Wanneer ideologie katastrofies raak

microphone-1166625_1280

Foto: pixabay.com

Enkelvoudige verklarings is byna nooit voldoende vir ingewikkelde historiese gebeurtenisse of prosesse nie.

In hierdie dae is dit ʼn halfeeu gelede sedert Mao Zedong die sogenaamde Kulturele Revolusie in China begin het. Die komplekse verklaring daarvoor dawer egter steeds deur die dekades heen en weerklink selfs vandag nog in Suid-Afrika.

Op 16 Mei 1966 het Mao ʼn omsendbrief van die Chinese Kommunistiese Party se Sentrale Komitee goedgekeur. Daarin is onder meer geskryf: “Hierdie verteenwoordigers van die bourgeoisie wat ons party geïnfiltreer het … is eintlik ʼn klomp teen-revolusionêre revisioniste. As die tyd ryp is, sal hulle die mag probeer gryp en die diktatuur van die proletariaat in ʼn diktatuur van die kapitalistiese klas omskep. Ons het sommige van hulle reeds aan die kaak gestel, sommige nie. Ons vertrou sommige van hulle steeds en maak hulle groot as ons opvolgers …”

Op die vergadering waar die omsendbrief goedgekeur is, het Mao se luitenant, Lin Biao, met sy vuis in die lug geskreeu enigiemand wat téén Mao is, “moet doodgemaak word … die hele land moet om hul bloed roep!” Sulke mense is “kinders van hoere en tewe”, volgens Lin (wat, ironies, ʼn paar jaar later, deur Mao vermoor is).

In die weke en maande hierna het honderdduisende entoesiastiese jong mense, meestal tieners wat tot raserny opgesweep is, oor die hele land uitgeswerm en volwassenes, veral onderwysers en dosente, massaal aangerand, gemartel, verneder en vermoor, omdat die “skuldiges” Mao se idees nie suiwer verkondig het nie.

Dis hier waar die ingewikkeldheid van die proses ter sprake kom. Mao, ʼn komplekse mens, het naamlik ingewikkelde motiewe hiervoor gehad.

Enersyds was hy ʼn ideologiese fanatikus, wat totaal blind was vir die beperkings van die praktyk. Hy het opreg geglo as sy ideologie en die weerbarstige praktyk bots, laasgenoemde maar, al is dit met geweld, reggetimmer moet word.

Hy het dit reeds een keer vantevore probeer, met sy Groot Sprong Voorwaarts in die jare vyftig, toe hy China met een klap in ʼn hoogs geïndustrialiseerde staat probeer omskep het. Die gevolg was ʼn hongersnood sonder weerga, waarin ʼn geskatte 40-45 miljoen mense gesterf het.

Juis dié mislukking het sy greep op mag egter verswak, want sy opponente in die partyleiding het dit teen hom gebruik. Om sy mag terug te kry én terselfdertyd sy ideologiese doelwitte teen elke prys deur te druk, het Mao dus die Kulturele Revolusie van stapel gestuur.

Volgens die historikus Frank Dikötter se boek, The Cultural Revolution: A People’s History 1962-1976, wat pas verskyn het, het tot 2 miljoen mense gesterf. Dit was natuurlik net ʼn fraksie van die sterftesyfer in die Groot Sprong Voorwaarts, maar die ramp was nie kleiner nie. Dié keer was dit naamlik die intellektuele wat geteiken is. Dit het onderwys in die breë ʼn knou gegee wat eers dekades later herstel is.

Nou ja, alle mag is verganklik, ook Mao sʼn. Hy is in 1976 dood en sy opvolgers het China in ʼn kapitalistiese diktatuur omgeskep. As Mao nóú sou terugkom, sou hy waarskynlik vol afsku terug na die hiernamaals vlug.

Volgens die amptelike spreekbuis van die Chinese Kommunistiese Party, die Volksdagblad, die naweek, het: “Die geskiedenis gewys die Kulturele Revolusie was totaal verkeerd, sowel in teorie as in die praktyk.” En in die Chinese Engelstalige Global Times is bygevoeg: “Die samelewing verwerp die Kulturele Revolusie heeltemal.”

Dit wys hoe ver China sedert Mao se tyd ontwikkel het. Die land is geen demokrasie nie; trouens, onder die huidige leier, Ji Xinping, is persoonlike vryheid weer ingekort. Maar die kommunisme, as ekonomiese stelsel, is feitlik heeltemal vir die kapitalisme verruil.

Mao se ideologiese blindheid en magswellus was geen uitsondering in die geskiedenis nie. Dieselfde toksiese mengsel van ideologiese fanatisme en magsug was ook teenwoordig by diktators soos Adolf Hitler, Josef Stalin en Fidel Castro. En nader aan ons eie huis, kan dit gesien word by pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, die jonge heer Julius Malema en in ʼn mindere mate pres. Jacob Zuma. (Ofskoon mens die indruk kry ideologie by Zuma is bloot ʼn siniese instrument vir sy eie magsgreep.)

In die naweek het Malema opnuut teen wittes te velde getrek. Sy vroeëre dreigemente dat wit mense se grond sonder vergoeding van hulle afgevat sal word, is nou aangevul met die standpunt dat wittes swartes se water- en elektrisiteitsrekeninge moet betaal en hul huise moet finansier omdat eersgenoemdes deur apartheid bevoordeel is.

