Wanderlust: Hoofstuk 6

Doe Stegen-broers van Paardefontein-distrik, New Hanover. Iewers in die 40’er jare. Bodo, Erlo en Manfred voor. Agter Hino en Friedel. Hulle kon ‘n motorkar laat hol! (Foto verskaf deur Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Die Duitser se mense is Springbok-Duitsers. Nee – dis nou nie Uli Schmidt se familie nie. Dis Duitsers wat al so lank in Suid Afrika woon dat hulle Afrikaans kan praat en lewe soos onse mense. Hulle is meer vroom as onse mense en klou meer aan wettietjies en maniertjies vas as ons Doppers en dis al.

En verder kleur hulle Afrikaans met ietwat vreemde gebruike – soos een van Skoonpa se erg vrome neefs die eendag vir my te vertel het. Die salige oom se ouers het nog geleef en ek was lief vir die twee oues en vra ewe onskuldig uit na hulle welstand. “Nee,” reken die salige ene, “dit gaan goed met hulle. Ma het net die k*kkerasies.” Ek stik amper soos ek my tong insluk, maar hou my vroom gevreet en ons kuier voort.

Die lot Duitsers was meestal sendelinge en hul meelopers wat hier in oom Paul Kruger se tyd die land begin inkom het en wonderlike bydraes gelewer het. Hulle het Afrika omhels, maar in die algemeen het hulle een probleem – spoed. Toe ou Hitler die “Autobahn” begin bou doer in die verte, het die Springbok-Duitsers meteens die groot leegte in hulle harte begin verstaan: hulle moet jae.

Duitse Papa koop destyds ʼn BMW 728 en Swaertjie vat vir Skoonma Pietermaritzburg toe. Die salige mens sit rustig en brei terwyl Swaertjie stoot laat dit bars tussen Greytown en Pietermaritzburg en die naald sit net so neffens 180. Meteens kyk Skoonma effens op en vra ewe rustig: “Kan die ou wa nie vinniger hol nie?”

So nooi ek die Springbok-Duitsers saam met my vir ʼn prekery in Suidwes en ons pak twee BMW’s en een Mercedes vol en vat die pad deur die Vrystaat tot in Upington. Daai môre toe die vlaktes van Karasburg voor ons oopmaak, toe loop daai Duitse tjorre ʼn mooie 200 km per uur. En daai vroom omies jae mekaar. Deur die Karasberge vat die BMW’s voor, maar toe ons die gelyktes daar by Tses vat, loop die Mercedes oop ketel. Baie wette van die Testamente geld, maar Vorster se wet kan maar loop bars!

Net duskant Mariental ontwikkel Markus ʼn groot nood en mooipraat help niks. Later trek die Mercedes af en hy maak sommer broek los daar op die vaal vlaktes. Die man was net besig, toe stop die twee BMW’s en die klomp grootooms en -tantes bekyk die storie. Die mannetjie verloor net daar sy lus en ons kon verder ry.

Ons werk Suidwes plat en later is dit weer Duitswes en daai wilde lot begin einde ten laaste ook kerk toe kom. Toe vat ons die pad terug na die Republiek. Staan oor op Stampriet sodat die Springbok-Duitsers ouma Sannie se storie kan hoor en saam met Oubaas duine kan ry en toe stoot ons af na die Gemsbokpark. Tot op Mata Mata gaan dit nog heel rustig, maar in daai park bespring iets die ooms. Vergeet van spingbokke en jagluiperds en diere kyk: die karre vlie loshand oor duine, “broadside” om draaie en laat die Kalaharisand sulke rooi boë staan en die tantes kraai soos hulle lag.

Ons draf daai stuk pad af na Twee Riviere kaf onder ʼn uur en stop in ʼn yslike stofwolk by die hek. Die hekwagter maak ewe gedweë die hek oop, maar toe storm daar ʼn antie met ʼn uniform by die kantoordeur uit en raak aan’t beduie. Ewe vroom klim die ooms uit en vra wat haar probleempie dan kan wees. Sy vertel ons dat dit Gods onmoontlik is dat ons al hier kan wees want sy weet hoe laat ons uit Mata Mata vertrek het. “Nee,” reken die een oom, “ons het leeus kort naby Mata Mata gekry en toe jae hulle ons, dis dié dat ons so snel moes vaar.” Die arme antie het geen antwoord op hierdie geldigheid gehad nie. Die res van die middag het ons heerlik gekuier en ʼn lang pot gekook doer in die Kalahari, maar net met koffie en tee – want die Springbok-Duitsers hou by die wet en vermy raaswater sorgvuldig.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.