Wanderlust: Hoofstuk 2

Oupa Nicolaas Laubscher, oorspronklik woonagtig in Arusha, Kenia; later an Vredenburg, saam met ouma Helie Smit van Modderfontein, Aurora

Hierdie is die tweede uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Oupa Kosie was ʼn ander ene: kort en kragtig en gedurig aan die hol. Dominee Piet Bek (Visser) het my later jare vertel dat Oupa die enigste mens was wat hy geken het wat, vóórdat hy klaar gedank het vir die ete, al by die voordeur uit was. Lief vir groot masjiene en so kielierig dat g’n mens sy naels kon knip nie. Dit was ʼn hele petalje om Oupa op ʼn Saterdagoggend op die voorstoep te hoor sit waar hy sy toonnaels knip. Hy’t gelag dat die mense by Naasdrif-se-Winkeltjie almal opkyk.

Kort na sy geboorte in 1904 het oupa Servaas en ouma Sienie uit die Bo-Bokkeveld getrek en hulle op Vredendal kom vestig. Oupa het darem soveel skool gekry dat hulle hom Kaap toe kon stuur om by William Hunt Chev te gaan leer mekaniek. Hy vertel hoe hy die wiel moes vat vir ʼn Joodse handelsreisiger wat Namakwaland wou in en hoe hulle die Vrydagmiddag op Vredendal aankom. Die Jood doen sy besigheid en Oupa soek bekendes op.

Die Saterdag sit die Jood tjoepstil in sy kamer in die losieshuis op Vredendal en hou ordentlik Sabbat. Maar die Sondagoggend kom kommandeer hy vir Oupa op om die mouter te bring vir die langpad Springbok toe. En net daar skop Oupa vas. Hy reken die Jood het gister sy Sabbat gehad en vandag is dit sy beurt. Die twee kon glad nie akkoord gaan nie en so is die Jood toe alleen verder. En so begin Oupa die eerste motorwerkswinkel op Vredendal.

Oupa het kanse raak gesien toe ander mense nog skaap getel het. Met die Tweede Wêreldoorlog het die Duitsers vir Ingeland redelik plat geskiet en die Ingelse soek toe harstogtelik na sement. En Oupa koop lorries en ry gips aan uit die Knersvlakte na Troe-troe se siding. By Holrivier grou hulle goed en later ook by Rooiberg diep die Knersvlakte in en Oupa se lorries loop. Dit was seker die mooiste gesig op aarde as daai groot grys Leyland-lorries met die lang sleepwaens in ʼn stofwolk stop en Oupa klim glimlaggend daar uit.

Hy het my leer “dryf” – soos hy “ bestuur” destyds genoem het. Maar ek praat nou van trekker dryf en boeldouser dryf en sulke goed. Toe ek kan dink, toe dryf ek ʼn ding en ek dryf vandag nog. My spannetjie reken ek is ʼn gevaar vir die samelewing – veral as ek die stad invaar, want ek vergaap my aan die goeters in die winkelvenster en al die advertensies teen die pale, maar genadiglik het ek baie lanklaas ʼn ongeluk gemaak. Maar dryf kan ek. Soos die Duitser reken; ek is liewer vir ʼn groot lorry as vir haar. Dis asof daai groot goeters my vat oor ver paaie en visioene laat sien van plekke doer ver. En dit kom van oupa Kosie af – daai stuk van die Wanderlust.

