Wêrelddag vir kulturele diversiteit gevier

Betjies Rieldansers (ATKV-oesfees, Januarie 2017) Foto: Verskaf

Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit word Sondag in Suid-Afrika en baie ander lande gevier.

Suid-Afrika, as buitengewone heterogene land, sou op die oog af besonder toegerus wees om kulturele diversiteit te vier. Die Grondwet maak immers vir elf amptelike tale voorsiening en dat ook ander inheemse tale soos die Khoisan-tale spesiale beskerming geniet.

Benewens die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) is daar nog ’n grondwetlike liggaam wat na die belange van diversiteit moet omsien, naamlik die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Taal-, Godsdiens, en Kultuurgemeenskappe (CRL). Suid-Afrika het ook verskeie internasionale verdrae onderteken en geratifiseer wat byvoorbeeld kwotastelsels verbied, en ’n sonsondergangsklousule vir regstellende aksie vereis.

Maar waar is hierdie land, Utopia? Want Suid-Afrika is dit nie.

In dié stadium veg Solidariteit en AfriForum in die howe oor universiteite wat onder die gehawende vyeblaar van die bevordering van meertaligheid, Afrikaans uitfaseer. Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap het Afrikaans as een van sy amptelike talle laat vaar, en Sepedi en isiZulu in die plek daarvan ingevoer, terwyl Afrikaans die enigste Afrikataal met ’n ruimte-woordeboek is.

Die president en sy kornuite raak-raak gereeld aan haatspraak in hul woordestryd teen blankes. In die proses word die Afrikaner as kulturele entiteit heeltemal van sy kulturele onderbou gestroop, en in die proses van sy volkeregtelike regte beroof.

Uit mediaberigte wil dit voorkom of die tyd toe die Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit hoofsaaklik gevier is deur byeenkomste waar verskillende kulture iets tradisioneel met die ander kom deel het, nou in onguns begin verval. ’n Groepie wat die riel dans dat die stowwe staan, ’n paar volkspeledansers, en ’n myn of twee se gumboot-dansers doen net nie meer die ding nie. Die beleefde handeklap by die hoë gaste kompenseer eenvoudig nie daarvoor dat die betrokke kulture die volgende dag weer die skyf van aanvalle en allerlei vorme van diskriminasie is nie.

Dit beteken nie dat diegene wat aan sulke byeenkomste wil deelneem of bloot wil bywoon, dit nie moet doen nie. Solank besef moet word dat taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe meer regte het as net die taal-, godsdiens en kultuurregte. En juis daarom is dit so hartseer dat die howe ter wille van byvoorbeeld taalregte opgesoek moet word – en dit skynbaar sonder ’n gewaarborgde gunstige uitkoms.

Dit is skreiend dat die Afrikaner knaend by politici moet hoor dat hulle eintlik vreemdelinge, of besoekers, aan die land is. Hulle moet in hul spoor trap, aldus die EFF se leier, Julius Malema.

Juis omdat die Afrikaner sy kulturele erfenis koester – en daardeur inhoud gee aan Unesco se viering van kulturele diversiteit. Dit is tyd dat Unesco en ander internasionale liggame objektief kyk na hoe die Suid-Afrikaanse regering mooi doelwitte ondermyn. Unesco en ander moet kennis van die dokumentasie wat Solidariteit met bewyse aan VN-liggame voorsien. Die Suid-Afrikaanse regering wat sy eie reëls maak wat teen internasionale norme indruis is ’n bespotting van mooi ideale.

Want so kan dit nie aangaan en ’n volk gestraf word wat die regte ding probeer doen nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Internasionale tande ·

Internasionale liggame moet begin regte tande kry om regerings wat ander onderdruk werklik vas te vat. Maar nee hulle praat net en absorbeer geld terwyl diktators floreer want hulle word toegelaat om te floreer.

Leendert ·

Wanneer laas het ons Afrikaanse volkspeledrag gesien?

Wie van julle weet nog hoe dit lyk?

Wie het dit al self gedoen?

Dit lyk my as mens dit wil sien moet jy dit gaan Google.

Leendert ·

En ons noem ons Afrikaners, terwyl hier net 25 mense gelees het, maar hulle BRUL OOR DIE SPUR!!!!!!!!!!

Ek stem Leendert ·

Ja hoor, wanneer laas het jy iets van die AFRIKANER gesien, soos jy hierbo genoem het, byvoorbeeld VOLKSPELE? Afrikaans, wit en Kultuur van die Blankes word onderdruk en ondermyn. Oral waar daar altyd Afrikaanse byeenkomste was en Voortrekker samekomste moes dit geinfiltreer geword het met anderstaliges en anderskleuriges, so WAT het die AFRIKANER nog wat deel is van sy kultuur wat hy nog mag beoefen? Die ou VLAG is ‘sonde’, die stem is Krimineel, die Volkspele is VERKRAMP, enigiets wat met die ou Afrikaner iets te doen het is RASSISTIES< so wat van die Blanke kultuur was hier te siene? KOEKSISTERS?? En die ERGSTE Is dit kom vanuit WIT geledere self, buiten die dooddruk van regeringskant, en klagtes van ander kulture wat steeds hulle kultuur beoefen al gaan hoeveel seuns 'n jaar dood aan onhigieniese besnyding, is dit die BLANKE self wat te skaam is om sy kultuur uit te leef. Waar is die boeresport dae en pannekoek en koeksister stalletjies? Alles geinfiltreer en oorgeneem deur die NUWE KULTUUR!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.