Wenke oor woonstelhuur vir studente

Argieffoto: Pixabay.com

Die jaar lê op sy rug en oor ʼn paar weke moet studente by universiteite en kolleges aanmeld om hul studies te begin of voort te sit. Aangesien verblyf in koshuise deesdae so skaars is, moet baie studente ʼn woonstel huur. Woonstelhuur kan egter vol slaggate wees as jy nie ligloop nie. Ina Opperman gee wenke om seker te maak woonstelhuur vir ʼn student loop goed af.

  • Gee voorkeur aan blyplekke wat deur die universiteit aanbeveel word, want hierdie plekke se huur is gewoonlik bekostigbaar, en net blyplekke wat geskik is vir studenteverblyf word aanbeveel.
  • Gaan kyk egter na ʼn paar plekke voordat jy besluit sodat jy kan sien watter plek die beste waarde vir geld gaan bied.
  • Dit is belangrik om ʼn plek te kies waar die student veilig sal wees. Kyk of daar diefwering by die vensters en deure is en indien daar ʼn alarm is, stel vas of dit gekoppel is aan ʼn sekuriteitsmaatskappy.
  • Dit is beter om ʼn plek te kies wat naby aan die kampus of openbare vervoer is. Dit sal dit ook makliker maak vir die student om byvoorbeeld saans die biblioteek te besoek.
  • Die plek moet die student ook die geleentheid bied om met ander studente te meng en te kuier.
  • Stel vas of die blyplek gemeubileer is en of die meubels ʼn lessenaar, goeie stoel en boekrakke insluit.
  • Maak seker of Wifi beskikbaar is en hoeveel dit maandeliks kos.
  • As die student ʼn motor het, moet daar toesluitgeriewe wees. (Onthou ook om jou versekeraar te laat weet as die motor nou elders gehou word.)
  • Inspekteer die plek voordat die student intrek en maak ʼn lysie van dinge wat reggemaak moet word. Vra die eienaar om te teken dat die lysie ontvang is. Hou ʼn afskrif van die lys as verwysing wanneer die plek weer nagegaan word voordat die student uittrek.

Student se verpligtinge

  • Betaal jou huur betyds elke maand.
  • Hou die plek netjies en moenie dit beskadig nie.
  • Moenie ander huurders inneem sonder die eienaar se toestemming nie.

Eienaar se verpligtinge

  • Maak seker die plek is reg om in te bly.
  • Hou die plek in stand volgens die huurkontrak.
  • Verskaf alle dienste wat in die kontrak bepaal word.
  • Laat die huurder weet as die plek ʼn nuwe eienaar kry.
  • Moenie diskrimineer teen huurders nie.
  • Die student se huurkontrak kan net opgeskort word deur ʼn hofbevel.
  • Gee die student ten minste twee maande kennis indien die huur verhoog word.
  • Verskaf ʼn kwitansie wanneer die deposito betaal is. Dit moet die naam en besonderhede van die huurder en die eienaar bevat, sowel as die naam en handtekening van die persoon wat die betaling ontvang, die plek se adres en die bedrag.

Kommuneverblyf

Studenteverblyf in ʼn kommune is ook ʼn goeie manier om te bespaar op huur en indien die student nie ʼn kamer hoef te deel nie, sal daar genoeg privaatheid wees. Dit is egter belangrik om seker te maak hoe die kommune bestuur word. Wie teken die kontrak, wie is in beheer van die betaling van huur en wat word gedoen as een van die studente nie betaal nie? Wie is verantwoordelik daarvoor om die leefgedeelte skoon te hou? Is daar reëls oor kuiermense en geraas?

Tuisverblyf

Studente kan ook kies om by hul ouers te bly terwyl hulle studeer. Die voordele is jou eie kamer by jou eie gesin, besparings op dinge soos kruideniersware en huur, maar tensy die ouerhuis naby die universiteit is, sal daar uiteraard beperkings wees op deelname aan studentelewe.

Kla hier

Studente en verhuurders van studenteverblyf kan kla by die verskillende provinsies se huurtribunale. Kla in die provinsie waar die verblyf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.