Wat is fout met die wêreld?

Deur DC Coetsee

Argieffoto (Foto: Kazuend/Unsplash)

Briewekolomme, kommentators en gewone mense – ongeveer almal in die sogenaamde Christelik-Westerse wêreld kla oor die verval van waardes, norme, standaarde, veiligheid en algemene vrede en welsyn van mense.

In die magtigste Westerse land, die VSA, is twee kandidate in stryd om die presidentskap – maar selfs net 20 jaar gelede sou geeneen van hulle ʼn kans gehad het om vir miskien die magtigste pos in die wêreld in aanmerking te kom nie.

In ons eie land heers verval en chaos terwyl die president in ʼn staatsrede-toespraak die grootste deel van die bevolking probeer saamsleep om te bly glo in “die goeie storie” van die ANC-regering – voorafgegaan deur ʼn goedkoop vertoning van amptelike en persoonlike blinkparades.

In die belangrikste “nie-Christelike” lande soos China, Indië, Rusland, Japan en Suid-Korea gaan die lewe meestal voort soos gewoonlik. Wat wel nuut is, is die verbasende ekonomiese ontwikkelinge en verhoogde lewenstandaarde – wat die gevolg is van goeie onderwys en aanvaarding van die tipies Westerse maatstaf van bekwaamheid op elke gebied as ononderhandelbare voorwaarde vir opwaartse vordering. Tog, veral in Japan, is daar gevaartekens soos toenemende tienerselfmoorde – die hoogste in die wêreld.

Wat is die verklaring?

Sewentig jaar gelede het Francis Schaeffer hierdie verval en chaos voorspel omdat die “pilare” en “fondamente” waarop die brug van die Christelik-Westerse beskawing rus, besig is om ondergrawe te word – soos in 2019 oortuigend deur Tom Holland aangetoon in sy magistrale werk Dominion en daarna suksesvol verdedig in talle debatte.

Oor daardie brug is die uitvindings, waardes, praktyke en metodes van die Koninkryk van God wêreldwyd tot welsyn van die mensdom oorgedra.

Hierdie “suksesverhaal” is besig om te verkrummel weens twee redes.

Eerstens. Om daardie “verhaal” te benut, uit te bou en bestendig word vereis dat mense se harte, verstand en lewenswyse “vernuwe” word deurdat die “begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes ” (Efesiërs 2:3) vervang word met “die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee” (Romeine 8:2).

Dit word genoem wedergeboorte “waarsonder niemand die koninkryk van God kan sien nie” (Johannes 3:3).

Dus, deurdat die wêreld nie radikaal reg leer dink is nie (in die sin van Romeine 12:1,2) is die gewaad van die Christelik-Westerse kultuur uitwendig aangetrek vir die voordele – maar die fondament waarop hierdie kultuur gebou is, was die “sand” van gerief, welvaart en welsyn in plaas van die “rots” van “soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 7:22-24; 6:33).

Tweedens. Sekularisme (oorspronklik ontgoddeliking van die natuur) het ontwikkel in ʼn stroming wat ten doel het om die alternatiewe kultuur te word en die Christelik-Westerse kultuur te vervang. Dit is in sy verskillende gedaantes, soos woke, LGBTQ+ en kritiese teorieë, in sy verskillende vorme deur sosiale media en byna die hele kommunikasiebedryf en opvoedingstelsels aan die jeug oorgedra.

Wat is dus verkeerd met die wêreld? Die antwoord is in Romeine 1:18-32: Die arrogante mens het God nie geëer of gedank nie, maar dwaas geword en die waarheid van God verruil vir hul eie god, hulself, en so het dit gekom dat die ware God hulle oorgegee het aan hul eie begeertes.

Net ware Christene kan dus verstaan wat verkeerd is met die wêreld – en het ook die oplossing: “Daarom, terwyl ons ʼn onwankelbare koninkryk ontvang het, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ʼn welgevalle wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad ʼn verterende vuur” (Hebreërs 12:28,29).

Daardie werklike sekerheid en hoop moet Christene verkondig aan ʼn verslae en chaotiese wêreld.

  • DC Coetsee is ʼn boorling van die Kalahari. Hy het vir 40 jaar lank as sendeling gewerk en is deesdae besig met Bybelse berading en opleiding. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

annie ·

Rusland is nie meer kommunisties geöriënteer nie. Wat van die vrome EU en Duitsland waar kerke toemaak soos winkels wat bankrot speel? Ons predikante kruip weg agter vreemde gedrag en keur Goddelose waardes goed. Wie gan die Woord verkondig; die enigste reddingsboei?

De Bok ·

Jy is heeltemal DC.

Net een “nitpick:” Ek sou Suid Korea nie insluit by die “nie-Christelike” lande nie. Die Presbiteriaanse kerk was op ‘n punt baie groot in Suid Korea. Dit is dieselfde kerkverband waaraan die ene Francis Schaeffer behoort het.

