Wanderlust: Hoofstuk 24

Koersvat in die vroegdag (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

ʼn Jagtery met mens wat kan, is mos hemels. Vroeg opstaan en die rooidag inwag met koffie en beskuit in die hand. Dan in die grou-oggend styf-styf van die bakkie afklim, toegedraai in warmgoed, om voetjie vir voetjie deur die bosse te stap. Die voëltjies sing onverskrokke hulle dankliedjies en steenbokkies trap versigtig oor nat graspolletjies. En as die wind reg waai en die genadigheid is groot, klap daar teen negeuur ʼn enkele skoot en roep man die veldkar om vir gemsbok te kom laai. Met die groot etery van elfuur, braai man dun repies lewer sommer so in die swartpot se deksel en ooreet algar hulle.Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

Maar dan kry jy vir bokkoors, en dit is ʼn nare siekte.

Ons jag weer met ʼn ryk Duitser. Die man het die mooiste geweer wat ek al in my lewe gesien het. So ʼn hotklou bedryf met ʼn dof-blink loop. Sommer ʼn 300-Winchester Magnum ook. Boonop is sy teleskoop van die Duitse goeters wat duurder is as my kerkkar. Jy stel wind en afstand en kan sekuur skiet tot op ʼn duisend meter – dis nou as jy nie bokkoors het nie. En die man kán skiet, want die vorige middag het ons seker gemaak die geweer is nog “in”. Hy haal die teiken se hele swartkol op honderd meter uit met net vier skote. Ek lek eintlik my lippe af vir die groot kommissie wat ons hierdie slag sal verdien.

Ons ry nog met die jagkar, toe sien Toutjies die gemsbok, en dis vroegoggend. Nie sommer so ʼn bok nie. “Nee,” verseker Toutjies my, “dis ʼn goue trofee ene daai.” Ek dryf daai dag want Toutjies se oge is die bos meer gewoond as myne. Sit die enjin af en vertel die jagter baie rustig hoe en waar nou. Die volgende oomblik skiet die man my oge toe van die stof. Ek voel of iemand my gesandblast het en die regterkant van my gesig is nerfaf. Ek sit verstar en bevoel myself om seker te maak daar loop nie iewers goed uit nie. Later kom Jagter tot sy sinne en vra ewe mooi om verskoning en verduidelik dat sy vinger begin ruk het voordat sy geweer aan die skouer was. Net daar sit ek om terug kamp toe en ons eet eers “brunch”. Toe tree ek die kêrel weer aan op die skietbaan en ons vat die drills so een vir een. Alles soos my korporaal destyds in ‘75 my in Bloemfontein geleer het. Die man leer ook gou en hy skiet sommer weer die hart van die teiken uit en alles is nou wel.

Die geluk is bietjie teen ons en die volgende middag besluit ek ons moet maar die Ugabrivier gaan ry op soek na ʼn koedoe wat skuiling soek teen die hitte. Toutjies dryf hierdie keer en ek en Jagter staan agter op die bumper. Stadig gaat ons die rivierloop af en ná ʼn rukkie beduie Toutjies na ons regterkant. Sommer hier naby op die wal sien ek ʼn meneer van ʼn koedoebul staan in die koelte. Ons twee op die bumper val af en Toutjies hou op dieselfde spoed aan. Die koedoe verkyk hom aan die lelike groen bakkie en ons kruip versigtig tot in ʼn skadukol. Ewe dapper kniel ek voor Jagter en vertel hom hy moet dooierus vat oor my skouer en vir koedoe net agter sy blad skiet. Maar toe die 300-Winchester Magnum bulder, is my oge weer toe van die sand. Net hier langs my linkerknie skiet hy ʼn sloot in die sand en die koedoe hol weg.

Dis wanneer mens lus kry vir slaat. Sommer so met enige ding wat jy in die hand kan kry. Klipkap of bottelnek-steek sal ook help.

Ná veertien dae is Jagter voort sonder ʼn bok. Die blink geweer het toe nie die ding kon doen nie en daai duur teleskope het geheel niks beteken nie – volgens hom.

Maar ek het toe weer geleer dat bokkoors is ʼn nare siekte.

Die een ou kom daar aan met ou Musgrawe sommer met ʼn Ram-teleskopie op, maar hy skiet raak. Die ander ou is soos hierdie jagter, dis Manlichter met Zeiss-teleskoop, maar die bokkoors los hom leë-bek.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.