Wêreldomgewingsdag: Bewaring van biodiversiteit te midde van pandemie

Die Vredefort-koepel. (Foto: Wikipedia)

“In die 40 jaar waarin die VN se omgewingsprogram en ondersteuners van reg oor die wêreld hulle vir ’n gesonde omgewing beywer het, van die opruiming van strande tot reuse-boomplantprojekte tot optogte skouer aan skouer met regerings in belang van ons planeet, kan ons vanjaar nie na die strande, woude en strate gaan nie. Ons moet tuis bly, afstand handhaaf en Wêreldomgewingsdag virtueel vier – in solidariteit met diegene wat onder die wêreldpandemie van Covid-19 gebuk gaan.”

Só het Inger Andersen, ondersekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) en uitvoerende direkteur van die VN se omgewingsprogram, Vrydag gesê ter viering van Wêreldomgewingsdag. Vanjaar se tema is “Vier biodiversiteit”.

“Ons moet siekes, armes en kwesbares beskerm teen die ergste verwoesting van hierdie siekte. Hoewel hierdie aanlyn vieringe ʼn huldeblyk is aan menslike toewyding en vindingrykheid, beteken die feit dat ons dit op hierdie manier moet doen dat iets verkeerd is met die mens se bestuur van die aarde. Hierdie virus is nie maar net teëspoed of ʼn eenmalige gebeurtenis wat niemand kon voorsien het nie. Dit is ʼn heeltemal voorspelbare gevolg van die vernietiging deur die mensdom – wat veel groter lyding sal veroorsaak as dié vernietiging nie gekeer word nie.

Die ingangshek na Mapungubwe (Argieffoto.)

Die mensdom se ongesonde verhouding met die natuur blyk uit die volgende:

  • Sowat 75% van die aarde se ysvrye oppervlak is besig om dramaties te verander.
  • Sedert 1990 is 420 miljoen hektaar bos, gelykstaande aan drie keer die grootte van Suid-Afrika, vernietig.
  • Bykans een miljoen spesies word deur uitwissing bedreig, terwyl die onwettige handel in wilde diere die vierde grootste onwettige handelsmisdaad ter wêreld is.

Andersen meen die Covid-19-virus, wat van diere na mense oorgedra is, is ʼn direkte waarskuwing dat die natuur nie verder die las of skade kan hanteer nie.

Aangesien ekostelsels en biodiversiteit weens stede, landbou, infrastruktuur, klimaatsverandering en besoedeling minder word, verminder die natuur se vermoë om voedsel, suurstof, skoon water en klimaatsregulering te voorsien. Dit beïnvloed menslike gesondheid en welvaart regstreeks.

Intussen het die klimaatnood nie verdwyn nie. Koolstofdioksiedvlakke in die atmosfeer het vroeg in Mei ʼn hoogtepunt bereik. Die Wêreld Meteorologiese Organisasie het in April gesê dat die temperatuur tot soveel as 1,1 grade hoër as tydens die pre-industriële vlakke gestyg het. Ons sien die gevolge soos bosbrande, versuurde oseane en swerms sprinkane wat miljoene mense in Oos-Afrika tot hongersnood kan dryf.

Daar is egter bewyse dat die natuur steeds kan floreer mits ons die natuur die geleentheid bied. Tydens die tyd van inperking het mense die natuurlewe sien terugkruip– van pikkewyne wat in die strate van Kaapstad dwaal tot kangaroes wat deur Adelaide hop. Dit gee ons ʼn blik op hoeveel beter die lewenskwaliteit van die mensdom kan wees as ons in harmonie met die natuur leef. (Lees die volledige toespraak hier).

Colombia, een van die lande met die grootste biodiversiteit, het die amptelike viering van Wêreldomgewingsdag vanjaar aangebied en is deur Duitsland bygestaan.

Die VN het die dag in 1972 in die lewe geroep, en die eerste viering het in 1974 plaasgevind. Die tema destyds was “Net een aarde”.

Die iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal. (Foto: Facebook)

Fokus op Suid-Afrika se biodiversiteit

Veral twee Wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika is gereeld in die nuus, en wel om die verkeerde redes. Die Vredefort-koepelgebied rondom Parys toon te min vordering om aan die vereistes van die VN te voldoen, en dit wat wel gedoen word, word verbrou en verwaarloos. Die Mapungubwe– kulturele erfenisgebied word weer bedreig deur leemtes in Suid-Afrikaanse wetgewing oor die toestaan van mynlisensies en die moontlikheid dat buitelandse steenkoolmaatskappye steenkool-mynregte in sensitiewe gebiede kan verkry.

Suid-Afrika spog met talle verklaarde gebiede:

Suid-Afrika se unieke stelsel van beskermde gebiede beslaan sowat 5,5% van die land se oppervlak en sluit ses wêrelderfenisgebiede en vier biosfeerreservate in.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.