Wanderlust: Hoofstuk 18

Foto: Koos Greeff

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust -Red

Dis Oukrismis en ek en die wederhelfte sit op Johannesburg se lughawe. Ek is sommer omgekrap want g’n ordentlike mens hou safari oor die “Groot Dae” nie. Ons wag nog ook lank vir die twee – soos ek my dit voorstel – oorvrete Amerikaners wat enige oomblik daar by die doeane-kantoor sal uitwaggel, elkeen met ʼn hamburger in die een hand en ʼn drom Coke in die anner ene.

En toe kom Neil en Tina daar aan – sulke dun, vriendelike Amerikaners. Ons kuier sommer lekker en later maak ek vrede met daai land van oorvol mense. Ek en die Duitser vat die sleepwa se daktent en hulle twee die kar s’n. Ons gaat kuier-kuier hier op noorde toe tot ons later teen die Valle sit. Dis Oujaarsdag en ek hou in elk geval nie van die plek nie, want as ʼn “micro-light” jou kom wakker skrou en ʼn tjopper jou moet kom slaapsus, dan gaat dit nie goed met my nie. Toe kom Neil met die blye tyding dat hulle genoeg het van die geraas en vra of ons weswaarts kan trek.

Ons pak inderhaas op en storm deur Kasane en al die pad verder en maak dit net betyds by die grenspos op Ngoma en toe verder tot in Katima. Kry darem nog tyd om bietjie kos te koop voor die donkerte totaal op ons toesak en toe vat ons koers na ons kampplek daar by Island View teen die Zambezi. Dis heerlik en ons word die oggend wakker met die gekwetter van byevanger-voëltjies wat reg voor ons in die walle nes kom maak het.

Hoor later dat Tina daai dag verjaar en Neil vat haar op ʼn skuit uit om tiervis te vang. Ek het my intussen bekeer van my boosaardigheid oor die Amerikaners en ons besluit om hulle vir haar verjaarsdag te verras deur hulle in ʼn “luxury” kamer in te boek. So kom hulle terug en Tina het die grootste vis van die dag gevang en almal bekyk die tier en vat haar blad. Ons gee hulle toe ook die blye tyding van die heerlike slapery wat voorlê.

Later kom Neil en vra my eenkant of ek kan reël dat hulle twee enkelbedjies in die kamer kry. Verbaas kyk ek hom aan, want hulle is nog jonk en dan lê mens mos lepel. “Nee,” verduidelik hy, “ons is skoolmaats wat jare gelede ooreengekom het dat, solank ons ongetroud is, ons saam op vakansie sal gaan.”

Dit was die eerste keer in my lewe dat ek van so ʼn ding hoor, maar hy belowe hand en mond hulle is niks van mekaar nie en bly uit mekaar se klere uit. Dis nou die geneukery met deesdae se mense. Die vrouens vat mos nie die mansmense se vanne meer nie en so kan jy jou sleg misreken. Nou sit ons met ʼn gemors – twee vriende in ʼn klein daktentjie onder een kombersie!

Ná die salige paar dae teen die Zambezi moet ons weswaarts beur en daar is geen uitkomkans nie: saamslaap is al raad vir hulle twee. Later lyk dit darem asof hulle vrede met die slapery gemaak het en hulle word heel vrypostig. Ons hou lekker safari en laai hulle ná baie kilometers in Kaapstad af.

G’n wonder nie dat ons na drie maande ʼn uitnodiging kry na ʼn bruilof in San Francisco! En nou het ons al twee kleinkinders in daai land. Goedjies met vreemde name, maar elke keer as ek na hulle foto’s kyk, kry my hart sommer so weemoed van dankbaarheid. Somtyds gooi die ongeluk jou op ʼn bondel en dan word daai lêery later lekker – as jy net kan vrede maak met die ongeluk.

So: Laat hy val waar hy wil, kry net jou lê. Dit het ek geleer op safari met die dun Amerikaners.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.