Wat het ons geleer uit 2020? Spaar!

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaanse verbruikers het verlede jaar baie lesse geleer en een van die belangrikste lesse was dat spaargeld handig te pas kom in ’n krisis soos die pandemie. Baie mense moes met ’n verminderde salaris regkom terwyl baie ook hul werk verloor het. Die banke en ander kredietverskaffers se betalingsvakansies is verby en nou moet jy uithaal en wys. Selfs al spaar jy ’n klein bietjie hier en ’n klein bietjie daar, sal jy die vrugte pluk. Ina Opperman gee raad hoe om te spaar.

Saam met die nodigheid vir spaargeld vir ’n krisis, het verbruikers ook in 2020 geleer dat dit belangrik is om binne jou vermoë te leef. Hoe doen mens dit? Stel ’n begroting op en hou daarby sodat jy kan seker wees hoeveel geld jy het om op daaglikse uitgawes te bestee en te spaar vir ’n krisis.

Die lewe sonder ’n begroting

As jy sonder ’n begroting deur die lewe gaan, weet jy nooit of jy nog geld in die bank het of nie. As jy dus geld nodig het in ’n krisis, het jy geen spaargeld om te gebruik nie en beland jy in ’n skuldspiraal waaruit jy waarskynlik nooit sal ontsnap nie.

Waarheen verdwyn jou geld?

Dit is belangrik om te bepaal waarheen jou geld verdwyn voordat jy jou begroting opstel. Kyk na die afgelope paar maande se bankstate en inkopielyste en kyk hoeveel jy bestee aan luukshede soos wegneemetes.

Stel jou begroting só op

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Gebruik jou lys van uitgawes om ’n begroting op te stel en te sien watter uitgawes jy kan verminder. Skryf jou begroting neer in ’n boek wat vir die hele gesin beskikbaar is, want ’n stukkie papier raak maklik weg. Of doen dit op die nuwe manier en deel dit op die gesin se selfoongroep.

Begin deur al jou grootste en noodsaaklike uitgawes, soos verblyf, vervoer, water en elektrisiteit, selfone, internettoegang, versekering, skuld, spaargeld, skoolgeld, kruideniersware, klere en salaris vir jou huishulp in die kolom aan die linkerkant neer te skryf. Eers daarna kan jy luukshede, soos wegneemetes en ander bederfies bysit – as jy dit kan bekostig.

Daarna skryf jy jou inkomste neer in die kolom aan die regterkant. Nou moet jy elke maand sorg dat jou uitgawes nie meer as jou inkomste is nie.

Totsiens skuld!

krediet-kredietkaarte-geld-bank

(Foto: Stevepb/pixabay)

Baie verbruikers het aan die einde van ’n jaar Nuwejaarsvoornemens om van hul skuld ontslae te raak, maar min kry dit reg. Een ding waaroor finansiële raadgewers saamstem, is dat jy moet skuld maak om duur goed soos ’n huis of motor te koop. Met slim beplanning kan jy egter ook hierdie skuld vinniger verminder en van al jou ander skuld ontslae raak:

  • Doen inkopies sonder jou kredietkaart.
  • Gebruik net jou debietkaart om te verseker jy koop nie op skuld nie
  • Moenie toelaat dat iemand jou verlei met aanbiedings om nog skuld te maak nie
  • As jy elke maand ’n bietjie meer aan skuld op jou huislening en motorlening betaal, sal jy dit gouer afbetaal en dus spaar op rente
  • Spaar maandeliks ’n bedrag vir moeilike tye soos nou.

Soek na winskopies

Mens spaar nie net geld op inkopies by ’n supermark of klerewinkel nie, maar ook op versekering, bankkoste en selfoonkoste. As jy byvoorbeeld net R100 op jou motorversekering spaar elke maand, spaar jy R1 200 in ’n jaar se tyd.

