Wanderlust: Hoofstuk 7

Koos Greeff en sy vrou, wat hy liefderik “die Duitser” noem, 1978 (Foto verskaf deur Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Ek kry weer ʼn uitnodiging vir ʼn prekery in Suidwes en ek en die Duitser pak die Cressida vir die lang tog. Ons waggel hier op tot in Johannesburg waar ons oorstaan vir die nag en toe stoot ons deur tot by die pastorie op Vergeleë. Kuier lekker die nag daar en die volgende oggend stoot ons verder wes tot by Boshoek. Ek sien die pad raak effens sanderig en ons stop daar onder ʼn boom. Blaas die bande af totdat hulle lekker slap is en toe druk ek die Cressida in outomatiek en ons waggel voort.

Die aircontjie swoeg en die kassetspelertjie hou aan sing en ons ry salig al met die Molopo af. Op Bray maak ons vol en ek sien ons tyd is goed, so ons hou rivierlangs al die pad tot by McCarthysrus en toe verder.

Naby Middelputs maak ons middag en Annemarie hol haar energie uit teen die duine. Ek en die Duitser is salig want my Wanderlust het haar al so amper mak. Later stoot ons rustig aan slap by Khuis verby en by Bokputs kry ons die grootpad wat eintlik die slegpad is. So teen koffietyd sak ons by Twee Rivieren in. Terwyl ek die vormpies invul en die Duitser die volle R40 vir die huisie se huur betaal, vra die amptenaar my uit oor die pad. Vertel hom hoe sleg die bedryf is hier van Bokputs se kant af, maar dat verder na Middelputs en al die pad tot op Mafeking heel oraait is. Hy reken maar dan ry ek darem met ʼn ordentlike Land Rover. “Nee,” antwoord ek, “ons het sommer met die Cressida gekom.”

Daar weet die man my te vertel mens kan g’n-stuk daai pad met ʼn motor ry nie. Ek moes hom later die kar loop wys en toe die Duitser met haar Springbok-Duitse Afrikaans my storie bevestig, aanvaar hy dit al twyfelend. Maar hier het ek ʼn groot ding geleer. As jy lus is vir wander, dan moet jy net loop wander. Deesdae maak die mense mos groot stories van nonsies. Dis nou van “viertrek” met “lae-spoed-oordrag-ratkaste” na “ewenaar-sluitstelsels” uit Australië met “hooglig domkragte” uit Amerika en “opligstelle” vir beter grondvryhoogte – sommer net ryksmansspeelgoed se twak.

Dis soos die dag toe ons met ʼn groot konvooi properse vier-by-viers in die Richterveld staan om die asemrowende skoonheid van die Rosyntjiebosberge te geniet en die klouvermoë van ons Goodrich- en Michellin-tyres vergelyk. Toe kom daar een van die skaapboere van Khoeboes die hoogte uitgepoer-poer met ʼn horingoue Peugeot-bakkie met sulke gladde Goodyear-tyretjies op. Kyk – die Wanderlust is ʼn ernstige soort van ding en geldwolwe kan lekker lie en jou berowe van jou lust.

Hoe dit ook al sy, ons stoot die volgende môre voort die Aoub op tot by die familie in Stampriet. Skoonpa-hulle kom later met die vliegmasjien tot in Windhoek en ons vat die langpad af na Hentiesbaai. Ons hou salig kerk en kuier om vure met vleis of vis maar net met koffie en tee want ons hou mos die wet – (die ene oor raaswater). Maar Skoonpa-hulle word mak en het later heel vree met my Cressida se gewaggel en die dappere spoed van 100 km per uur wat ek kan handhaaf. (Kyk die Cressida was gebou vir die langhou, nie vir spoedhou nie. Oor die honderd was lewensgevaarlik.) En hulle kry lus vir die stilte en ons stop sommer enige plek en dan stap “Opa” die wydtes in en loop sit doer op ʼn klip terwyl panfluit-musiek speel oor die vlaktes.

Een aand kuier ons weer met koffie en braaivleis en later vertel ek hulle van Henno Martin en sy tjom wat die wydtes in gevlug het vir die Tweede Wêreldoorlog. Net daar besluit Skoonpa ons moet dié plek gaan kyk. Dus – ná die prekery vat ons die grondpad van Walvisbaai na die Kuiseb se kant. Dis nou met die Cressida met sy gewone tyretjies. Net doer onder teen die amperse waters van die Kuiseb kry ons ʼn papwiel. Mooiste-goed pak padkos uit en ek lap tyre want ek vermoed moeilikheid kan voorlê. Maar Skoonpa stap sommer die rivier af en later sien ons hom die hoogtes bokant ons uitklim. Kry hom op pad na Solitaire waar hy dapper aanstap.

Net duskant “Moose-se-plek” – dit was nog lank voor sy tyd – praat hy vir die eerste keer en reken dis soms beter om te vlug vir vrede as om te veg vir oorlog. Later jare sou ek daai waarheid diep leer ken. Maar so het die Wanderlust die Duitser getem.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Weereens n pragtige reisskets, baie dankie.
Die kommentaar oor die viertrek tegnologie is besonder akkuraat!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.