Wanderlust: Hoofstuk 4

Die bekende Teubus-familie van die Weskus (Agter links oom Ousyp (Sybrand) en agter regs oom Tamatie (Jan) Foto: Koos Greeff

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

In 1971 het Pappa sy eerste nuwe motor gekoop: so ʼn vuil-wit Datsun 2400 – en net daarna toe pak ʼn Wanderlust hom weer. Hy maak mens bymekaar en werk die lot so op laat ons later ʼn hele bondel Vredendallers is wat die langpad aanpak na Rhodesië en verder. Dis nou oom Sarel Kruger en gesin, oom SP Burger en gesin, oom Jan Tamatie (Teubus) en gesin en ook Ousyp (nee, dis nie van “suip” nie!) Teubus en gesin. Ons sleep ʼn karavaan wat Pappa iewers gehuur het en die Datsun brom al die pad op na Pretoria waar ons by familie oorstaan. Die groot bymekaarkom is in die karavaanpark in Salisbury – die hoofstad van Rhodesië.

Ons is ʼn lot kinders en oom Ousyp se dogters is mooi en ons Greeffies is rammetjie-uitnek. Een aand pak ons man en muis ʼn “steakhouse” vol. Dit was regtig ʼn wonnerlike ding want die enigste eetplek op Vredendal was destyds die Suikerbossie Kafee. Ek weet nie of die mense daar kon Afrikaans praat nie, maar ek hoor nou nog Pappa se woorde toe hy ons tafel se kos bestel: “Steak vir ses groot mense en ses kinders en vir een vraat!” Ek was daai vraat: lank en ellendig van lompgeit, maar honger soos ʼn wolf.

Die Victoria-valle, die Wankie-natuurreservaat, Karibadam met sy wonderlike tiervisse en die Zimbabwe-ruïnes betower ons. Toe sak ons lot af Mosambiek in en bly oor op die dorpie Tete – natuurlik tot ons seuns se grootste vermaak. (Ek praat nou van goed wat onder die klere hoort.) Vat die pont daar oor die magtige Zambezi en toe deur daai verwoesting van ʼn 400 kilometer grondpad tot binne in Malawi. Ons stop daai aand moeg en onseker voor die een of ander hotel en die deurwag stap ewe vrolik die trappe af en sê in vlot Afrikaans: “Goeienaand. Vredendal, Vredendal en Vredendal! Ai, darem lekker om mense uit die Dal hier te sien!”

Ag mens – hoe beskrywe ʼn mens na soveel jare vir Monkey Bay en die Nokopola Lodge daar teen die pragtige meer! Ons klomp Weskussers swem asof die water sal opraak, want warm waters ken ons mos nie. Die Zombaberge en die pragtige granietmassiewe daar om Lilongwe betower my en ek verstaan hoekom die plek met sy vriendelike mense die “Warm Hart van Afrika” is.

Ons was net tuis op “Begin”, toe beplan Pappa al weer die volgende veldtog. Hierdie keer was dit weer Suidwes en Angola. So vat ons in ‘72 weer die pad na die noorde, maar nou was Suidwes al makker want ek verbeel my daar was meer teerpad – of die Datsun was gewoon beter as die Opel, want ons ry doeksag al die pad tot in Oshakati. Ja – daai selfde plek in Wamboland waar so baie troepies trane van verlange gehuil het. Mamma se neef was sekretaris van werke of so iets, en ons ja met poliesbakkies en ander GG-karre die vlaktes vol. Daar word gejag – ek reken onwettig – en biltong gemaak en sommer in die algemeen net lekker gekuier. En toe vat oompie Ben ons weswaarts by die poskantoorboom op Ombalantu verby tot by die Ruakana-waterval en ons kamp onder by die “Hippo Pool” teen die Kunene.

Daar sien ek vir die eerste keer regte “kleimense”, die Himba, en daar bespring die een of ander nuuskierigheid my – soveel so dat ek alles lees van hierdie unieke mense en selfs vandag nog nie uitgekuier raak aan hulle nie. Maar die groot lekkerte was eintlik ons kort besoek aan Angola. Ons maak ʼn konvooi van mense daar uit Oshakati op en gaat oor die grens, sommer so sonder paspoorte want almal ken vir oompie Ben. Al die pad op tot by Pareira d’Eca waar ons die heerlikste middagete geniet. (Tot vandag toe dink ek steeds die Portugese maak die lekkerste kos!) Ek dwaal rond in die pragtige dorpie en verkyk my aan die groen grasperke en mooie regeringsgeboue waar soldate wagstaan. En ek wonder hoekom mens nou so ʼn mooi plek moet oppas met gewere.

Maar so kom ons terug na die vaal-nat koue van die Wes-Kaap en my hart sit doer ver in die noorde. Later jare sou die mense van Angola weer by my kom spartel en die Wanderlust oor daai plek wil my nie laat los nie – trouens dit word erger soos ek ouer word.

Ek het nog nie eers vertel van Mamma se wille broer, oom Drikus, nie. Hy woon destyds ook daar in Angola, maar Mamma was te skaam om vreemde mense na hom te vat. Hy het gewoonlik net een keer per jaar sy tande geborsel en dis wanneer hy dokter toe gegaan het en verder het hy net op Krismis sy hare gekam, want dan gaat hy kerk toe. Verder kon hy vloek soos g’n matroos dit kon nadoen nie. Natuurlik was hy ons kinders se groot held.

So elke dan en wan dan daag oom Drikus uit die bloute op – gewoonlik met ʼn verflenterde Land Rover en ʼn groot wolfhond. En hy praat hard en onverskrokke storm die vloekwoorde oor sy lippe en hy vertel van Portugese en diamante en grootgeld en olifante en goeters waarvan ons nie eers kon dink nie.

En ek droom.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Sakkie ·

Dit was nou lekker om die stuk te lees. Baie goed geskryf, kort maar kragtig. Koos Greef skilder inderdaad met woorde.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.