Wanderlust: Hoofstuk 20

(Foto verskaf deur Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

Soos die keer toe ons by die Zambiese grenspos net noord van Katima kom. Dis vroegmiddag en ons is haastig, want ek wil vroegmiddag kamp maak by Livingstone. Die klerk daar wil toe die een of ander papier van die sleepwa hê. Ek verduidelik vir hom dat ek die sleepwa self gebou het en daarom is die handelsnaam “Home-Made”, maar hy wil nie daaraan byt nie.

Dis so ʼn klein vuil vertrekkie en dis warm en luidrugtig, want die plek staan vol mens gepak. Die toeriste wag en word ongeduldig, maar die klerk wil op sluit weet watse maak die sleepwa is en glo nie die “Home-Made”-storie nie. Ek het geen raad vir die onmoontlikheid nie. So haal ons later maar die opvoutafeltjie uit en maak middagkos. Elke nou en dan stap ek weer terug die warboel in om te kyk of die kêrel hom nie wil bekeer nie.

Dis later koffietyd en ons wag steeds. Ek snap lankal hy soek iets onder die tafel deur, maar ek is verbete teen omkoop en hou my onnosel. Net ná koffietyd stap ek weer daar in en hoor hoe die een klerk met die ander ene in ʼn soort taal praat wat ek kan verstaan. Het mos darem lank in Natal tussen die Zoeloes gewoon en ou Shaka het die lot mos daar op loop geja sodat party gevlug het tot teen die Malawi-meer. Op die een of ander wonderbaarlike manier is hier ʼn paar van Shaka se agtergeblewenes en hulle praat nog die taal.

Ek spits my ore en hoor hulle praat van mense wat so lief is vir stortbaddens vat. Skynbaar is dit baie goed om “Aids” mee af te was. Net daar vat ek die storie in Zoeloe en vertel hulle dat mens met meer respek moet praat van onse oom Jacob. Stomverbaas kyk hulle my aan en toe blom die gesigte. Ons is skielik bloedfamilie van toeka-se-dae af. Binne minute ontdek die halsstarrige klerk toe ook dat “Home-Made” ʼn goeie naam is en hy tjap die papiere en daar trek ons.

Dit help nogal om tale te kan praat.

Die grenspos by Kazangula was vir lank my persoonlike satan. Ek is sommer kwaad met die aanhef. En dit oor ʼn agent. ʼn Mens moet mos derdepartyversekering uitneem vir Zimbabwe en die agent smous vir die een of ander maatskappy. Maar ek ken die bedryf en kom gewapen met my versekering al uit die Kaap uit. Maar keer vir keer kom staat hy voor my kar en mors my tyd en hou hom vreeslik belangrik. So vererg ek my die eendag liederlik en wil hom sommer druk met die bosbreker van die Nissan. Hy wys vuis en verduidelik my wat hy my alles sal aandoen en ek praat “boers” terug. Maar toe die kamp daar staan in Vic-valle, stap ek oor die straat na die polieskantoor toe. Vra sommer om met die grootbaas te praat en hier kom later so ʼn lang kêrel aan met baie sterre op sy skouers. Ons kuier sommer gemaklik en ek vertel hom my stoornis met die agent. ʼn Paar dae later stoot ons weer weswaarts deur daai grenspos en die pestilensie is skoonveld. Ewe onskuldig vra ek uit na sy welstand en verneem die polisie van Vic-valle het daar aangekom en hom agter in die “sif-bakkie” gesmyt en weggevat.

Ewe onskuldig vra ek verder uit oor wat dan sy moeilikheid was en hoor hoe hy al vir jare die toeriste tempteer. Later staan die hele kantoor se klerke om my om in groot duidelikheid te vertel hoe korrup die agent nou eintlik was en hoe dankbaar hulle algar is dat die onverskrokke toeris hom uiteindelik gaan verkla het. Net daar tree ek hulle aan oor waarom hulle so sleg is dat hulle hom nie lankal self loop verkla het nie. En toe hoor ek van bloedvetes en towery en anderlike “Afrika-geite”.

Toe verstaan ek wat oom Dirk Mudge bedoel het dat ons wit mense plek het in Afrika. Net daar besluit ek, ek hou nie meer my bek nie. Praat sal ek praat, want ek hoort ook hier.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae