Wat het die Bybelse mense werklik geëet?

koring.jpg

Argieffoto

Elke nou en dan, tydens Nagmaal, besluit ’n gemeente om ’n regte Bybelse ete te hou. Slegs kos wat die Bybelse mense geken het, word voorgesit. En dikwels is heerlike bruingebakte aartappels heel bo-aan die lys. Maar die Bybelse mense het nie aartappels geken nie, en dit het eers aan die Ou Wêreld bekend geword nadat Columbus ietwat meer as 500 jaar gelede die Nuwe Wêreld ontdek het.

Maar sowat 500 jaar voor Columbus het Vikings Noord-Amerika ontdek en selfs kolonies gestig. Dit het wel nie lank gehou nie, want toe ’n klein ystydperk in Groenland toeslaan, moes die Vikings hul nedersettings ook ontruim. Maar die land wat hulle ontdek het, het hulle Vinland (wynland) genoem, ’n aanduiding dat daar ’n oorvloed druiwe of wilde druiwe moes wees. Toe kolonisasie finaal begin, is geen spore van dié druiwe gevind nie. Die vermoede is dat ’n volop bessie, waarvan ook wyn gemaak kon word, tot die naam aanleiding gegee het.

Maar die Nuwe Wêreld het wel oor druifsoorte beskik, en toe die voortbestaan van druiwe in die Ou Wêreld weens wortelvrot bedreig is, is dit op wortels van Nuwe Wêreldse stokke geënt en is die saak beredder.

Hoewel die Ou Wêreld aarbeie geken het, stam al die aarbeie wat nou aangeplant word af van die kruising van twee Nuwe Wêreldse spesies. Nuwe Wêreldse okkerneute verdring plek-plek ook weens ’n dop wat makliker afgehaal kan word die Ou Wêreld se variëteite.

Selfs ’n onvolledige lysie van Nuwe Wêreldse kos laat dit klink of dit maar broekskeur moes gaan om in Bybelse tye ’n lekker bord kos op die tafel te moes kon sit. Benewens aartappels, kom ook die patat, mielies (in Mexiko uit die teosinte-plant ontwikkel), sekere soorte boontjies, tamaties, pampoen, skorsies, rissies en soetrissies, avokado’s en pynappels uit die Nuwe Wêreld. Selfs die tipiese Egiptiese katoen wat nou in Egipte verbou word, kom oorspronklik uit Peru. Ou Wêreldse spesies kan nie meer daarvoor kers vashou nie. Antieke mense in die Andes het sowat 15 plantspesies met mekaar laat kruis, waaronder die stinkbos, om die aartappel te kweek. ’n Stuk of dertig subspesies is gekweek, maar net een hiervan is vir al die variëteite wat vandag gebruik word, ingespan. Die ander is onder beskermende omstandighede verbou, en een hiervan het onder intensiewe toetsing geblyk geskik te wees vir verbouing op Mars – weliswaar onder beskermende omstandighede.

Ook die kalkoen, wat nou met ʼn Kersete geassosieer word, kom eers heelwat later uit hedendaagse Mexiko waar die Majas ʼn wilde spesie makgemaak het. Die naam “kalkoen” het die dier by die Nederlandse seevaarders gekry, wat die dier die eerste keer in die Indiese stad Kalkutta te siene gekry het. Dit is toe die Kalikoetse hun (hoeder van Kalkutta) genoem.

Dat die Nuwe Wêreld nie koringmeel geken het nie, het beteken dat erg geïmproviseer moes word om ’n broodmeel te maak. Akkers is dan hiervoor gebruik. Van die Amerikaanse spesies eike se akkers het baie minder tiamien as dié van die Ou Wêreld bevat, en is eetbaar vir die mens. Soms is die meel egter met sand gemeng en in water geweek om die tiamien heeltemal uit te haal.

Argieffoto (Pixabay)

In ouer, vertaalde ensiklopedieë word dikwels by herhaling weergegee hoe die inheemse Amerikaners koring verbou het. Dit is egter ’n foutiewe vertaling vir “corn” wat mielies beteken (soos sweet corn wat ons goed ken).

In Bybelse tye was brood egter nie altyd van koring nie. Die minder gegoedes het meestal garsbroodjies, en selfs sorgumbrood (vandag is dele van die Midde-Ooste gewild omdat dit glutenvry is) geëet. Dit is dus heel waarskynlik dat die brood van die seuntjie wat Jesus saam met vissies gebreek het om te vermeerder, garsbrood was.

’n Interessantheid is dat die Jerusalem-artisjok ook uit die Nuwe Wêreld kom, terwyl die gewone artisjok wel aan die Bybelse mense bekend kon gewees het.

