Wanderlust: Hoofstuk 22

Die Duitser agter die wiel van die Nissan diep in Kaokoland. Die kar en die wa is tot barstens toe gelaai. (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

ʼn Man se sleepwa moet ʼn ordentlike as kry. So vertel die alwetendes my en ek loop koop ene doer in Stikland – ene wat sommer drie-keer te groot is vir die job. Alger belowe my hand en mond ek ry vir ewig verder met dié as.

So sak ek met twee Ingelse teen die Kunene af en net kort anderkant Swartboois se gedenkteken, daar kalf die as. En moenie nou met my kom karring oor “bearings” en ghries en oorlaai of sulkerlike goeters nie. Die Duitser het my hoeka touwys gemaak en ek is presies – amper soos ʼn Duitser.

Alles is noukeurig nagegaan voortyds maar die as breek tussen die binne- en buitenste bearings af. Só morsaf sodat ek die wiel doer onder in die Otjiveze-riviertjie moet loop haal. Daar is niks te vervang of te sweis nie, dis nou nuwe as insit en dis basta.

Ek bou so ʼn slee-bedryf onder die wa in en sleep die affêre tot by Hamutenjwa Tjiphosa se kraal – hy’s my ou vriend uit die oorlog se dae. Daar slaat ek kamp op onder die anabome en vra een van sy seuns om my mense op te pas.

Ek bel gou suid en hoor van iemand wat ʼn as het wat spoor in die Nissan s’n en vat die pad af na Kamandjab. Drie-uur daardie oggend ry ek amper ʼn gemsbok te pletter maar kry die mense doer naby Werda-hek en sit net so in my spore om sodat ek dagbreek die kamp inry. Die Ingelse het intussen vir Tjiphosa-junior weggejae want skynbaar het hy daar op aandag gestaan met ʼn yslike knopkierie en wou later glo die muskiete ook verwilder.

Ek slaap so paar minute en maak gou my maag vol toe val ek onder die sleepwa in en begin bou die breek-as uit en die nuwe ene in. ʼn Halfuur toe is ek klaar en toe wil ek wiele opsit en daar is dit ʼn gesukkel – my “rims” se “off-set” pas nie in onder die modderskerms in nie en die bande druk teen die bakwerk. Dis hierheen en daarheen en ek probeer later die kar se bande daar pasmaak want hulle is mos dieselfde grote. Maar ook hulle “off-set” werk nie.

Dit smaak my ek dood tien soorte dood maar die enigste raad is nou terug na Otjiwarongo waar so ʼn presiese as te kope is – en dis amper 1 200 kilometer heen en terug.

So ry ons met daai slag meer as 2 000 km agter ʼn as aan en in die proses stamp ek die tweede nag nog ʼn kameelperd ook. Gelukkig dat ek so lief is vir ordentlike bosbrekers dat toe ek die kameelperd vat, toe loop sit hy net so effe op die bosbreker en stap mankerig verder – die kar makeer niks nie.

Ons kom huis toe en ek raak aan’t lese oor aste en hul streke. Toe hoor ek van soliede stukke yster wat afgedraai word op die punte om die bearings te vat en dat dit die gesukkel is – hulle kan maar lieg soos hulle wil oor hoe dik en hoe sterk die stuk yster nou ook al is. As jy baie grondpad ry en boonop ongelyktes wil aandurf – dan werk daai aste nie en jou alie sal jy sien.

En toe leer ek van oumens-rate. Loop soek twee voor-aste van ʼn ordentlike bakkie – ek praat nou van ʼn Japsnese bakkie. En dan gee jy die goed vir ʼn mens wat kan sweis om daardie “stubs” ordentlik in ʼn stuk stoompyp in te werk en netjies op te lyn. Dan het jy ʼn as. Dis nou jare wat ons so kom met daai aste wat ons by die Strausse op Koekenaap gekoop en toe laat maak het. En hulle hóú.

Die wa kan maar omslaan en deur diep waters gaan en die Namib stoftrap en penstoe vaslê in die modder en boonop oorlaai word sodat ʼn spietkop eintlik trane in sy oë kry van al die lekkerte wat hy moet boek vir jou, maar breek, breek hy nie.

Dis die waarheid.  En as jy my nie wil glo nie, ry maar tata – jou moeilikheid is geboek.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Genade Koos, ek is nou skoon natgesweet van die lees aan die uitputtende ervaring!
Harrepad offie hooofpad?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.