Wanderlust: Hoofstuk 21

Saam met die Hollanders in die Hwange (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

Ou Bob het mos Zimbabwe so opgefoeter totdat ʼn blikkie Coke een miljoen Zims kos. Maar ek bly lief vir die plek en gaat voort om safari’s daar te ry. So staat ons een jaar met ʼn klompie Hollanders in die Hwange. Kyk, die arme Ingelse het mos die naam só verwerk dat dit later geklink het soos die een of ander sagte-bedryf. Net soos hulle ook met die Chobe gemaak het. Sy naam is mos eintlik soos die “tjo-“ van “tjoklits” en dan sit jy net ʼn “be” agter. In ieder geval – ons kuier lekker doer tussen Robin’s Camp en Sinamatella. Staan op ons eie en maak sommer staptogte die woesteny in. Vanaand brul die leeus hier neffens en ons slaap stil in ons daktente.

So kom ons die Sondagoggend by die grenspos van Mpandamatenga en ons ry met twee karre met sleepwaens en dis ʼn affêre om deur al die papierwerke te kom. Ek stap sommer voor met ʼn dik lêer onder my blad en staar stip voor my om die bedryf met mening aan te pak. Toe ek klaar is, vat ek die twee karre deur die stukkie niemandsland tot by die Botswana-kant en bestorm die pos daar. Uiteindelik is ek deur die storm en loop sit salig in die bakkie en wag vir die Hollanders. Ou professor Rosemund klim later in en steek pyp op en sit rustig en suig. Die tante kom ook aan en later is die hele span daar, maar die seun bly weg. Ek raak later kriewelrig en begin uitvra na sy omstandigheid en hoor verstom dat die spul doer in Zimbabwe hom skynbaar gearresteer het.

Ek hou mos klaar nie meer my bek nie – so ek storm oor die niemandsland die pos binne en vra sommer luidsprekend uit oor die gas van my. Ewe kordaat verduidelik hulle dat hy sewe miljoen Zims op hom het en ʼn mens mag net ses miljoen landuit vat. Ek vererg my bloediglik en vra of hulle koue of warm Coke wil hê vir die een miljoen Zims. “Nee,” verduidelik hulle. Hulle wag nou vir die opdrag van Harare om te hoor wat hulle met die booswig uit Holland moet maak. Ek draai net daar om en toe ek deur-uit stap, vertel ek hulle hard en duidelik laat ek nou my kamp in die middel van die pad – binne die niemandsland gaat opslaan. Geen wiel sal in of uit deur daai niemandsland nie en boonop bel ek nou die ambassadeur in Harare. Met dié pluk ek sommer vir selfoon uit en bel enige nommer en begin Afrikaans praat laat die spoeg spat.

Binne minute kom Jaap-Willem uit die selle met die bondel papiere wat hulle Zimbabwe dollars noem, steeds in sy hand. Ewe rustig vertel hy my van sy sewe vriende in Holland wat so bitter graag ook miljoenêrs wil wees. So stoot ons suid en die donkerte oorval ons net anderkant Selebi Phikwe.

Ek is heeltemal oorhoeks met ʼn bosbreker. Ek kwansel of prakseer, maar my karre loop met bosbrekers. En ek praat nie van “sissie”-goed vir die mooigeit nie. Dis nou vuilskemer en g’n mens kan ordentlik sien nie. Ons ry laat dit bars want ek wil hoeka mos al lankal op my staanplek gewees het. Ek is voor en die Nissan loop kort op my hakke. Die volgende oomblik is daar so agt stuk donkies in die pad voor ons en party lê geheel op die louwarm teerpad. Deur die genadigheid kom ek heelhuids tussen hulle deur, maar die Nissan vat die een lê-donkie mooi in die middel van die bosbreker. Ek sien net hoe klim die kar die lug in en toe swik sy weg die bosse in. Die briek trap en noodhulpsak uitpluk was een ding, en toe hol ek agter die rooi ligte aan die bosse in. Die span sit doodstil in die kar en net die ligte brand. Ek pluk die deur oop en wil mens begin toedraai, maar hulle is algar oukei. Toe bekyk ek die Nissan, maar alles sit nog op plek.

Later is ons terug op die teerpad en ek bekyk die donkie – dis nou die oorle ene, want die ander is voort. Die stomme ding is boud en blad uitmekaar en sy kop lê doer eenkant. En al wat die Nissan oorgekom het, is dat hy net oorverdowend brul. So kom ons brul-brul op Johannesburg se lughawe aan.

Kyk: ek is mal oor bosbrekers – maar nie “sissie”-goed nie. Sit vir jou ʼn ordentlike ding op jou kar. Dis nou as jy wil gaan safari. Of anders hou maar so tussen Gordonsbaai en Stellenbosch en prul met jou SUV, maar eintlik is dit ʼn sissie-dingetjie.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae