Wanderlust: Hoofstuk 8

Jacob en Wilma Schoeman – al sedert die laat 1970’s ‘n sending-egpaar in Kaokoland. Ons paaie kom ver saam. (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Ek verbeel my dit was in 1984 dat ek vir Jacob en Wilma Schoeman raakgeloop het. Destyds woon hulle in Opuwo en werk hulle onder die Himba-mense. Die mense is lus vir kerk hou, maar dis oorlog en Opuwo is agter die “rooilyn”. So, ek kan nie inkom nie.

So laai Jacob die karre vol en ry die lot af na Okaukeujo in die Etosha-panne en ek vlie op na Windhoek waar Eddie van der Merwe ons kry. Dis nou ek en Joseph Sishange – voorheen “Cheeseman” van Soweto. Daar was nog ʼn paar ander ook by, want ek herinner my dat ons die Datsun 1200 van Eddie plat gesit het.

Ons is die oggend baie vroeg weg uit Okahandja, want dit was net so kort lig toe sleep ons Outjo in. Net anderkant die dorp word dit grondpad en net daar is ʼn polisieblokkade. Daai Datsun is toegepak met vyf mansmense en bagasie en slaapgoed ook. Die manne vra uit waar vandaan en waarheen en ons kuier sommer lekker. Vertel ook van die prekery wat voorlê en toe is die pad vorentoe sommer ook oop want destyds was ʼn predikant nog ʼn gerekende mens.

“Maar,” reken die een klong, “julle moet mooi in die middel van die pad hou en ry maar op gister se spore. Die pad is nog nie gevee nie en julle is nou die eerstes om hier te in. Kyk maar ook mooi vir versperrings en lokvalle en mense met gewere.” Ons is doodstil – al daai 120 km tot by die Etosha se ingang. Eddie kyk stip en klou daai wiel en ek bid oopoë.

Daai tyd dat ek onthou ek was nog kwaad vir die Duitser oor een of ander nikswerd-ding. So sit skrywe ek op daai stowwerige pad ʼn opmaak-briefie vir die Mooiste en vou hom dubbeld en weer dubbeld en nog kleiner op. Die briefie bêre ek toe diep in my Bybel en vra die liewe Vader om tog my Bybel te spaar as ek die ewigheid in vlie. Wil darem nie gaan slaap sonder vrede met die Mooiste nie.

Maar ons kom veilig daar aan en die mense is bly om ons te sien en ons hou kerk en kuier wonderlik. Ek en Josef slaap in een tentjie. Hy is groot van gestalte en kan lekker lag en ons twee loop ver paaie saam met mekaar. Maar die muskiete vreet my op en los hom met rus nag vir nag, regte apartheid muskiete. Ek kry g’n rus nie en bowendien moet ek dubbeld werk ook. Want as ek preek, dan preek ek alleen. Maar as Josef preek, dan tolk ek. Later kla ek my lot by hom oor die muskiete se beleid. Dadelik het Josef die oplossing. Ek moet net leer om te snork. Dan dink die muskiete mens is wakker en so bly hulle heelnag weg van jou af.

Ná die Etoshapanne is ons terug tot by Okakarara waar ons net een diens moet hou. Dis laat Sondagmiddag en geleerdes weet dat g’n mens al ooit op ʼn Sondagnamiddag hom bekeer het nie. Maar Gawie van der Merwe het dit so beplan – so ons moet preek. Dis ʼn droewige affêre en ek worstel om die preek te preek. Die gemeente sit slaap en selfs Josef dreig om van sy stoel af te val. So sukkel ons voort tot ek “Amen” kan sê. Toe ek nog dag dis koffietyd, kom soek ʼn mens my. Hy wil praat, maar hy praat net Herero. Ek probeer in Ingels en selfs Duits en later gooi ek Zoeloe en Fanagalo, maar Ta kyk my stom aan. Daar’s ook g’n tolk in sig nie. Ek beduie hy moet maar praat want gelukkig ken onse Vader ook sy taal en die man verstaan en val weg. Hy praat en praat en ek verdwaal droomland in en weer terug. Ek is natuurlik ewe vroom besig om met toe oë, kop-in-die-hande te sit en ernstig vir hom te bid. Op ʼn slag kyk ek darem op en sien die trane loop oor sy wange. Maar die man praat, so ek bid voort. Later word dit stil en ek vra die Vader om tog genadig te wees en te hoor wat die man se klagte is.

Ná ʼn jaar kom ons weer op Okakarara en ewe opgewonde vertel Gawie my van die wonder wat die Heer gedoen het met ons laaste besoek. Hoe Hy my kragtige gebede beantwoord het en die man totaal genees het. En al wat ek weet, is van sy trane en van my verdwaling in droomland. En van Groot Genade. En dit was alles die Wanderlust se toedoen!

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Altyd lekker om jou skrywery te lees, Koos.
Dis soos vakansie vir n moeë siel tussen al die knetternuus van die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.