daarom so stadig ry. Wonder bo wonder haal ons Nokaneng en les die karre se dors. Toe is dit op teen die Okavango. Dis nat en modderig, maar die tente is goed en die mense drink bier en almal is vol vrede.

Later vat ons die sandpad af na Sigareti en ry twee ure aan die eerste vyf kilometer. Die twee RAV’tjies is net te laag: probeer soos ons wil, maar ons kry nie deur die sand geploeg nie. Later staan die Duitser se hare alger regop en sy begin praat in tale en ek verstaan later dat sy my gaat los. Só is ons verplig om om te draai, net om weer ure aaneen terug te sukkel tot by die grootpad. Die Kaudom is nie vir sissie-karre nie – so het ons geleer.

Die meisiekind uit Oostenryk is bietjie sterk na my sin – ek meen nou soos in mannetjiesmenserig. So: sy stoei aaneen met my. Alles wat ek doen, kan sy beter doen. Sy grawe sand en slaat tent op en haal papwiele af. Ek wou haar later net slag, maar ek bly ordentlik.

Die een aand kamp ons in die Etosha naby die draad. Hier in die na-nag brul die leeus my wakker. Ek hoor dis twee spanne, want hulle roep na mekaar uit verskillende rigtings. Ek maak maar die gaste wakker en ons gaan sit teen die kampvuur om die wonderlikheid te geniet. Stadig kom die gebrul nader en nader totdat dit hier teenaan is. Daar was sebras in die omtrek en die lot het gevlug tot teen die heining. Meteens hoor jy net klippe spat en hoewe wat dreun soos hulle wegtrek. Maar die leeus het die lokval mooi geplaas en toe is dit net ʼn gehyg en ’n gekerm en toe kraak die bene. Daarna word dit stiller – net die gevreet van leeus bly nog.

Ons is almal later kooi toe en was net mooi aan die slaap toe roep iemand. “Koos! Koos! Ek wil toilet toe gaan, maar ek is te bang.” So stap ek en Meisiekind toe toilet toe. Ek moes eers by die meisietoilette inloop om seker te maak daar is g’n ongedierte daarbinne wat ook die een of ander behoefte het nie. Dit was die einde van haar rammetjie-uitnek-geite. Ons het geheel vriende geword daarna.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Net n predikant kan soveel geduld monster.
Goeie vertelling, soos altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.