By die huis

(Argieffoto: pixabay)

Aangesien ons almal meer tuis is deesdae, is dit belangrik om te sorg dat jy:

  • Minder elektrisiteit gebruik deur byvoorbeeld ’n tydskakelaar op jou geiser in te sit. Sit ook die ligte en televisie af as niemand in die kamer is nie en gebruik gloeilampies wat minder krag gebruik. Was wasgoed in koue water en probeer om nie die tuimeldroër te gebruik nie. Maak seker jy koop nuwe toestelle wat minder krag gebruik.
  • Minder water gebruik deur lekkende krane te herstel, grys water vir die tuin te gebruik en net vir twee minute te stort.
  • Minder geld bestee aan dinge soos satelliettelevisie deur ’n goedkoper pakket te kies of stromingsdienste te gebruik.
  • Jou huis en tuin in stand hou sodat jy nie groot bedrae op herstelwerk hoef uit te gee nie.

Finansiële dienste

  • Vergelyk bankkostes en kies die bekostigbaarste opsie.
  • Betaal ’n bykomende bedrag op jou huislening maandeliks om te spaar op rente.
  • Bly weg van onnodige krediet. Betaal liewer kontant vir kruideniersware en span jou spaargeld in om ander duur goed te koop.
  • Gebruik jou kredietkaart slim deur seker te maak dat jy die balans elke maand betyds betaal om rente te vermy. Jou kredietkaart is die duurste skuld wat jy het.
  • Onderhandel met jou versekeraar vir laer premies.

Spaar op selfone

  • Wanneer jou selfoonkontrak verstryk, koop ’n goedkoper selfoon en betaal kontant daarvoor.
  • Beplan oproepe om jou gratis minute te gebruik.
  • Gaan jou selfoonrekening na en kanselleer onnodige dienste wat die koste opjaag.

Spaar op jou motor

  • Laat jou motor gereeld versien om te verseker dit gebruik nie te veel brandstof nie en om groot, duur probleme te voorkom.
  • Laat gereeld die olie, water en banddruk nagaan.
  • Jou motor sal ook minder brandstof gebruik as die bande reg opgepomp is en gereeld vervang word.
  • Beplan jou ritte om seker te maak jy ry nie onnodig op en af nie.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Spaar by die winkel

  • Maak ’n lysie en eet voordat jy gaan inkopies doen.
  • Vergelyk pryse om te sien waar jy kan spaar.
  • Wees op die uitkyk vir winskopies, maar moenie liters duur brandstof uitry om ’n paar sent te spaar nie.
  • Moenie afwyk van jou lysie nie.
  • Lees die eenheidsprys op die rakke by kleinhandelaars en kyk watter grootte kos die minste per 100 gram of 100 milliliter.
  • Gebruik afslagkoepons.
  • Probeer om liewer vars produkte te koop wat vrygestel is van BTW.
  • Koop duur klere aan die einde van die seisoen op uitverkopings.
  • As jy iets duurs wil koop, stel dit vir ’n paar dae uit en dink eers of jy regtig soveel geld wil uitgee.

Spaar by die skool

  • Koop generiese skoolklere (soos wit hemde, grys broeke en skoolskoene) by goedkoper winkels en nie die winkel wat deur die skool aangewys is nie.
  • Koop duur skoolklere, soos baadjies, by die skool se tweedehandse winkel.
  • Stel vas of die skool ’n tweedehandse boekwinkel het en koop daar.
  • Probeer om die skoolfonds vooruit te betaal vir die jaar, want jy kry gewoonlik afslag.

Spaar by die werk

  • Vat liewer eetgoed van die huis af werk toe.
  • Drink liewer kraanwater as om gebottelde water te koop.

(Foto: Unsplash)

Spaar met vermaak

  • Kies ’n goedkoper TV-pakket.
  • Besoek die biblioteek of ’n tweedehandse boekwinkel.
  • Doen lekker dinge saam met die gesin, soos piekniek hou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.