Wanderlust: Hoofstuk 25

Iewers langs die Diamantkus – woes en leeg (Foto; Koos Greeff)

Hierdie is die laaste uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

Die tante is oud, soos in uitgeteer-oud, maar sy wíl op safari gaan. En boonop nie ʼn “sissie-safari” nie – nee: ʼn regte ene. Toe loop nooi sy op die koop toe haar ou niggies en neefs en ʼn klomp pelle ook saam.

Uiteindelik is die gemiddelde ouderdom van ons hele lot twee-en-sewentig jaar – en dit sluit vir my en die Mooiste en een jongman in! Ons is behoorlik in angs en bewing en beplan met groot omslag die treurmare, want bars gaat ons bars hierdie keer. Ons is met drie karre die Richtersveld in en kom die namiddag daar by De Hoop teen die Grootrivier aan toe die ou tante die lot vasvat. Maar nou met wysheid en nie sommer holderstebolder nie.

Elkeen kry sy kampplek en die prosedure rondom die etery word mooi uitgeklaar. Haar eenman-tentjie word hier teen my en die Duitser s’n opgeslaan, want sy reken self sy is al baie “frail”.

Gou-gou is die ou lot uitgesorteer en die een tante maak haar eseltjie staan teen die waters en raak aan’t verwe. ’n Ander ou oom kap teen die rotse en loop grawe in die grond rond en twee ander tantes stap stadig van bossie tot bossie en bevoel die goed se blare. Ek spitbraai ʼn klompie hoenders en die Duitser is besig met die potbrood en slaai. Later sit ons salig om die kampvuur en toe vat die voorman-tante die pratery oor. Sy vertel van Saturnus wat so en so gaan maak en Jupiter wat netnou sy kop sal uitsteek, en dan moet ons tienuur se kant kyk want dan sal Hubble-se-teleskoop reg oor ons koppe gaan.

Die volgende oggend vroeg is ek op en besig met die koffiewater toe die voorvrou roer in haar tent. Sy klouter versigtig uit die plat bedryfie en kom sit doodstil op ʼn houtstomp teen die vuur. Later steek sy ʼn sigaretjie op en eers toe sy ʼn blikbeker koffie in het, begin sy praat. Vertel van ver dae se dinge en van vrou-alleen vier kinders grootmaak. Toe eers hoor ek sy’s ʼn dokter.

Verstom vra ons uit en hoor daar’s nog van hulle tussen die ou lot en dan ook ʼn geoloog, ʼn argitek, botaniste en boonop ʼn veearts – om nie eers te praat van die lektore in kuns en annerlike goeters nie. Voorwaar ʼn uitgeleerde klomp mens.

Dit word die lekkerste safari wat ons ooit gery het. Sien ons iewers ʼn mooi rots, dan sukkel ons almal daarheen en dan word die kwartsiet in omhaal bespreek. Dan val die botaniste sommer in en verduidelik mens behoort hierdie of daardie soort vetplantjie daar te kry en dan begin die soektog. Vind ons die plantjie, dan word daar foto’s geneem en gesoek vir die een of ander gogga terwyl die skilder-tante sommer gou ook nog paar sketse maak. Die lot woel so hard dat die skilder-tante meer as dertig sketse van die Richtersveld maak in daai paar dae. Kampvuur-tyd is storie-tyd en ons hoor van oorloë van lank gelede en ekspedisies na die Suidpool en wonderlike goed. Later word die hele dag herlewe en ons val almal verryk en salig in die kooie en slaap dood tot rooidag-môre.

Later staan ons daar by die Richtersberg teen die rivier, toe tree die voorvrou die span aan, want dis nou badtyd. Die klompie ooms sukkel stroom-op en die tantes stroom-af, en daar staat hulle helder oordag in hulle adamsgewade en geniet die son. Deesdae hoor ek die jongmense praat van “skinny-dip”, en dis mooitjies wat die ou lot toe doen – soveel so dat die een ou tante se enigste olifantbrille stroom-af dryf tot by Alexanderbaai waar die een of ander wyfie-haai dit seker nou dra. Die laaste aand sit die lot hier by ons op De Brug en ons eet toekos en al ons kinders is hier. Die gemiddelde ouderdom om die tafel is toe vyf-en-sestig en ons hou groot partytjie. Met hartseer groet ons die lot oumense die volgende oggend.

Toe die laaste stoffies gaan lê, sê die Duitser: “Ek was altyd bang vir oud word. Maar as ek op twee-en-tagtig nog kan ‘skinny-dip’, dan kan ons maar oud word.”

Ek sien nogal uit daarna.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Pragtige stukkie ervaring Koos.
Dankie vir die deernis met die deel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.