Wanderlust: Hoofstuk 19

Die Duitse regter wat ook ‘n kenner is op bek-en-klouseer. (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

Om safari te ry in Afrika moet mens soms die wettigheid bietjie buig, dit het ek lankal geleer.

Die Duitsers is mos annerlike mense – hulle maak probleme van goed wat glad nie probleme is nie. So is myne ook. Volgens haar is reg, reg en goed moet reguit en beplan wees. So knor dit maar in Afrika. Ek meen nou vir haar. En hierdie wet geld vir alles behalwe vinnig ry.

Ons daag die middag op by Dobe-grenspos doer oos van Roy’s Camp anderkant Grootfontein. Die grondpad doerheen is ver en ons is gatlam. Verder is dit nog ’n honderd ses-en-twintig kilometer slegpad tot by Nokaneng en dan ʼn ent na Guma Island waar ons moet oorstaan. Ons ry met hogere soort mense – nogal ʼn regter en sy prokureursvrou. Daar hoor ons die onheilsnuus dat bek-en-klou in Botswana uitgebreek het en dat ons nie met nat kos daar durf in nie. Dis nou van geblikte melk al die pad tot by gevriesde hoenders. Die Duitser raak verwoed daar aan’t veg met die lot en toe hulle die wonderlike voorstel maak dat die regter vir die volgende vyf dae net boeliebief en blikvis moet eet, toe vat hy ook vlam.

Verbaas hoor ek dat mens in Duitsland, as jy jou doktorsgraad in die regte doen, ook leer van bek-en-klouseer, so beduie hy die lot daar by die grens. Ek dreig om die Nissan om te keer en terug die Kaudom in te beur, maar Regter en die Mooiste oortuig die lot met Duitse geleerdheid en presiesheid hoe hulle die probleempie sal oplos. Ons gaat skynbaar alles braai!

Net daar pluk ek vir gasbottel uit en die Cadac-braaier word staan gemaak. Die Mooiste pak uit en die regter en sy vrou dra aan en ek braai laat dit bars. ʼn Heelhoender wat boonop kliphard gevries is vat net vyf minute dan is hy gaar, en ʼn T-been dertig sekondes aan ʼn kant, dan stap hy weer vrieskas toe. Die spul daar by Dobe is totaal oorbluf oor die effektiwiteit en geniet veral die wonder van daai Cadac-skottel. Dis toe dat die Duitser sommer die pakkies bacon so met die regterhand uithaal uit die een kas en met die linkerhand terugpak in die ander kas. En om alles te kroon pak sy sommer die Windhoekies bo-op en daar is ons klaar. Ek kan nie meer mooi onthou nie, maar ek reken ons het net ʼn halwe potjie jogurt moes afgee. Die Duitser het toe geleer: “Moenie laat jou regterhand weet wat jou linkerhand doen nie!” en buig maar bietjie die wet.

In ieder geval kom ons donkernag op Etsha aan en nou is dit verdwaalpad tot teen die “swamps”. Die prokureursvroutjie is bang vir waters en later vat die Mooiste die wiel en ek en Regter loop voor met flitse om pad te soek. Die water is hoog en basta met deurry. Ons beur al om die waters totdat ons teen nege uur se kant g’n idee het waar ons is nie. Iewers in die verte hoor ek ʼn Lister loop, maar verdomp of ons ʼn oop aarde kan kry om by die geluid uit te kom, dis net toe-waters. Later moes ek maar die suiderkruis soek, want daai tyd het nog net die ghrênd mense met GPS’e gery. So kies ons koers weswaarts en soek pad totdat ons teen middernag die teerpad tref. Ek is ʼn soort moeg en honger soos ek laas as “roof-troepie” in die army was.

Toe begin ons rondbel vir mens om te kom help, maar algar slaap al. As jy gelukkig is, antwoord net die faksmasjien met sy piepstemmetjie. Ek dreig om net daar kamp op te slaan, maar die Mooiste staat vas en pla die arme mense totdat ene later antwoord gee. So stuur hulle raad en voordag-môre staan ons kamp en is ons mage vol. Toe klim ons in die kooi en slaap dood tot teetyd.

Die Duitser het haar toe bekeer. As ons nou Botswana se kant toe dreig, dan pak sy die daktent vol vleis – netjies toegedraai in swartsakke – en die vrieskaste is vol bier en water. Ek het ook geleer: ek hou maar op die pad en bly uit die waters uit en maak seker dat ek koffietyd op my plek staan.

En as niks meer help nie, dan praat ons Duits en hou ons baie geleerd – dit help soms ook.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.