Wanderlust: Hoofstuk 15

Argieffoto (Foto: werner22brigitte, Pixabay)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust -Red

Kry op ʼn slag ʼn brief van ʼn brawe Duitser. Sy wil skynbaar haar man op safari vat. Maar dit moet ʼn rêrige safari wees. Soos in bosse en stof en olifante en ver plekke.

Ons beplan mooi vanaf Windhoek die “swamps” deur en dan Zambië in teen die Zambezi op tot doer bo in die Liuwa-vlaktes. Die groot kar is gepak en die sleepwa geolie en geghries en ons vat die pad. Daai tweede nag slaap ons teen die Okavango sodat die “dappere dame” met haar “getroue siel” die volgende dag met mokoro’s die woestenye kan invaar.

Ek en die Mooiste is oorgehaal vir drie dae se lekker niksdoen terwyl die “brawes” seekoeie en muskiete gaan trotseer. Vroegdag is alles gepak en ons staan teen die waters, wagtend op die mokoro’s. Toe die lotjie opdaag, gee sy hulle net een kyk en besluit op die daad dat dit te gevaarlik is, want ʼn seekoei sal mens darem te maklik daar kan uitpluk.

Ons vermoed nog nie onraad nie en verander die planne net so effentjies en stoot rustig verder aan. Later staan ons daar by die Bumhill-kamp teen die Kwando. Salig sit ons die namiddag op die hoogstaan en geniet die aandskemer. Toe kom daar ʼn span seekoeie rivier-af. Die ”brawe dame” vra ewe of die goed wilde of mak seekoeie is; nou soos huishonde of iets. Ewe niksvermoedend verduidelik ons dat ʼn mens maar min mak seekoeie kry, want hulle is bietjie groot om in jou bad te pas. Net daar gaat die “brawe” se temperatuur tot in die rooi en sy verduidelik met vele woorde hoe bloeddorstig seekoeie is en hoeveel mense jaarliks deur hulle opgevreet word. Daar is geen salf te smeer aan die opgewerktheid nie. Later wink ek vir die “getroue siel” en ons stap eenkant toe om die bosse te loop natmaak. Daar beraam ons dat hy haar rooiwyn sal voer maar dat ek stilletjies slaappille sal inmeng in haar bottel. So gereken, so gedaan. Die “brawe” drink die bottel leeg, maar vrede kry ons nie.

Later slaat ons tent op bo-op die hoogsit en sleep die kooigoed die steil leertjie op, maar tóé moet ons tot ons groot verbasing hoor dat kameelperde blykbaar uiters gevaarlike diere is en boonop bloeddorstig lief is vir mensvleis. Ons moes die “brawe dame” binne in die kar kosgee en daar het sy gebly sit. Die heelnag deur. Mooi praat en lieg en kwaadword help niks nie. Sy sít. Toe die dag breek, vlie ek uit die daktent van die sleepwaentjie uit want dis darem net te stil in die kamp. Die “getroue siel” het toe maar alleen op die hoogsit gaan slaap, want die “brawe dame” sit nog steeds kiertsregop op die voorsitplek van die kar. Haar oge is verstar en haar hare is deurmekaar en sy mompel iets van die “groot gevare van Afrika”.

Ons loop maak ʼn draai in Livingstone en daar bedaar die “brawe” so ietwat. Maar so ʼn paar dae later is ons op pad teen die Zambezi op, toe gewaar ek ʼn groot alleenloper-olifant – ʼn regte “tande-man”.  Ek is van gedagte dat die “brawe” nou uiteindelik haar moed bymekaar geskraap het in Livingstone en wys ewe onskuldig vir ons gaste die mooie stuk olifant. Net daar gaat die tante se temperatuur weer die rooi in. Sy vra of die goed sommer so los rondloop hier in Afrika, en waar is die drade teen die pad dan om hulle uit te hou. Ek trap die kar se briek vas en draai om sodat ek mooi in haar oge kan kyk en sien sy loop net so duskant die waansin. Dis toe net daar dat ek ʼn omdraai maak. Ons stoot terug die Caprivi in en hou sommer aaneen suid. Ek het toe geleer baie mense is braaf solank hulle vir net Discovery-kanaal kyk en dat party ouens maar van hotel tot hotel hou.

Weet ook dat “safari” beteken eintlik mos ʼn tent-kampery maar ek dink daai “brawe” moet ook maar liewer by die hotelle langs hou.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Dankie Koos. Jou vertellery is soos fonteinwater vir n dorstige siel in die tye voor die kankerbestuur die bestuur van onse watertjies oorgeneem het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.