Wanderlust: Hoofstuk 16

Teen die Kwandorivier in Bumhill-kamp se hoogsit (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust -Red

Ek en die klompie Spanjaarde stop een aand met sononder by ʼn kampplek vlak by ʼn pragtige dam. Die baas is skynbaar iewers en ons kan ons maar net tuismaak – so sê hulle daar by die ingang.

Ons is alleen-kampeerders daai aand en ek soek die mooiste plekkie uit – sommer so dat jy met jou voete in die water kan sit reg langs die kampvuur. Die Spanjaarde is rêrig mak en al praat net die ene so ietwat Ingels en hou die ander by “non comprendo”, kom ons goed klaar. Lekker rib gebraai die aand.

Later wil die spul gaan stort, maar dis warm en ek praat hulle om. So bad-swem ons sommer in die pragtige dam en val in die vere in. Vroeg die volgende môre daag die baas daar op om sy geld te kom haal. Ewe rustig merk hy op dat ons darem dapper is. Toe ek verbaas uitvra, verduidelik hy dat dit g’n stuk ʼn dam is nie, maar die Krokodilrivier hom sigselwers en boonop wei die seekoeie baie graag op die stukkies gras so teen die water! Ek het my behoorlik aan die lag geskrik en tot doer diep in Botswana kon ek nie uit-gegiggel raak nie. Amper was ons krokodil-kos!

Die een vroutjie wat nie Ingels kon praat nie, was pas geskei. So ʼn kort ligtekop mensie wat sonder ophou kon praat. Sy’t die manier gehad om die voorste sitplek te vat en dan pak sy haar hart uit. Ek weet nie of dit my gryskop of die effense baardjie was nie, maar sy het gereken ek is ou Sigmund Freud. Van Vic-valle al die pad tot in Windhoek praat sy – vir drie weke aanmekaar. Die ander lot luister musiek op oorfoontjies, maar sy praat en die trane loop oor haar wange. So het ek leer Spaans praat, want teen die einde van die safari kon ek sweer ek verstaan haar. Toe ons later groet op Windhoek-lughawe was my gaste almal tevrede en sy goed beraad. En ek dink steeds ek praat ietwat Spaans.

Maar wat ek eintlik wou vertel: ons lê die een middag daar by die Bumhill-kamp teen die Kwando. Dis warm en doodstil en almal lees of slaap. Toe hoor ek dit. Stroom-op na Angola se kant toe raas daar olifante. Ons pak nattighede en peuselkos vir die laat-namiddag in en kies koers daarheen. So digby Angola se grens sien ek net die rûe van so twintig-stuks uitsteek bokant die Kwando so wal. Bekyk die affêre bietjie en maak seker die wind is reg en toe maak ek die kar staan reg wind-op van waar hulle kattemaai in die rivier.

Beraad die Spanjaarde oor die matriarg wat sal kom kyk en ons sal probeer skrikmaak, maar vertel hulle ook olifant-se-kind is slim. As ons vredevol sit en mooi praat in ons harte, sal hulle ons uitlos en kan ons sommer so in die middel van die trop sit en kiekies maak. En toe kom hulle. Eers die jong askari’s wat met flappende ore ons wil jae en later kom die koningin. Sommer so tot by ons, maar die kar is groter as sy want ons het nog daktent ook op en ons sit vredevol en ons harte praat mooi. Sy beruik ons eers ordentlik en los ons later en gaat rustig aan’t wei.

Toe kom haar span. Later is ons omsingel van olifante, soos in van agter en van voor en van alle kante. Ek het ophou tel toe ons by driehonderd en vyftig-stuk verbygaan. Dis kleintjies wat kom tot teen die kar en slurpies wil insteek vir iets te ete. Later kom die groot bulle – ek praat nou van “tande-manne” – en daar is geen plek vir wegja nie. Ek sit later die kar in donkie-gear met “diff-locks” aan en hou my hand op die sleutel. As een van hulle wil kom stoot, dan stoot ek terug. Drie ure of meer – ek weet nie meer nie – sit ons daar vas in die midde van daai trop wat die omgewing ontbos rondom ons. Elke nou en dan keer hulle weer terug na die ooptetjie waar ons vasgevang sit om ʼn paar polle gras uit te pluk en ons teenwoordigheid te geniet.

Donkernag trek hulle verder. Tot daai tyd het g’n mens ʼn sprak gesprook nie – jy hoor net kameras wat klik. In die donker nag ry ons doodstil kamp toe. Ek het eers twee groot Windhoekers moes wegsluk voordat ek my tong kon terugkry. Maar olifant-se-kind is slimkind en hy weet van mens wat in vrede kom. So dink ek steeds, maar daai dag was ek bang. Baie bang.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Dink tog jy moet hare op jou tande he om die buitelanders gelukkig te hou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.