Wat in Suid Korea gebeur is in lyn met die res van die westerese wereld: Ontkerstening -> Morele verval -> Sosiale verval

Pieter ·

Sekularisme is ongelooflik belangrik. Dit keer dat mense stry oor hoeveel geld die regering moet spandeer aan katolieke skole, hoeveel hulle moet gee vir protestantse skole. Moet parlement geopen word met ‘n gebed wat die drie eenheid noem of gaan dit dalk Christine met ‘n ander interpretasie kwaad maak.

Ek probeer werklik hier respekvol wees, ons bly in ‘n land met baie verskillende maniere van kyk na die wereld. Kom ons hou iets soos geloof baie ver uit die regering, en projekte befonds deur die regering. Wil jy ‘n Christen privaatskool open, daarmee het ek geen probleem nie. Wil jy dit doen in ‘n staatskool dan gaan ek ‘n probleem hê.

En anders as wat hier op die debat afdeling daagliks geplaas word is daar niks fout met die weste nie. Ek bly nou al ‘n ruk in Nederland en lewe hier is beter as wat dit ooit was.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Russies Ortodokse Kerk staan nog sterk in Rusland. In Wes en Sentraal Europa is ongelowiges/agnoste/atheïste/spiritueles nou die meerderheid.

Pieter ·

@Republikein in die Wes Kaap En dis presies my punt. Die kerk daar het deel van die politiek geword (Is dit wat jy dink goed is?). Hier in Nederland is die meerderheid nie Christine nie maar dit is baie veilig en mense is net so vriendelik as nie meer nie as Suid Afrika. Daar is geen verband tussen hoe sterk die kerk is en hoe goed dit met die land gaan nie.

OW ·

@Rep in die Wes Kaap.Pieter is heeltemal reg.Die Ateïste,Teïste,Deïste en Agnostisiste kom wêreldwyd voor en bepaal nie hoe goed of hoe sleg dit in ‘n land gaan nie.Jesus Christus het juis gekom vir die Teologie en nie vir die politiek nie.

De Bok ·

@Pieter. Sekularisme is maar net nog ‘n manier om na die wereld te kyk. En hoekom is dit die regte een? Al jou argumente kan net so omgedraai word: “Wil jy ‘n Sekulere privaatskool open, daarmee het ek geen probleem nie. Wil jy dit doen in ‘n staatskool dan gaan ek ‘n probleem hê.” Siedaar!

En jou argument dat Ndl nie Chrsitelik is nie, maar tog veilig en vriendelik is, dra nie water nie. Ndl was tot onlangs toe nog super Gereformeerd, hulle kultuur bly deurtrek van die Gereformeerde idees, waardes, en invloed. Die wiele van hierdie tipe ding draai stadig. Die huidige invloedrykes in Ndl is grootgemaak deur Gereformeerdes, hoe gaan hulle kinders optree? En hulle kinders se kinders?

Pieter ·

@De Bok Want ek betaal ook belasting. Gebruik jou geld vir jou geloof. Gebruik die regering se geld vir dinge wat ons almal help. Dis die verskil.

Elmarie ·

1 Johannes 5:19(b) “…..maar die hele wêreld is in die mag van die Duiwel.”

OW ·

Heeltemal reg Elmarie.Die wat nog uit die vlees gebore is,is in die mag van satan.Die wat uit die Heilige Gees gebore is,is vry en hoef nie bekommerd te wees nie.

De Bok ·

@Pieter ek betaal ook belasting, gebruik jou eie geld vir jou humanistiese wereldbeeld. My geloof sal almal help, moet ons die regering se geld dus gebruik om dit te bevorder?

Trouens, ek sou minder belasting wou betaal aan die regering, sodat dit makliker sal wees vir my om die Christelike skool op te rig.

Pieter ·

@De Bok. In teorie behoort dinge wat gebou word met gemeenskaplike geld gebruik word vir dinge wat almal kan gebruik. As jy ‘n Christelike skool bou en daar is mense wat nie Christene is nie wat dit bywoon skep dit onnodige probleme.

As iets soos ‘n skool sekulêr is beteken dit nie dat die skool almal Atheiste maak nie dit beteken slegs dat een geloof nie bo ‘n ander geloof bevoordeel word nie. Aangesien geloof geen kind gaan help om wiskunde beter te doen nie stel ek voor jy lei jou kinders self op in die geloof van jou keuse en los my kinders daaruit. Ek dink daar staan selfs iets in die Bybel wat se dat jy nie jou geloof in die openbaar moet verkondig om te wys hoe goed jy is nie.

En jou geloof is nie noodwendig goed vir almal nie, om vir ‘n 7 jarige kind te se hulle gaan hel toe is nie goed vir daardie kind se ontwikkeling nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.