In die eerste hoofstuk van Joël kry ons ʼn aanduiding van kos wat die Bybelse mense geken het – soos dadels, gars en selfs die appel, naas die meer bekende wingerd en koring. Pere, uit Brittanje afkomstig, het die Bybelse mens skynbaar nie geken nie.

Hoewel die Bybel verskeie kere na groente verwys, is dit moeilik om ʼn lysie saam te stel, al word groente aangeprys, soos die kos wat Daniël en sy vriende in die paleis wou eet in die plek van die beste wat die koning laat voorsit het. In Numeri word ’n paar genoem wat tydens die Egiptiese ballingskap geëet is soos die ui, knoffel, waatlemoen, komkommer en prei. Uit Rut wil dit voorkom of waatlemoene ook in die heilige land bekend was.

Baie geheime moet nog ontsluit word, maar intussen kan ons dankbaar wees dat die kossoorte van die Ou en Nuwe Wêreld oor en weer bekend gestel is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Nico K ·

Sou die sorghum in Palestina dieselfde wees as die in SA. Ek het nog altyd aanvaar dat sorghum inheems in SA is. En ook die waatlemoen het ek gehoor is inheems in SA. Of sou hulle van die midde ooste suidwaarts geïmmigreer het.

Herman Toerien ·

Hallo Nico K. Die meeste bronne dui aan dat sorgum in Soedan ontwikkel is en van daar suid- en noord-oos versprei het. Intussen was daar aegeologiese uitgrawings in verskeie plekke in Noord-Afrika wat daarop dui dat sorgum nog vroeër gebruik is. Veral ou kaarte dui aan dat die waatlemoen uit SA kom, en dus waarskynlik ook die nefie, die makataan. Ook sekere tipes agurkies kom hiervandaan, maar is sedertdien vervang met ‘n soort uit die Wes-Indiese Eilande, of sommer komkommer wat suur gemaak is.

Hannah ·

ESEGIEL 4 : 9 “Vat koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt, sit dit in ‘n skottel en maak vir jou kos daarvan. Jy moet daarvan eet so lank jy op jou sy lê, drie honderd en negentig dae lank.

John ·

Die ouer mense uit die vroeer tye se tande was glo erg afgekou weens die growwe aard van die gemaalde meel vir broodbak. Die brood was egter meer voedsaam juis as gevolg daarvan. Deesdae gebruik gesondheidsbewustes glo weer van die ouer tipes graansaad, hoewel mens nie seker is of dit nog bestaan nie en met die sluwe ingryping van groepe in gm-produksie kan dit wees dat ons kos ons nou eerder siek as gesond maak.

Nicolaas ·

Interessant. Dit sal nice wees as die skrywer sy bronne kan lys sodat mens die bronne kan nagaan en evalueer om sodoende ‘n mening te kan vorm oor die betroubaarheid en akkuraatheid van die inhoud vd artikel. Dit sal bv interessant wees om die bron/ne na te gaan oor waar die aartappel vandaan kom; dit lyk al of die antieke mense doelbewus plante gaan kruis het om daarby uit te kom; mens wonder maar daaroor. Daar is ook ander gewasse en groente wat in die Bybel genoem word, wat mens wonder of dit moderne begrippe is wat die Bybel vertalers daaraan toegedig het (dis tog seker name wat nie daardie tyd bestaan het nie) en hoe hulle geweet het dis daardie spesifieke gewasse soos ons dit vandag ken; die bron/ne van die inligting sal seker meer lig werp op hoe betroubaar en akkuraat dit is. Mens sal graag wil ‘triangulate’ en sien of daar verskillende bronne is wat dieselfde storie vertel om dit geloofwaardig te maak

Herman Toerien ·

Hallo Nicolaas. Dit kom uit ‘n boekie v so 40 pp wat ek saamgestel het toe die susters ‘n resepteboekie wou begin. Baie was toe reeds algemene kennis, maar ek het info gesoek deur trefwoorde in NetBible te voer. Verder is die internet gebruik.

Koos1 ·

Appels is baie ouer. Eva het dan vir Adam een gegee!!! Net ‘n grappie!

Iets wat vir my baie interesanter is, is dit feit dat met alle kosse daar iemand eerste moes wees om die moed te hê om dit te probeer eet. Dink net aan slakke, daar moes iemand wees wat besluit het “ek sal dit probeer”! Of hoender eiers?!!

Nicolaas ·

Herman, dankie vir jou kommentaar. Dit maak die inhoud vd artikel nie noodwendig onakkuraat nie, maar soos dit staan is dit nie betroubaar in die wetenskaplike navorsingsin van die woord nie. Baie vd goed het nie binne my algemene kennis geval nie en mens kry mos maar baie snert op die internet. Net ‘n kort bronnelys aan die einde van so ‘n artikel kan baie help om die betroubaarheid vd bronne vinnig te evalueer, en dus die artikel. Nogtans en nogmaals, dankie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.