Dis moeilik om in Malema se hart te kyk. In welke mate is dit sy ideologiese oortuigings – misplaas dalk, maar opreg – wat daar praat? Of is dit maar net ʼn siniese manipulasie van swartes se gevoelens sodat hy self by die stembus daardeur bevoorbeeld word?

Uiteindelik is dit ʼn interessante vraag, maar op kort termyn dalk nie vreeslik relevant nie. Mao en Mugabe (soos ook Hitler en Stalin) het naamlik gewys hoe rampsoedig dit kan wees om die beperkings van die praktyk te ignoreer in die najaag van jou ideologie.

Mens sou selfs dr. Hendrik Verwoerd tot getuie kon roep, wat gemeen het dis nie werklik nodig om sake soos die ekonomie en demografie in aanmerking te neem by die toepassing van die apartheidsideologie nie.

Verder sien mens tans die rampspoedige uitwerking van die ANC se ideologies-stiksienige rassekwotas, waarvolgens deelname aan alle lewensterreine ooreenkomstig die bevolkingsamestelling moet geskied. Wat in die praktyk eenvoudig neerkom op pure rassisme en omgekeerde apartheid wanneer wittes uitgeskop word en plek vir swartes moet maak.

Selfs sportspanne (behalwe natuurlik vir die Bafana!) word nou deur die rassekwotastelsel ingeneem.

ʼn Mens moet die analogie natuurlik nie te ver voer nie. Mao het miljoene mense ʼn vroegtydige dood laat sterf. Ook Mugabe is verantwoordelik vir enkele tienduisende mense se dood.

Maar as Malema ooit aan bewind kom en sy onbeskaamde rassisme op die samelewing probeer afdwing, sal dit sonder twyfel een van die ergste rampe in die ganse Suid-Afrikaanse geskiedenis afgee. In sulke omstandighede kan òf die bloed vloei òf hongersnood enorme ellende veroorsaak.

Die les is: Met politieke, maatskaplike en ekonomiese oortuigings is niks verkeerd nie; ook nie dat ons nie oor alles saamstem nie. Dis juis gesond. Maar ideologiese fanatisme wat nie rekening met die werklikheid hou nie, is katastrofaal.

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Armando ·

Mnr Leopold Scholtz, sal jy asb. duidelik maak wat jy bedoel as jy sê dat dr Verwoerd die ekonomie en demografie geminag het? (My woorde vir wat jy sê.) Het die ekonomie dan nie in sy tyd floreer nie? En het demografie dan nie die basis van NP-beleid gevorm nie?

Leopold Scholtz ·

Beste Armando, ek behandel die kwessie uitvoerig in my onlangs verskene boek, Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu. Gaan kyk gerus. Dis moeilik om so ‘n ingewikkelde onderwerp in net ‘n paar woorde uiteen te sit.

Theuns ·

Baie geld mors en baie lewens mors is sinoniem vir Zuma. Hy is nie baie goed met syfers nie.Hy was ook mos by moorde betrokke in kamp Quatro in Angola. Of dit nou moord is op sy eie mense of mense met ander oortuiginge is maak nie saak.

Marius ·

Die Afrikaner se eie ideologie van blanke oorheersing oor ander bevolkingsgroepe was self ideologies katastrofies. As die Afrikaner wel 100% suiwer was in sy strewe na selfbeskikking sou hy nie een enkele swart mens saam gebring het met die groot trek nie. Hy sou waar hy grond verower het baie duidelike grense gestel het en daarby gehou het. Die probleem is dat hy die voordeel van goedkoop swart arbeid wou hê en op sy eie voorwaardes die baas wou bly. Hierdie ideologie was opsigself katastrofies, want die swart man sou nie altyd die onderdaan bly nie. Ons probleme het juis begin in ‘n tyd wat baie Afrikaners as hul trotste era sien. Afrikaners het eintlik baie meer kompromieë met ander bevolkingsgroepe aangegaan as wat ons wil erken. Die nasionale party en later Verwoerd het dit nog verder gevat. Goedkoop trekarbeiders uit tuislande wat op die ou einde katastrofiese sosiaal maatskaplike probleme tot gevolg gehad het omdat mans vroue en kinders in twee plekke moes onderhou was maar een van die gevolge. Die haatdraende ANC was maar indirek ‘n produk van rassediskriminasie. Hulle het die simpatie van die Soviet Unie as edel gesien terwyl dit eintlik maar oor dominansie oor die weste in Afrika vir die Russe gegaan het. Ek dink ons moet as Afrikaners meer objektief wees oor ons eie katastrofiese verlede.

John ·

Om wanneer mens in die wildtuin toer, die heeltyd ‘n wilde dier sleg te se, deur te verwys na hoe lelik hy lyk en watter angswekkende geluide hy snags maak, selfs hoe oppertunisties hy is, dien geen doel nie. Dit is hoe hy is en dit is dieselfde by mense. Soos mnr Scholtz se, arrogante leiers se magsspel hou wel die een of ander tyd op. Ons dringende taak is om te fokus op ‘n opvolger vir president Zuma. Deur ‘n goeie kandidaat te identifiseer en positiewe eienskappe uit te wys, kan die openbare mening dalk geswaai word. Drastiese optrede is dikwels fataal. Iemand kan mense soms beter uit die tronk aanvuur (soos Mandela) . Ons sit wel met ‘n probleem dat die huidige ANC-kandidate uiteenlopende groepe beindruk, en veral nie die witmense gerusstel nie. ‘n Vakuum soek dringend suurstof.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.