Iewers in my laerskooljare het Oupa grond gehuur en besluit om te saai in die Knersvlakte. Ek verbeel my ek was in standerd vier maar daai Junie-vakansie staan vas in my hart. Dit het gereën daai jaar en die Hanomag-trekkers het deurnag gesaai. Oupa het ʼn soort kampbedryf opgerig in die vlakte en hy was kampmeester en algemene bestuurder van die affêre. Pappa was by en ek en Nico en ʼn span mense, maar hulle gesigte het weggeraak. Ek weet net dit was koud en nat en die akkers was ver, maar as jy oor die bult kom doer onder van die Soutrivier se kant af, dan het die kampvuur helder voor jou geroep. En daar was koffie – regte moerkoffie. Nie die plastiek gemors wat mens deesdae wil “koffie” noem en jou dan los met ʼn m&*^se sooibrand nie. Soms het ek Oupa daar kom kry waar hy bietjie skuins teen die kampvuur gelê het, maar sy velskoene was nooit uitgetrek nie.

Vir slang-se-kind was hy nie bang nie. Een van die trekkers het ʼn slang uitgeploeg en toe Oupa hiervan hoor is hy die akker in om die slang te gaan soek. Later kom hy daar aan met die lewendige geelslang met sy bek wat mooitjies toegesteek was met ʼn haakspeld! En toe was daar sports. G’n mens kon sommer net jou sit op die Hanomag loop kry nie, want netnou lê slang-se-kind daar. As die manne bietjie draai met die diesel-ingooiery of sukkel met die swaar mudsakke saad, dan help Slang hulle spoed optel. En as die Hanomag sy akker vat, staan Oupa glimlaggend daar met Slang in die hand. (Jammer alle groenes maar gelukkig is hy ook al lankal vort!)

Die een aand sit ek en Oupa teen die vuur en luister na die stilte. Die trekkers is ver oor die bult na die Soutrivier se kant toe en net die vleis sis op die kole. Die volgende oomblik kom daar ʼn vuurstreep van Nuwerus se kant af. Dit brand deur die hemel en gaat reg oor ons koppe. Hier iewers suid van die Kleinrivier verloor hy sy blus met ʼn geknetter en los my sprakeloos. En toe begin vertel Oupa van sterre en komete en goeters wat van ver kom hier na ons aarde toe. Later kom Pappa by en hy vat die storie verder en verwonderd hoor ek van sputniks en goeters in die hemel wat mens kan afloer en radiogolwe wat trek waar jy nie kan sien nie.

My hart raak toe aan’t dwaal – nog so ʼn stuk Wanderlust.

Die kosmakery was ʼn affêre. Een aand het Oupa skaaptjops gebraai en genoeg ook vir die deurnagskof. Maar dit was koud en ons het gewei en vroegdag sien Oupa die brekfis is kort. Toe gooi hy sommer ʼn paar blikkies tamatievis in die swartpot om die skaaptjops te rek. Daarmee saam maak hy mieliepap. Ek het die spulletjie net so een kyk gegee en maar gehou by die mieliepap. Van die ander manne het egter gesmul, maar ʼn bietjie later was dit een aandoenigheid om te aanskou. Die Hanomag’s loop net so 500 meter of wat dan sien jy die drywer spring en dan hol die man laat dit bars vir die windbreke tussen die akkers om later so stadig-stadig terug te sluip na sy trekker. En Oupa lag, want sy maag was sterk soos staal.

Maar ek hou van daai tyd af van kampvure en swartpotte en koffieketels met regte koffie. Ek maak ook “moer-potte” en gooi enige ding wat ek in die hand kan kry bymekaar. En ons kyk vandag nog sterre en geniet stiltes en wonder oor goeters wat mens nie kan sien nie.

Ek reken dis seker maar oupa Kosie se Wanderlust.

 

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Koos, lyk my jy het ook maar voor in die koor gestaan toe talente uitgedeel is. Skryftalent sowel as meganiese aanleg skop jy nie agter elke bos uit nie. Inteendeel, die meeste skrywers wat ek van weet woeker maar met die geskryf en los die majienerie vir diesulkes aangelê. Mooi man!

Annalidda ·

My Oom Koos jy is maar net soos Oupa. Kort en kragtig en Altyd besig. Maar n mens na aan my hart met baie lesse vir die lewe die is jy. Liefde vir jou

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.